Stellenbosh Universiteit vs. Rapport

Bevinding deur die Persombudsman

23 September, 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Mohamed Shaikh, Senior Direkteur van Kommunikasie en Skakeling aan Stellenbosch Universiteit (US), en mnr. Willem de Klerk, vir Rapport.

KLAG

Die US kla oor ‘n hoof-storie op bladsy 4 getiteld US kry nuwe geldbaas – Oë rek oor rektor se pos verklein word en ‘n viserektor wat ‘uitgeskuif’ is. Die berig is op 30 Junie 2013 in Rapport gepubliseer.

Shaikh kla dat die verslaggewer:

  • nie die feite met die US geverifieer het nie;
  • om bogenoemde rede verskeie feitefoute in die storie gemaak, die US se reaksie op die navrae  verdraai en wesenlike feite verswyg het; en
  • onverwante sake met mekaar verbind het.

Hy kom tot die gevolgtrekking dat die joernalis die berig met kwade bedoelings geskryf het, en dat die beriggewing onnodiglik die US onder verdenking geplaas het.

Die US kla ook dat die opskrif verkeerd was.

ONTLEDING

Die storie

Die storie het gerapporteer dat die US ingrypende veranderinge gemaak het aan die manier waarop die universiteit voortaan bestuur sou word – die belangrikste hiervan was volgens die storie dat die kontrak van prof. Julian Smith, Viserektor van Gemeenskapsdienste en Personeel, nie hernu gaan word nie. Hy was glo ook in die spervuur oor sy aandeel in die ineenstorting van Stellenbosch se sportprestasie-instituut (Suspi), nadat hy na bewering vir me. Gugu Ntuli as hoof aangestel het sonder om die korrekte prosedure te volg.

 

Nog ‘n ingrypende verandering was na berig word dat die rektor, prof. Russel Botman, sy pligte as die universiteit se bedryfshoof sou afstaan aan prof. Leopold van Huyssteen en voortaan net die akademiese hoof van dié instelling sou wees. Die joernalis skryf dat in akademiese kringe bespiegel is dat Botman se rol verminder sou word tot seremoniële hoof “wat net linte knip en babas soen”. Sy haal ook bronne aan wat hiermee verskil.

Die klag

Geen verifikasie

Die US kla dat die verslaggewer nie die inligting geverifieer het nie omdat die joernalis nagelaat het om:

  • die US om kommentaar te nader wat betref die hooftema van die berig (naamlik veranderinge in die bestuur van die universiteit) – die joernalis het hoofsaaklik gesteun op die menings van derde partye wat nie geïdentifiseer wou word nie;
  • vorige mediaverklarings van die US oor aspekte in die berig in ag te neem; en
  • relevante statutêre voorskrifte na te gaan.

Shaik verwys na ‘n epos van die verslaggewer op 26 Junie vanjaar waarin spesifiek gefokus is op Smith se diensbetrekking met die US – maar sê dat die joernalis niks gevra het oor die veranderings aan die universiteit se bestuurstruktuur nie. “[Die verslaggewer] het dus glad nie getoets of die inligting…korrek is nie.”

(Hy verduidelik nie na watter “statutêre voorskrifte” hy verwys nie.)

Die koerant voer aan dat dit nie nodig was “om die US te nader vir kommentaar op die kommentaar van bronne oor die US se kommentaar oor bestuursveranderinge” nie. Die storie het die skeiding van die poste gerapporteer en die US se verklaring daaroor aangehaal (gevolg deur kommentaar). “Niks meer was nodig nie.”

Ek trek die storie eers nader: Die joernalis het begin deur te sê dat daar “ingrypende veranderinge” gemaak is aan die manier waarop die US bestuur gaan word. Die belangrikste van hierdie veranderinge is volgens die berig dat Smith se kontrak nie hernu gaan word nie. Laer af in die berig skryf die verslaggewer oor die delegering van sommige van Botman se pligte aan Van Huyssteen.

Dit is duidelik dat die hele berig gaan oor veranderinge wat aan die US se bestuur aangebring is – een daarvan was die beëindiging van ‘n bestaande pos, en die ander die skep van ‘n nuwe een.

Daar is twee dokumente aan my voorgelê wat Rapport se versoeke om kommentaar bevat – navrae waarop die US op 7 Desember 2012 gereageer het (die dokument tot my beskikking maak dit nie duidelik of die vrae van die verslaggewer afkomstig was of nie), en ‘n versoek om kommentaar deur die verslaggewer, geskryf op 26 Junie 2013.

Die universiteit se onderskeie reaksies op die vrae is nie hier ter sake nie (later wel) – wat nou belangrik is, is die vrae self wat die koerant aan die universiteit gerig het.

7 Desember 2012: Rapport het 14 vrae aan die US gerig. Elkeen van hierdie vrae het gehandel oor Suspi se destydse hoof (Ntuli) en oor Suspi self (waarvan talle gegaan het oor laasgenoemde se finansiële sake).

26 Junie 2013: Hierdie dokument bevat vyf vrae wat handel oor gerugte dat Smith die US gaan verlaat, oor ‘n moontlike verband daarmee met “Suspi en alles wat daar gebeur het”, oor die moontliheid dat Smith onder druk van die US-Raad bedank het “nadat hy daar taamlik oor die kole gehaal is oor die Suspi-debakel”, en oor Suspi self.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die US se klag (naamlik dat die koerant nie die US om kommentaar genader het wat betref veranderinge in die bestuur van die universiteit nie) inderdaad gedeeltelik grond het – slegs een vraag het oor die rede vir Smith se bedanking gegaan, en nie een hiervan het Botman se naam genoem nie.

Die koerant se argument dat dit nie nodig was “om die US te nader vir kommentaar op die kommentaar van bronne oor die US se kommentaar oor bestuursveranderinge” nie, dat die storie het die skeiding van die poste gerapporteer en die US se verklaring daaroor aangehaal het, en dat “niks meer was nodig nie”, gaan nie op nie – die feit van die saak is dat die storie nooit en nêrens die universiteit aanhaal oor wat die redes was vir die skeiding van poste nie.

Die saak is egter nie so erg nie soos wat dit uit die voorafgaande mag lyk nie – die storie het wel ‘n raadsverklaring oor die feit van die skeiding van die poste gerapporteer, en die twee raadslede wat die storie aangehaal het, het inderdaad geldige redes vir hierdie skeiding aangevoer. Ek let op dat Botman, in ‘n skrywe ná die berig verskyn het, onder meer dieselde redes aanvoer as dié van die raadslede.

Hoewel die verslaggewer daarom nie die US amptelik gevra het oor die redes vir die skeiding nie (dit sou beter gewees het as dit wel gedoen is), het die skrywer tog korrek oor die motivering daarvoor berig.

Daar is egter ook ‘n ander kan van hierdie punt. Ek merk op dat die mening van twee raadslede nie dieselfde gewig kan dra as dié van die US se amptelike reaksie nie. Die joernalis se versuim om amptelik kommentaar van die US te verkry oor die redes vir die skeiding van die poste moet daarom steeds as ‘n verbreking van die Perskode beskou word. Die stelling (nie ‘n bewering nie) dat die skeiding van poste die oë laat rek het, het boonop hierdie versuim vererger.

Feitefoute

Die gebrek aan behoorlike verifikasie met die US, soos hierbo beredeneer, het volgens Shaikh tot feitefoute gelei in die volgende stellings, naamlik dat:

  • die US die laaste paar jaar “gereeld onder kritiek deurgeloop het”, en dat die instelling die afgelope week ingrypende veranderings gemaak het aan die manier waarop hy in die toekoms bestuur sou word.

Shaikh sê dat die verslaggewer die berig doelbewus so begin het om die US-bestuur daarmee onmiddellik onder verdenking te plaas. Hy argumenteer dat die joernalis (verkeerdelik en sarkasties) geïnsinueer het dat die US nie daartoe in staat was om dié instansie behoorlik te bestuur nie en dat die Raad daarom moes ingryp. Hy voeg by dat die “kritiek” waarna die skrywer verwys het, veral voortgespruit het uit die trant en wyse waarop Rapport (en spesifiek die joernalis) in die verlede oor verskeie sake aan die US verslag gedoen het.

Rapport voer aan dat bogenoemde stellings billik en ‘n feitelike inleiding tot die berig was en ontken dat dit sarkasties was. De Klerk skryf dat die koerant regmatiglik die term “ingrypende veranderings” gebruik het en dit is ook waar dat die US gereeld onder kritiek deurgeloop het. Die koerant noem verskeie voorbeelde op in hierdie verband (taalbeleid, die swembad-kwessie, die koshuisplasings-beleid, die ondersoek na die Departement van Volkekunde, ens.)

“Die berig self dra hierdie stelling (oor “kritiek”) uit met verwysing na die verskeie bedankings uit die raad die afgelope tyd wat telkens met bestuurs-kwessies verband hou.”

Ek het min twyfel dat albei stellings in die gedeelte wat tans in dispuut is, waar en korrek is – die US het inderdaad (a) gereeld onder kritiek deurgeloop (dit is nie relevant of hierdie kritiek hoofsaaklik van Rapport afkomstig en of dit geldig was of nie), en (b) die veranderinge was wel ingrypend (soos De Klerk tereg redeneer).

Dit gaan egter om meer as bloot die korrektheid van die twee stellings; die kwessie is naamlik die vraag hoe billik hierdie koppeling van “kritiek” met “ingrypende veranderinge” was. “Waarheid” en “billikheid” is immers nie sinonieme nie.

Die antwoord hierop kan nie in isolasie gegee word nie – dit hang af van wat in die res van die storie staan voor bepaal kan word of hierdie aanvanklike koppeling billik was aldan nie. Ek skuif daarom vir eers hierdie saak na die buitebaan en sal teen die einde van hierdie ontleding na dié saak terugkeer (onder die sub-hofie “Kommentaar in berigte”).

  • Smith se kontrak nie hernu gaan word nie, dat sy kontrak aan die einde van Februarie 2015 verstryk maar dat hy vir die res van 2014 op sabbatsverlof sal wees (luidens die US se amptelike reaksie), en dat dié verlof (hierdie keer volgens “ingeligte universiteitsbronne”) slegs ‘n rookskerm was omdat dat hy beslis nie na sy bestuurspos sal terugkeer nie.

Shaikh voer aan dat Smith se derde termyn aan die einde van Februarie 2015 verstryk, wanneer hy 62 sal wees (hy moet op 65 aftree). Die pos sou dus in elk geval geadverteer word en die hernuwing van sy kontrak was glad nie ter sprake nie. Hy voeg by dat die Raad reeds in 2012 oor Smith se aansoek om sabbatsverlof ingelig is. Hy verduidelik dat hierdie verlof ‘n algemene praktyk is in akademiese instansies – “dit gee die personeel die geleentheid om op navorsing in hul kundigheidsvlak te fokus, wat weer bydra tot die navorsingsuitnemendheid van die Universiteit”. Hy skryf ook dat Smith ná Februarie 2015 ingevolge sy aanstellingsvoorwaardes na sy department sal terugkeer.

Rapport sê dat hy skriftelike kommentaar oor Smith se pos aangevra het. Hierdie vrae was onder meer “uitdruklik” oor ‘n beweerde skakel tussen skuiwe oor Smith se pos en die “Suspi-debakel”. Ondanks die versoek dat hy persoonlik op die vrae kommentaar lewer, het nog hy, nog die US daarop gereageer. De Klerk voeg by dat die reaksie wat die US wel gelewer het, volledig in die berig vermeld is. “Die US kan beswaarlik nou kla oor Rapport se versuim om ‘n weergawe te stel wat die US versuim het om voor publikasie te lewer, terwyl hulle wel die kans gehad het. Dit is relevant om kennis te neem dat die US wel na Rapport se storie ‘n reaksie gelewer het.”

Die koerant voer ook aan dat daar “geen gegewe rede” was waarom Smith nie sy sabbatsverlof na afloop van sy termyn as vise-rektor kon neem nie.

Shaikh vra waarom die feit dat die US ná die (foutiewe) berig reaksie gelewer het (in ‘n “prioriteitsbulletin”), enigsins relevant is.

Ek dink ook nie dat dit relevant is nie, maar hierdie argument is ‘n sytak van ‘n rivier wat neig om my van die hoofstroom te isoleer.

Tweedens, rapport se stelling dat Smith nie persoonlik gereageer het op ‘n navraag nie, kan nie standhou nie. ‘n Instelling soos die US het nie verniet ‘n skakelkantoor nie, en dit is algemene praktyk dat ‘n skakelbeampte of ‘n woordvoerder namens iemand anders (spesifiek in daardie persoon se naam) reageer.

Ek let op dat die stellings dat Smith se kontrak nie hernu gaan word nie, dat sy kontrak aan die einde van Februari 2015 verstryk, en dat hy vir die res van 2014 op sabbatsverlof sal wees nie in dispuut is nie, soos in die berig vermeld.

Dit laat my met die bewerings dat Smith se sabbatsverlof bloot ‘n rookskerm was en dat hy nie na sy departement sou terugkeer nie.

De Klerk se argument dat daar “geen gegewe rede” was waarom Smith nie sy sabbatsverlof na afloop van sy termyn as vise-rektor kon neem nie, moet ernstig geneem word. Hiermee maak ek nie ‘n uitspraak oor die waarheidsgehalte van hierdie saak nie – ek sê bloot dat die koerant, met hierdie konteks as agtergrond, genoeg grond gehad het om dié spesifieke bewering te publiseer.

Ek neem ook in ag dat die joernalis hierdie menings as menings gestel het en nie as ‘n feit aangebied het nie; die skrywer het ook onmiddellik daarna berig dat twee raadslede so ‘n interpretasie as foutief bestempel het en het die redes daarvoor gerapporteer. Ek dink daarom nie dat die publisering van die rookskerm-aantyging die potensiaal gehad het om Smith of die US onnodige skade te berokken nie en ek kan daarom nie die koerant verkwalik dat hy hierdie mening gepubliseer het op die manier waarop die verslaggewer dit wel gedoen het nie.

  • Smith na bewering verantwoordelik was vir Ntuli se aanstelling as Suspi se hoof (teen bykans R900 000 per jaar) “sonder dat korrekte prosedures gevolg is” en dat hy vir die ineenstorting van Suspi in die “spervuur” was.

Twee sake is hier ter sprake – Ntuli se aanstelling (Smith was verantwoordelik, en die korrekte prosedure is nie gevolg nie), en die bewering oor “spervuur”. Ek hanteer hierdie sake agtereenvolgens.

Die US sê dat Ntuli vanaf 1 Januarie 2009 na Suspi gesekondeer is vir ‘n aanvanklike periode van ses maande, wat daarna met drie maande verleng is. Die Vergoedings-/Menslike Hulpbronne-komitee het op 15 September 2009 aanbeveel dat sy as hoof- uitvoerende beampte van Suspi aangestel word – ‘n aanbeveling waartoe die Suspi-direksie ingestem het. “Die Suspi-direksie het me. Ntuli aangestel vanaf 1 Oktober 2009 – 30 September 2014 teen ‘n aanvanklike vergoeding van R740 000.00 per jaar. Ten tye van me. Ntuli se diensbeëindiging was haar vergoeding R893 866.20 per jaar.” Haar indiensneming by Suspi is op 1 Februarie 2013 ná ‘n wedersydse ooreenkoms tussen die partye “weens die ekonomiese posisie van Suspi” beëindig.

Shaikh lei hieruit af dat die beriggewing foutief was (dit was die Suspi-direksie, en nie Smith nie, wat verantwoordelik was vir Ntuli se aanstelling) en dat die verslaggewer opsetlik en onregverdiglik Smith se integriteit op ‘n openbare platform onder verdenking geplaas het.

Die universiteit sê ook dat hy reeds op 7 Desember 2012 die korrekte feite in hierdie verband aan Rapport verskaf het.

Rapport sê dat vroeëre berigte telkens vermeld het dat Ntuli sonder ‘n behoorlike dienskontrak teen R900 000 per jaar aangestel is. “Niks wat die US na verwys in hul klagte teen Rapport weerspreek hierdie stelling nie” – ook nie die dokument van 7 Desember 2012 nie.

Die koerant argumenteer dat Smith ten tye van Ntuli se aanstellling nie net lid van die Suspi-direksie was nie, maar ook vise-rektor verantwoordelik vir (onder meer) sport. “Dit is algemene praktyk en heeltemal billik om die aanstelling van ‘n persoon in ‘n uitvoerende pos, aan die uitvoerende hoof van die afdeling toe te skryf, al was die uiteindelike aanstellingsdokument deur ‘n ander komitee uitgereik.”

Die publikasie sê dat hy insae in die Suspi-direksienotule van 15 September 2009 gehad het waaruit dit blyk dat Smith Ntuli se aanstelling aanbeveel het. “Tesame met Rapport se inligting dat die pos nooit geadverteer was nie, maak dit die stelling dat Smith ‘na bewering verantwoordelik was vir die aanstelling en dat die aanstelling plaasgevind het ‘sonder dat die korrekte procedure gevolg is’, redelik.”

De Klerk verdedig ook die joernalis se gebruik van die term “in die spervuur”. “Hierdie agtergrond kon nie geïgnoreer word met die aankondiging van Smith se jarelange sabbatsverlof wat saamloop met sy laaste jaar in ‘n uitvoerende bestuurspos nie. Om hierdie gebeure te verbind met mekaar is redelik, veral omdat daar geen gegewe rede is waarom Smith nie sy sabbatsverlof kon neem na afloop van sy termyn as viserektor nie.”

Die koerant verwys in hierdie verband weer na berigte oor dié saak (dieselfde berigte as wat hierbo ter sprake was).

In sy reaksie op Rapport se verweer, betwis Shaikh die koerant se verwysing na “geen gegewe rede” (waarom Smith nie sy sabbatsverlof kon neem ná sy termyn as vise-rektor verstryk het nie), en sê dat die verslaggewer nooit daardie vraag aan die US gestel het nie. Hy voer ook aan dat die feit dat Smith ‘n Suspi-direkteur was en ‘n aanbeveling gemaak het oor Ntuli se aanstelling, nie beteken dat hy persoonlik verantwoordelik was vir haar aanstelling nie – sy is uiteindelik deur die direksie van Suspi aangestel “met ‘n behoorlike dienskontrak en nadat die korrekte aanstellingsproses gevolg is”.

Verder argumenteer hy dat, omdat die verslaggewer in besit was van die notule van die vergadering van 15 September 2009, die koerant daarom die korrekte feite tot sy beskikking gehad het (en tog, sê hy, het die joernalis verkies om daardie feite te verdraai).

 

Drie sake is hier ter sprake, naamlik dat: a) Smith na bewering verantwoordelik was vir Ntuli se aanstelling as Suspi se hoof; b) die korrekte prosedures met haar aanstelling nie gevolg is nie; en c) Smith vir die ineenstorting van Suspi in die spervuur was.

Let daarop dat dit nie my taak is om oor die waarheidsgehalte van bogenoemde te besluit nie, maar eerder hoe billik en regverdig dit was vir die koerant om daardie stellings te gepubliseer het.

Eerstens: Gegee Smith se statuur aan die US, meen ek nie dat dit onbillik was om te gerapporteer het dat hy “verantwoordelik” was vir Ntuli se aanstelling nie – hy het haar aanstelling aanbeveel, al was dit ook die Suspi-direksie wat die aanbeveling goedgekeur het. Ek neem ook in ag dat die storie berig het dat Smith “na bewering” vir Ntuli se aanstelling verantwoordelik was. Ek dink daarom nie dat dit eties verkeerd was om nagelaat het om te noem dat dit die Suspi-direksie was wat uiteindelik die aanstelling gemaak het nie.

 

Die derde saak, naamlik dat Smith “in die spervuur” was oor Suspi se ineenstorting, kan ook nie as onverantwoordelike joernalistiek afgemaak word nie. Die verslaggewer het nie geskryf dat Smith inderdaad die blaam moet dra vir Suspi se probleme nie, maar slegs dat hy daarvoor “in die spervuur” was. Ek het geen rede om dít te betwyfel nie.

Ek het egter ‘n probleem met die (tweede) stelling, naamlik dat die korrekte prosedure nie gevolg was met Ntuli se aanstelling nie. Die notule van 15 September 2009 is tot my beskikking, en daarvolgens het die direksie ‘n geldige besluit geneem om Ntuli aan te stel. Rapport voer aan dat die pos nie geadverteer is nie (lees: die korrekte prosedure is nie gevolg nie) – maar intussen het die publikasie geen moeite gedoen om my daarvan te oortuig dat advertering ‘n vereiste was en dat die US nagelaat het om daaraan te voldoen nie.

De Klerk se verwysing na vroeëre koerantberigte wat telkens vermeld het dat Ntuli sonder ‘n behoorlike dienskontrak aangestel is, is waardeloos – die feit dat daar sulke berigte bestaan, waarborg nog nie die egtheid daarvan nie. Dit is boonop onbillik om aan te voer dat die US se reaksie van 7 Desember 2012 nie hierdie aantyging weerspreek het nie – feit van die saak is dat die koerant nooit die universiteit oor hierdie spesifieke saak uitgevra het nie (ook nie in die navraag van 26 Junie vanjaar nie); die gewaande nie-nakoming van die korrekte prosedures kan ook nie uit die tersake notule afgelei word nie.

By gebrek stawende bewyse en argumente kan ek nie aanvaar dat die koerant geregverdig was om te rapporteer dat die korrekte prosedures nie gevolg is met Ntuli se aanstelling nie. Die kwalifiserende uitdrukking “na bewering” was in hierdie geval nie voldoende om die gebruik daarvan te regverdig nie, bloot omdat daar nie genoeg grond voor was nie.

·         Botman voortaan net die US se akademiese hoof sou wees, dat hy sy bedryfsverantwoordelikhede aan Van Huyssteen gedelegeer het, en dat laasgenoemde bevorder is tot ‘n nuwe pos waarin hy (as bedryfshoof) direk aan die Raad sou rapporteer.

 

Die US sê dat Botman, ná sy heraanstelling in 2012, aan die Raad voorgestel het dat hy sy tweede termyn aan die “akademiese en strukturele herposisionering van die Universiteit vir die 21ste eeu” wy. Hy het daarna, op ‘n Raadsvergadering in April vanjaar, die aanwesiges meegedeel dat die omvang van sy werk net te wyd geraak het, en dat die “groter druk van fondswerwing, weens ‘n afname in staatsubsidiëring, die rektor se beskikbaarheid vir belangrike take in gedrang bring”. Die Raad het op daardie selfde vergadering die instelling van die pos van bedryfshoof goedgekeur. Dit sou Botman se “beskikbaarheid vir strategiese aangeleenthede” verhoog. (Van Huyssteen is in Junie 2013 as bedryfshoof aangestel, pas voor die publisering van die berig.)

 

Shaikh skryf dat Botman die US se hoof- uitvoerende beampte bly wat teenoor die Raad aanspreeklik is vir al die fasette van die universiteit, en dat “daar geen sprake daarvan is dat prof. Botman sy verantwoordbaarheid aan die Raad en in die breë afstaan nie” – hy bly die voorsitter van die Senaat (die US se hoogste akademiese liggaam), en Van Huyssteen sou aan hom verslag doen. “Dit is dus onwaar dat prof. Van Huyssteen direk aan die Raad sal rapporteer, wat in ieder geval ook nie moontlik is ingevolge die relevante wetgewing nie.”

Hy voer ook aan dat Van Huyssteen nie bevorder is tot ‘n nuwe pos nie, maar dat hy op Botman se aanbeveling aangestel is in die “nuutgestigte pos deur die Raad”; by voeg by dat Van Huyssteen se verantwoordelikhede bloot uitgebrei is en dat die US se bedryfsfunksie aan hom “gedelegeer” is.

Rapport sê dit is billik om die delegering van ‘n kernportefeulje van ‘n uitvoerende bestuurspos as die “afstaan” van daardie verpligtinge te beskryf, en dat die rektorspos daarom “verklein” is. De Klerk voer ook aan dat die billik was on Van Huyssteen se aanstelling in die nuut-geskepte pos as “bevordering” te omskryf en hom as die “nuwe geldbaas” te bestempel – al verkies die US ook ander omskrywings vir bogenoemde terme.

Die koerant voeg by dat Van Huyssteen, volgens sy bronne, direk aan die Raad sou rapporteer. Rapport sê dat hy ook die stelling op die US se eie Raadsverklaring gegrond het, waarin gesê word dat sekere van Botman se pligte aan Van Huyssteen “gedelegeer” word. “Dit was daarom Rapport se aanname, versterk deur hulle bron op die raad, dat hierdie gedelegeerde pligte insluit die plig om aan die Raad te rapporteer oor sake wat aan hom gedelegeer is.”

De Klerk redeneer ook dat dit om ‘n formele skeiding van pligte gegaan het en wat geskied het deur sanksie van die universiteit se hoogste besluitnemingsliggaam. “Daar was dus geen rede om Rapport se inligting in hierdie verband te betwyfel nie.”

Hy let ook op dat die US self, in sy voorlegging aan hierdie kantoor, dit stel dat die “besonderhede van die delegasie” nog in die proses was om gefinaliseer te word. “Onder omstandighede is dit dus heeltemal moontlik dat Rapport se bron en prof. Botman se weergawe van presies hoe die rapporteringslyne sou lyk, hemelsbreed kan verskil. Die klaers wil Rapport dus dwing om verkoning te vra vir ‘n stelling oor ‘n situasie wat, volgens hulle eie feitestel, nog nie gefinaliseer is nie.”

 

Vanuit ‘n media etiese oogpunt gesien, kan daar geen geldige argumente teen die sinne hierbo ingebring word nie – met die uitsondering van die stelling dat Van Huyssteen direk aan die Raad sou rapporteer. Ek bepaal my daarom spesifiek by hierdie saak.

 

Hoewel die koerant hom in sy verweer teen die klag op sy bronne beroep, het die storie hierdie stelling as ‘n feit gestel, en nie as ‘n bewering nie. Ek het geen rede om te aanvaar dat daardie “feit” korrek is nie; indeendeel, al die argumente tot my beskikking dui daarop dat hierdie spesifieke stelling bes moontlik nie waar is nie – ten minste nie toe die storie gepubliseer is nie.

Rapport het boonop self erken dat hierdie stelling ‘n “aanname” was.

Dit is nie net gevaarlik vir ‘n koerant om ‘n aanname as ‘n feit aan te bied nie, dit is ook onaanvaarbaar.

·         Die oë gerol het omdat die rektor se rol verminder sou word tot akademiese hoof, asook dat daar bespiegelings was dat Botman as seremoniële hoof “net linte (sou) knip en babas (sou) soen”. (Minstens twee raadslede het, na berig word, gesê dat hierdie interpretasie foutief is, dat die taak van rektor so groot geword het dat een mens dit kwalik kan vervul – dit is glo deesdae “internasionaal” die geval – en dat hierdie skeiding van die twee poste geen weerspieëling was van Botman se werkverrigting nie.)

 

Shaikh sê dat die stelling dat Botman se rol verminder is tot seremoniële hoof “wat net linte knip en babas soen”, nie is korrek nie. Hy voer aan dat die “sarkastiese trant” van hierdie paragraaf daarop dui dat die verslaggewer daarop uit was om Botman se posisie, sowel die wyse waarop die US bestuur word, te beledig en op ‘n neerhalende wyse aan lesers oor te dra.

Hy voeg by dat hierdie skeiding van poste internasionaal die tendens is “vanweë die kompleksiteit van die hedendaagse universiteitsomgewing” en dat die Raad op sy Junie-vergadering vir Botman gelukgewens het met sy “baie” gunstige evaluering.

Shaikh skryf ook: “Die indruk wat [die verslaggewer]in hierdie paragrawe skep is dat daar nie juis veel waarde aan die mededelings van die raadslede geheg kan word nie.”

Rapport sê die bespiegeling dat Botman se pos afgeskaal word na dié van ‘n seremoniële hoof wat net linte knip en babas soen, “is ‘n mening wat uitgespreek word, wat assulks beskerm word deur die Perskode asook die reg op vryheid van spraak”. De Klerk verwys in hierdie verband na die uitspraak van Regter Edwin Cameron van die Grondwetlike Hof in die saak van Robert McBride teen The Citizen: “Criticism is protected even if extreme, unjust, unbalanced, exaggerated and prejudiced, as long as it expresses an honestly held opinion, without malice, on a matter of public interest on facts that are true.”

Hy benadruk dat die mening (“linte knip en babas soen”) duidelik ‘n aanhaling was en nie die joernalis se eie woorde nie. “Dit is ‘n klassieke verskynsel van billike kommentaar wat wetlike beskerming geniet. “Die US het geen basis waarop hulle kan sê dat die persoon wat aangehaal word, kwaadwillig was of nie eerlik daardie mening huldig nie.”

Oor die mening van die twee raadslede waaroor die storie berig, sê De Klerk dat dít meer as genoeg balans verskaf het sodat lesers hul eie menings kon vorm. “Die feit dat bronne van albei kante aangehaal word, skep ewewigtigheid in die berig.”

Shaikh sê hierteenoor dat Cameron se uitspraak wel relevant is vir die lasterreg, maar argumenteer dat die Perskode se maatstawwe aansienlik daarvan verskil. Hy skryf dat Rapport se gebruik van dié hofuitspraak daarop dui dat hy ‘n wanpersepsie het van die standaarde en maatstawwe waaraan hy ingevolge die Perskode onderhewig is.

Hy skryf dat De Klerk se verwysings na “genoeg balans” en “bronne van albei kante” verkeerdelik impliseer dat daar “twee kante” aan hierdie storie is – terwyl die verslaggewer nooit die US om kommentaar gevra het oor die gewaande “seremoniële aard” van Botman se posisie nie.

Verskeie sake is hier ter sprake 

Eerstens: De Klerk het my heeltemal verloor met sy argument dat die stelling wat in dispuut is, aan ‘n bron toegedig is en daarom die beskerming van die Perskode (en die wet) geniet. As regsgeleerde weet hy tog dat die herhaling van laster ook laster is. In hierdie bevinding gaan dit egter oor etiek en nie oor die wet nie, en daarom om die skending van iemand se (lees: Botman se) waardigheid en reputasie (Art. 4.2 van die Perskode). Dit beteken: As iemand ‘n ander se waardigheid en reputasie verkeerdelik aantas en die koerant rapporteer dit, tas die publikasie daarmee ook daardie persoon se waardigheid en reputasie verkeerdelik aan.

Dit is die punt: Die feit dat iemand iets gesê het, gee aan geen publikasie die reg om dit dáárom te rapporteer nie – die gewone norme en standaarde wat die Perskode daarstel, geld immers telkens weer.

Ek demonstreer hierdie punt aan die hand van ‘n bekende voorbeeld: ‘n Publikasie rapporteer ‘n bewering dat die burgemeester sy vrou slaan, net om dit op te volg met ‘n ontkenning van sy kant. Kom ons aanvaar dat hierdie bewering vals is. In daardie geval is ‘n saadjie gesaai wat sekerlik êrens gaan ontkiem – maar totaal onregverdiglik so.

Dit is wat klaarblyklik in hierdie opsig met die berig gebeur het. Wanneer ek al die dokumentasie tot my beskikking in ag neem, ingesluit ‘n memorandum wat Botman ná die publisering van die berig geskryf het, meen ek dat die stelling oor “linte knip en babas soen” heeltemal geen grond gehad het nie, en dat dit daarom fundamenteel onbillik was van die koerant om dié grondlose stelling van iemand (met ‘n agenda teen Botman?) te rapporteer.

Enige moontlike regverdiging vir die koerant se verweer dat die stelling “billike” kommentaar was, gaan daarom ook my verstand te bowe – daar was niks billik of eties aan hierdie spesifieke verwysing nie.

Ek stem daarom met Shaikh saam dat die rapportering van die twee raadslede se menings nie genoegsaam was om die kwaad ongedaan te gemaak het nie, en verskil van De Klerk dat die storie “ewewigtigheid” geskep het deur “albei kante” te rapporteer.

Ek is ook ongemaklik met die stelling dat die delegering van ‘n deel van Botman se pligte “die oë laat rek het”. Die verslaggewer maak nie duidelik wie se oë sou gerek het nie (sy koppel dit aan geen bron nie) – wat nie vir my vreemd is nie, omdat die besluit om die rektor se pligte te delegeer reeds maande vantevore geneem is (en daarom niks nuuts was vir ingeligtes nie). Ek meen dat slegs ‘n oningeligte se oë hierdeur sou gerek het.

Vir die rekord: Shaikh se argument dat die lasterwet “aansienlik verskil” met die maatstawwe van die Perskode gaan nie op nie. Die eerste gaan wel oor die wet en die ander oor etiek, maar ek kon nog geen teenstelling of wesenlike “verskil” tussen die twee opspoor nie. In sekere sin is dit twee kante van dieselfde munstuk – ten minste sover dit hierdie geval betref.

Verbinding van onverwante sake met mekaar

Die US kla dat die verslaggewer “verkeerde verbandleggings gemaak het” deur losstaande, onverwante gebeure met mekaar te verbind om daarmee ‘n “vooropgestelde oogmerk te bereik”. Die klag gaan spesifiek oor die beweerde onetiese verband wat die joernalis getrek het tussen die:

  • nie-hernuwing van Smith se kontrak, sy aansoek om sabbatsverlof, bestuursveranderinge aan die US, en Suspi-verwante verwikkelings; en
  • manier waarop die US bestuur word en die bedanking van drie raadslede die afgelope paar jaar.      

Ek behandel hierdie sake agtereenvolgens:

                        Smith se posisie

Nadat die eerste sin van die storie gegaan het oor “ingrypende veranderinge” aan die US, skryf die verslaggewer in die tweede sin dat “die belangrikste hiervan” die feit was dat Smith se kontrak nie hernu sou word nie. Onmiddellik daarna rapporteer die dat die vise-rektor verlede jaar in die spervuur was oor Ntuli se aanstelling by Suspi. Dan volg die US se “amptelike verduideliking” oor sy sabbatsverlof, voordat die joernalis daartoe oorgaan om bronne aan te haal wat sou sê dat dié verlof net ‘n rookskerm was omdat Smith “beslis nie” na sy pos sou terugkeer nie.

Shaikh verduidelik dat Smith se aansoek om sabbatsverlof glad nie verband gehou het met bestuursveranderinge aan die US of enige gebeure rondom Suspi nie. (“Suspi is ‘n onafhanklike maatskappy, waarvan prof. Smith ‘n direkteur is, met ‘n eie direksie wat besluite neem. Suspi is ‘n privaatmaatskappy wat in die US se sportomgewing besigheid doen.”)

Shaikh sê ook dat hy in sy antwoord op die verslaggewer se vrae ‘n strukturele verduideliking gegee het en dat hy daarmee “in wese ontken (het) dat Prof. Smith se posisie as vise-rektor en sy sabbatsverlof enigsins SUSPI verwant is”.

As woorde betekenis het, en sinne binne konteks verstaan moet word, is dit duidelik dat die storie inderdaad al bogenoemde met mekaar gekoppel het, of op die allerminste die moontlikheid oopgehou het dat dit dalk aan mekaar verbind kon word. Die vraag is nie of die verslaggewer dit gedoen het nie, maar of dit billik was om hierdie indruk te geskep het.

In hierdie verband moet daar onderskei word tussen strukturele bestuursveranderinge en veranderinge aan die bestuur. Die nie-hernuwing van Smith se kontrak het nie met eersgenoemde te make nie, wel met laasgenoemde – daarom is die verband in die storie tussen die nie-hernuwing van sy kontrak en ‘n verandering aan bestuur heeltemal geregverdig.

Al vraag wat dus oorbly, is of die koppeling van die nie-hernuwing van Smith se kontrak met Suspi-gebeure enigsins regverdig was.

Ek het geen enkele stawende bewys of selfs ‘n indikasie dat die twee hoegenaamd met mekaar verband gehou het nie; inteendeel, die US het dit amptelik ontken. Die joernalis se koppeling van hierdie twee sake het inderdaad geen aanwysbare grond nie en is daarom onbillik teenoor Smith.

                        Bestuur, bedankings

Teen die einde van die storie word berig oor drie voormalige raadslede wat na bewering oor bestuursake bedank het.

Shaikh voer aan dat die beriggewing oor die bedanking van die raadslede “die laaste paar jaar” geen onderlinge verband met mekaar gehad het nie. Hy voer ook in latere korrespondensie aan dat die bedankings jare uitmekaar plaasgevind het en dat dit nie relevant tot die berig was nie.

Rapport sê die artikel die breër agtergrond oor twis op raadsvlak rakende bestuurskwessies geskets het, en argumenteer dat dit billik en relevant was om daardie gebeure by die huidige storie te betrek.

Al meen die US ook dat die bedankings geen verband gehou het met die hoofsaak waaroor die storie gehandel het nie, het dit na alle waarskynlikheid ook oor bestuursake gegaan (weliswaar waarskynlik in die breë sin van die woord).

Kwade bedoelings

Met al die bogenoemde in gedagte, kla die US dat die verslaggewer die opset gehad het om die integriteit van besluite van die US se raad en bestuur onnodiglik onder verdenking te plaas en daarom kwaadwillig opgetree het daarme verkeerdelik Botman en Smith se waardigheid en reputasie aangetas het. Dit kom volgens Shaikh ook uit in die joernalis se “kommentare”, wat niks meer was as “vae bewerings en sarkastiese insinuasies” teenoor die US was nie.

Twee sake is hier ter sprake: Kommentaar in berigte, en die skets van konteks in ‘n storie – voordat ek tot ‘n slotsom sal kom.

                                    Kommentaar in berigte

Rapport sê dit was sy goeie reg om standpunt in te neem en om lesers se opinies oor sake van openbare belang uit te spreek, en wys daarop dat die US ‘n openbare liggaam is wat ‘n openbare funksie verrig en deur die publiek bevonds word. “Die US in hul klagte verwar strawwe kritiek met kwaadwilligheid en uitgesprokenheid met oortredings van die Perskode.”

Hierop reageer die US dat Rapport nou die “berig” as “kritiese kommentaar” inklee. Shaikh sê dat die koerant en die verslaggewer se werklike agenda was om die bestuur van die US (lees veral: Botman en Smith) onder ernstige verdenking te plaas – wat tot grootskaalse onsekerheid en reputasieskade (selfs tot in die breëre gemeenskap) gelei het. Hy redeneer: “Die agenda was om te suggereer dat Prof. Smith se sabbatsverlof daarop neerkom dat hy ‘uitgeskuif’ word en dat Prof. Botman finansiële bestuur van die US moet ‘afstaan’. Dit is juis hierdie agenda wat die werklike ‘angel’ in [die]berig was en…wat…verskeie oortredings van die Perskode daarstel. Die vryheid wat [die joernalis]in die berig gebruik om kommentaar, innuendos en verkeerde feite te vermeng is (op) sigself ‘n oortreding van die Perskode.”

Shaikh noem die berig nie “kommentaar” op die bestuursveranderinge nie, maar eerder “kwaadwillige skinder onder die dekmantel van ‘n nuusberig”. Hy voeg by dat die teks nie in ‘n kommentaar- of rubriekformaat gepubliseer was nie, en kom tot die volgende gevolgtrekking: “Indien dit Rapport en [die verslaggewer]se oogmerk was om hul eie standpunt en kritiese kommentaar op die bestuurs-veranderinge aan die US te publiseer, moes hul dit vanuit die staanspoor duidelik gemaak het dat dit ‘’n kommentaar’ van Rapport is, sodat die publiek kennis kan neem dat dit Rapport se kritiek is. Instede daarvan word kommentaar by wyse van suggestie onder die dekmantel van ‘n nuusberig gelewer. Die US is egter van mening dat dit nie Rapport se bedoeling was nie, en dat hul doelbewus en met ‘n verskuilde agenda daarop uit is om die US se bestuur skade te berokken, en daarom hierdie foutiewe berig gepubliseer het.”

Die US ontken ook dat hy “strawwe kritiek” met “kwaadwilligheid” verwar – volgens die universiteit is dit eerder Rapport wat “billike kommentaar” met “foutiewe, misleidende en tendensieuse beriggewing” verwar.

Hier het De Klerk my weer verloor. Niemand ontsê die pers om ‘n mening te hê en dit ook uit te spreek nie; trouens, dit is die verantwoordelike pers se plig om ‘n meningsvormer te wees. Die Perskode maak daarom voorsiening hiervoor. Terselfdertyd, egter, maak dieselfde Kode dit ook duidelik dat enige kommentaar duidelik so aangetoon moet word. Art. 7.2 lui: “Comment by the press shall be presented in such manner that it appears clearly that it is comment…”

Kommentaar is welkom, maar dan in meningskolomme wat as sodanig aangedui is – dit is beslis nie welkom in ‘n nuusberig (soos hierdie) nie.

Ek betwyfel egter die US se stelling, asook De Klerk se erkenning daarvan, dat die verslaggewer in die berig “kommentaar” gelewer het. Het die joernalis werklik kommentaar gelewer, of is daar slegs gepoog om konteks te verskaf?

Ek meen die antwoord hierop lê in laasgenoemde. Die skrywer was duidelik krities teenoor die US, maar dit het nie na vore gekom in “kommentaar” nie – wel in die “konteks” wat sy geskilder het.

Maar was die joernalis verkeerd?

                                    Konteks

Hierdie saak is nie so eenvoudig nie. In dié verband onderskei ek tussen “direkte” en “indirekte” kommentaar, met die oortuiging dat die skets van ‘n sekere konteks inderdaad op laasgenoemde kan neerkom. Ek is (natuurlik) bewus van die feit dat die Perskode nie hierdie onderskeiding maak nie – maar dan lê dit ook op die weg van hierdie kantoor om die Kode te interpreteer en toe te pas.

Die volgende vraag is daarom: Is dit verkeerd vir ‘n verslaggewer om ‘n negatiewe konteks daar te stel ten einde feite oor ‘n nuwe storie oor te dra? Die antwoord, meen ek, lê voor die hand – natuurlik kan ‘n joernalis ‘n negatiewe konteks skets, maar dan moet daardie “negatiewe konteks” tog sekerlik verband hou met die storie self.

Dit bring my terug na waarmee ek hierdie ontleding begin het, naamlik die inleidende woorde wat “gereelde kritiek” teen die US die laaste paar jaar direk aan Smith se posisie vorentoe en aan Botman se delegering van sommige van sy pligte gekoppel het.

Hierdie “gereelde kritiek” moet nou in konteks gesien word: Omdat dit die inleidende sin was, moes dit tog verband gehou het met die hooftema van die storie- hierdie term sou slegs geregverdig wees as dit gekoppel kon word aan nuwe kritiek op resente veranderings.

Daarom, terug na die storie. Die vraag is: Lewer die bronne in die storie genoegsame kritiek op resente veranderings om die gebruik van daardie stelling te regverdig (as konteks vir dit wat sou volg)?

Die kritiek in die storie op die nuwe veranderinge is tot die volgende beperk:

  • ‘n Bron meen Smith se sabbatsverlof is ‘n rookskerm;
  • Botman se delegering van sekere take het die oë laat rek; en
  • Die rektor se rol word beperk tot die knip van linte en die soen van babas.

(Die melding wat die storie teen die einde van die berig maak oor raadslede wat vroeër bedank het, raak nie kritiek op die “nuwe veranderinge” nie, hoewel dit na alle waarskynlikheid ook om bestuursake gegaan het.)

Ek het reeds beslis dat die koerant geregverdig was om die eerste punt hierbo te publiseer (hoewel dit nie noodwendig waar was nie), en dat die tweede en derde punt nie geregverdig was nie.

Dit laat my met die vraag of een enkele kritiese verwysing (“rookskerm”) genoegsame grond gebied het vir die verslaggewer om hierdie (negatiewe) konteks as indirekte kommentaar aan te bied.

Ek meen nie so nie, en dink dat daarom die universiteit in die algemeen en vir Botman en Smith in die besonder op ‘n onbillike wyse daardeur onnodiglik benadeel is.

                                    Slotsom

Die US het oor die joernalis se motiewe gekla (lees: “kwade bedoelings” met die skryf van die storie).

Oor die algemeen is dit uiters moeilik om oor iemand se motiewe ‘n uitspraak te maak. Wanneer ‘n journalis ‘n fout of foute begaan, is die nie noodwendig aan kwade bedoelings toe te skryf nie.

Die skrywer het na my mening genoeg reg gedoen om my te verhinder om die kritiese ingesteldheid as “kwade bedoelings” af te maak – dit sou aanmatigend van my wees om die foute wat  volgens my wel begaan is, daaraan toe te skryf.

Verkeerde opskrif

Die opskrif het gelui: US kry nuwe geldbaas – Oë rek oor rektor se pos verklein word en ‘n viserektor wat ‘uitgeskuif’ is.

Shaikh sê dat dié stellings verkeerd is (soos hierbo aangevoer). Hy sê dat die US vroeër reeds die aanstelling van ‘n uitvoerende bedryfshoof (in April vanjaar) asook Van Huyssteen se aanstelling in dié pos (in Junie) goedgekeur het.

Hy voer in latere korrespondensie aan dat die gebruik van die woord “uitgeskuif” nie net verkeerd was nie, maar dat dit ook ‘n opsetlike afwyking en verdraaiing was van die korrekte feitelike posisie. Hy sê ook dat die hoofkop verkeerdelik gesuggereer het dat Botman nie langer die US se geldbaas kan wees nie omdat hy nie daartoe in staat was om die US (en sy finansies) behoorlik te bestuur nie.

Ek kan redelikerwys nie met Shaikh op hierdie punt saamstem nie. Gegrond op al bogenoemde oorwegings, is die hoofkop in die kol – dit is korrek en billik.

Die gebruik van die terme “oë rek” en “uitgeskuif” in die onderkop is egter twyfelagting en misleidend (soos hierbo aangevoer) – al word laasgenoemde ook in aanhalingstekens geklee.

Algemeen

Rapport nooi die US uit om repliek te lewer op die berig, wat met “gelykstaande prominensie” gepubliseer sou word. Die US sê dat hy kennis neem van hierdie aanbod, maar dat hy ook van mening is dat die saak eerder deur hierdie kantoor gehanteer moet word.

BEVINDING

Geen verifikasie

Rapport het die US om kommentaar genader – maar nie oor die redes vir die delegering van sekere van Botman se pligte nie. Die stelling (nie ‘n bewering nie) dat die skeiding van poste die oë laat rek het, het hierdie versuim vererger. Dit verbreek Art. 5.2 van die Perskode wat lui: “‘n Publikasie behoort gewoonlik die sienings van die voorwerp van ernstig kritiese verslaggewing vóór publisering te verkry…”

Feitefoute, verdraaings, weglatings

  • Die US het die laaste paar jaar “gereeld onder kritiek deurgeloop”, en die instelling die afgelope week ingrypende veranderings gemaak aan die manier waarop hy in die toekoms bestuur sou word.

Die klag oor die korrektheid van hierdie stelling word van die hand gewys.

Die klag oor die billikheid daarvan kom hieronder ter sprake.

  • Smith se kontrak gaan nie hernu word; hy sal vir die res van 2014 op sabbatsverlof wees; en dié verlof (volgens “ingeligte universiteitsbronne”) sou slegs ‘n rookskerm wees.

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

  • Smith was na bewering verantwoordelik vir Ntuli se aanstelling as Suspi se hoof sonder dat korrekte prosedures gevolg; hy was oor die ineenstorting van Suspi in die spervuur.

Die klag oor die stellings dat Smith na bewering verantwoordelik was vir Ntuli se aanstelling en dat hy in die spervuur was oor die ineenstorting van Suspi word van die hand gewys.

Rapport was egter nie geregverdig om dit as ‘n feit te stel dat die korrekte prosedures met Ntuli se aanstelling nie gevolg is nie. Dit verbreek Art. 2.1 van die Perskode wat sê: “Die pers moet seker maak dat hy nuus eerlik, akkuraat en billik rapporteer.”

·         Botman sou voortaan net die US se akademiese hoof wees, hy sou sy bedryfsverantwoordelikhede aan Van Huyssteen gedelegeer het, en laasgenoemde is bevorder tot ‘n nuwe pos waarin hy (as bedryfshoof) direk aan die Raad sou rapporteer.

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys, behalwe vir die stelling dat Van Huyssteen direk aan die US-Raad sou rapporteer. Laasgenoemde verbreek Art. 2.1 van die Perskode omdat daar geen redelik gronde was vir hierdie stelling nie.

·         Die oë het gerol omdat die rektor se rol verminder sou word tot akademiese hoof, asook dat daar bespiegelings was dat Botman as seremoniële hoof net linte sou knip en babas sou soen”.

Die publisering van die bewering dat Botman net die US se seremoniële hoof sou wees (met dit wat daarmee gepaard gegaan het), was onwaar en buitengewoon onbillik en het sy reputasie en waardigheid verkeerdelik aangetas. Dit verbreek Art. 2.1 van die Perskode. Dit is ook ‘n verbreking van Art. 4.2 wat lui: “Die pers sal sorg en oordeel aan die dag lê oor sake wat met waardigheid en reputasie verband hou.”

Die stelling dat die oë gerol het, was onbillik en het daarom ook die Kode verbreek (Art. 2.1).

Verbinding van onverwante sake met mekaar

                        Smith se posisie

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys, behalwe vir die ongeregverdigde en onaanwysbare koppeling tussen die nie-hernuwing van Smith se kontrak met Suspi-gebeure. Dit verbreek Art. 2.2 van die Perskode wat lui: “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite hetsy deur verdraaiing, oordrywing of wanvoorstelling, wesenlike weglatings, of opsomming.”

                        Bestuur, bedankings

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Kwade bedoeling

                                   Kommentaar in berigte

Die klag oor direkte kommentaar in die berig word van die hand gewys.

                                    Konteks

Die koppeling van “kritiek” (in die verlede”) en “ingrypende veranderings” (in die hede) was onvanpas en het die US onnodiglik in ‘n negatiewe lig gestel. Dit het die universiteit in die algemeen en vir Botman en Smith in die besonder onnodige skade berokken. Dit verbreek Art. 2.1 en 2.2 van die Perskode, wat billikheid en ‘n gebalanseerde konteks bepleit.

                                    Slotsom

Die klag oor kwade bedoelings en onvanpaste kommentaar word van die hand gewys.

Verkeerde opskrif

Die klag oor die hoofkop word van die hand gewys.

 

Die gebruik van die woorde “oë rek” en “uitgeskuif” in die onder-kop was misleidend en onbillik. Dit verbreek Art. 2.1 van die Perskode.

OPTREDE

Rapport word versoek om die US en alle betrokke partye onvoorwaardelik om verskoning te vra vir die:

  • ongefundeerde en onbillike bewering dat prof. Russel Botman se rol verklein is tot die knip van linte en die soen van babas, asook vir die ernstige skade wat dit aan die rektor se waardigheid en reputasie gedoen het;
  • skets van ‘n onnodige negatiewe konteks deur na “gereeld onder kritiek deurgeloop het” te verwys sonder die nodige koppeling met behoordelike kritiek oor resente bestuursveranderinge aan die US;
  • onregverdige en onaanwysbare koppeling tussen die nie-hernuwing van die kontrak van die vise-rektor, prof. Julian Smith, aan gebeure by Suspi; en
  • ongefundeerde stelling, as ‘n feit aangebied, dat die korrekte prosedures met die aanstelling van mr. Gugu Ntuli as hoof van Suspi nie gevolg is nie.

Die koerant word berispe omdat die:

  • storie dit as ‘n feit gestel het dat Van Huyssteen direk aan die US-Raad sou rapporteer; en
  • gebruik van die woorde “oë rek” en “uitgeskuif” in die onderkop misleidend en daarom onbillik was.

Die publikasie word daarop gewys dat die verslaggewer die US amptelik om kommentaar moes gevra het oor die redes vir die delegering van sekere van Botman se pligte nie, eerder as om hom/haar te verlaat op die mening van sommige raadslede.

Rapport word gevra om die onderstaande teks bo die vou op bladsy 4 te publiseer, met ‘n kop wat die woord “verskoning” en ‘n verwysing na die US insluit:

Rapport vra die Universiteit Stellenbosch en sy rektor, prof. Russel Botman, onvoorwaardelik om verskoning vir die ongefundeerde en onbillike bewering dat laasgenoemde se rol verklein is tot die knip van linte en die soen van babas, asook vir die ernstige skade wat dit aan die rektor se waardigheid en reputasie gedoen het.

Ons vra ook om verskoning vir die:

  • skets van ‘n onnodige negatiewe konteks deur na “gereeld onder kritiek deurgeloop het” te verwys sonder die nodige koppeling met behoordelike kritiek oor resente bestuursveranderinge aan die US;
  • onregverdige en onaanwysbare koppeling tussen die nie-hernuwing van die kontrak van die vise-rektor, prof. Julian Smith, aan gebeure by Stellenbosch se sportprestasie-instituut (Suspi); en
  • ongefundeerde stelling, as ‘n feit aangebied, dat die korrekte prosedures met die aanstelling van mr. Gugu Ntuli as hoof van Suspi nie gevolg is nie.

Die US het ‘n klag by die Persombudsman ingedien oor ‘n storie getiteld US kry nuwe geldbaas – Oë rek oor rektor se pos verklein word en ‘n viserektor wat ‘uitgeskuif’ is (gepubliseer op 30 Junie 2013).

Die storie het gerapporteer dat die US ingrypende veranderinge gemaak het aan die manier waarop die universite voortaan bestuur sal word – die mees belangrike hiervan was naamlik dat die kontrak van prof. Julian Smith, viserektor van gemeenskapsdienste en personeel, nie hernu gaan word nie, en dat die rol van die rektor, prof. Russel Botman, na bewering verminder sou word tot seremoniële hoof “wat net linte knip en babas soen”.

Die Persombudsman, Johan Retief, het gesê dat ons storie die US in die algemeen en vir Botman en Smith in die besonder onnodige skade berokken het. Met spesifieke verwysing na “linte knip en babas soen”, het hy opgemerk: “Die feit dat iemand iets gesê het, gee aan geen publikasie die reg om dit dáárom te rapporteer nie – die gewone norme en standaarde wat die Perskode daarstel, geld immers telkens weer.”

Hy het ons ook berispe omdat die storie dit as ‘n feit gestel het dat prof. Leopold van Huyssteen, aan wie sekere take van die rektor gedelegeer is, direk aan die US-Raad sou rapporteer, en vir die gebruik van die woorde “oë rek” en “uitgeskuif” (wat misleidend en onbillik was); hy het ons ook daarop gewys dat die verslaggewer die US amptelik om kommentaar moes gevra het oor die redes vir die delegering van sekere van Botman se pligte, eerder as om hom of haar te verlaat op die mening van sommige raadslede.

Retief het nege ander dele van die klag van die hand gewys, wat ingesluit het dat die joernalis die berig met kwade bedoelings sou geskryf het.

Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.

Einde van teks

AANSOEK OM VERLOF TOT APPèL

 

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *