Specialist Income Bpk. vs Rapport (Sake 24)

Complainant: Specialist Income Bpk

Lodged by: Vince Crous

Article: Min kan kom van Dynamic-belofte – Die maatskappy se eniste bate is ‘n debiteureboek van R158,5 miljoen

Date: 22 February 2011

Respondent: Rapport (Sake24)

KLAG
Mnr. Vince Crous kla oor ‘n storie in Sake 24 (Rapport), gepubliseer op 3 Oktober 2010 onder die opskrif Min kan kom van Dynamic-belofte – Die maatskappy se eniste bate is ‘n debiteureboek van R158,5 miljoen.
Die hoofklag is dat die storie SIL met ‘n ander maatskappy, Dynamic Wealth (DW), verwar.
Hy sê dat talle stellings/bewerings/sinne daarbenewens misleidend en/of foutief is, dat sommige uit die duim gesuig is en dat ander buite konteks gebruik word. Soms is relevante inligting volgens hom ook nie berig nie.
Crous sê dat bogenoemde na die volgende verwys:
  • Die verwysing na die “lys van eiendomme waarvoor SIL oorbruggingsfinansiering verskaf het”, asook die woorde “sy enigste bate is ‘n debiteureboek…wat bestaan uit 41 eiendomme”;
  • Die insinuasie dat SIL al die eiendomme wat in die boek is, wil klaar bou en verkoop;
  • Die verwysing na “voorsiening” wat vir “twyfelagtige skuld” gemaak is;
  • Die indruk wat geskep word dat al die geld wat in SIL is na die Corporate Money Managers (CMM) gegaan het;
  • Die stelling dat die kurators van CMM beslag gelê het op al die eiendomme;
  • Die stelling dat SIL self ook oorbruggingsfinansiering toegestaan het;
  • Die stelling dat SIL se blootstelling R25 miljoen is en dat hy ‘n aanbod van R24 miljoen sal kry;
  • Die verwysing na die “ontwikkelaar”;
  • Die stelling dat SIL “sal nog sowat R19 miljoen nodig hê om die huise te kan voltooi en te verkoop”;
  • Die stelling dat SIL retensiereg op Heritage Manor het;
  • Die bedrag van R74,9 miljoen wat SIL as oorbruggingsfinansiering verskaf het;
  • Die verwysing na eise van Ovation en Republic National Securities;
  • Die verwysing na SIL as konkurrente eiser;
  • Die stelling dat SARS reeds kennis gegee het dat hy ‘n eis van R22 miljoen teen Du Plooy se boedel het;
  • “Vertroulike inligting” is gepubliseer;
  • Die verwysing na “verskeie oorbruggingstransaksies” en R3.1 miljoen wat “toegestaan” is;
  • SIL se “ingryping” wat 24 eiendomme in iemand se boedel ingetrek het; en
  • Die opskrif.
Crous kla ook oor verskeie ander berigte. Ons kantoor kon egter nie daardie berigte hanteer nie omdat dit veels te lank gelede gepubliseer is (ons klagte-prosedure bepaal dat ‘n klag gewoonlik binne 14 dae ná publikasie gelê moet word). Sy stelling dat Van Zyl voortdurende wraaksugtige en eensydige beriggewing gepleeg het, kon dus nie verwerk word nie.
ONTLEDING
Die storie sê dit lyk of DW se direkteure oor-optimisties is met hul aansprake dat beleggers in SIL oor vier jaar ‘n terugbetaling van tussen R1,10 en R1,60 kan kry vir elke R1 wat belê is – terwyl beleggers ‘n maksimum van 71% van die oorspronklike belegging sal terugkry. Die berig lig aandeelhouers in dat hulle lank sal moet wag vir hul geld wat weens die wanbesteding van geld in SIL-eiendomme vasgevang is.
Op 28 November plaas Sake 24 ‘n berig met verskeie regstellings betreffende die storie waaroor die klag gaan. Volgens dié artikel is verkeerdelik berig dat:
  • SIL se enigste bate ‘n debiteureboek van R158,8 miljoen is;
  • ‘n ontwikkelaar retensiereg op Sagewood uitoefen;
  • finansiering van R19 miljoen benodig word om die ontwikkeling te voltooi; en
  • SIL oorbruggingsfinansiering van R74,9 miljoen en R2,1 miljoen aan onderskeidelik mnre. Attie du Plooy en Renaldo Nortjé toegestaan het.
SIL vind hierdie regstellings berig “onaanvaarbaar”, want:
  • SIL is in geen stadium hieroor deur Sake 24 gekontak nie;
  • die naam van die betrokke joernalis verskyn nie in die berig nie;
  • die regstelling handel slegs oor sommige klagte;
  • die grootte, plasing en opskrif van die regstelling dra geensins die erns van die betrokke klagte aan die leser oor nie; en
  • die skade wat aan SIL berokken is, word nie deur die berig vergoed nie.
Ons kyk nou na die meriete van die klag:
SIL met DW verwar
Die storie noem SIL en DW verskeie kere in dieselfde asem. Die intro lui byvoorbeeld: “Dynamic Wealth se aansprake dat beleggers in sy Specialist Income Limited (SIL) oor vier jaar ‘n terugbetaling van tussen R1,10 en R1,60 kan kry vir elke R1 wat belê is, klink hol.” (eie beklemtonings)
Crous sê egter dat DW se direkteure “niks te make” het met SIL nie en dus ook nie met besluite wat in SIL geneem word nie – SIL is ‘n aparte maatskappy met sy eie direkteure wat outonoom van DW werk.
Sake 24 verskil. Die koerant argumenteer soos volg:
  • Sedert Oktober 2009 het die direkteure van DW verantwoordelikheid vir alle inligting oor SIL geneem;
  • Bogenoemde word gestaaf deur die volgende aanhalings uit SIL se finansiële state vir die jaar wat op 28 Februarie 2010 geëindig het: “Dynamic Wealth has continued in its role as Investment Manager through the investment mandates provided by its members”; en “During the year the business of the company was managed under an agreement by Dynamic Wealth Management, in which the directors of the company has an interest in”;
  • Uit die kennisgewing van 2010 se jaarvergadering blyk dit dat dat mnre. Cobus van Wyk, uitvoerende hoof van DW, en Cobus Zietsman, bemarkingsbestuurder en voormalige uitvoerende hoof van SIL, in Junie 2010 steeds direkteure van SIL was;
  • In ‘n dokument gedateer 7 Augustus 2009 (onder die opskrif Report: Specialist Income Limited) vertel DW dat hy SIL op die been gebring het om eienaarskap van die eiendomme te neem waaraan Specialist Income Portfolio (SIP) deur die oorbruggingstransaksies blootstelling het;
  • Crous self skryf in sy klag dat SIL uit DW gebore is;
  • SIL is in 2008 gestig nadat SIP probleme ontwikkel het (SIP is in 2006 gestig);
  • Twee DW-direkteure het op 22 September ‘n perskonferensie in die afwesigheid van Crous gelei waar die probleme by SIL bespreek is (nadat die aansoek om kuratorskap van DW deur die hof verwerp is – dié aansoek het bedrywighede van die SIL ingesluit);
  • Die verhouding tussen DW en SIL, asook die verband met Corporate Money Managers word in ‘n dokument (gedateer Julie 2009) uiteengesit en is deur me. Adri Uys, DW-werknemer, aan beleggers gestuur;
  • As DW niks met SIL te doen het nie, waarom sal die Raad op Finansiële Dienste aansoek doen om kuratorskap van DW en nie net vir SIL laat likwideer nie?;
  • ‘n Berig wat op 26 September gepubliseer is (waarin staan dat die aandeelhouers in die maatskappy SIL eers deur DW as die Specialist Income Portfolio bestuur is), is deur mnr. Christiaan Jordaan, ‘n DW-direkteur, goedgekeur; en
  • In talle vorige berigte is na die verband tussen SIL en DW verwys – maar in geen stadium het enige direkteur dié verband probeer ontken nie.
In sy repliek hierop, sê SIL dat hy nog nooit beweer het dat daar geen verband tussen DW en SIL is nie. Die maatskappy sê hy ontken ook nie SIL se agtergrond en geskiedenis nie. Crous sê die twee is egter nie “een en dieselfde” nie – soos Van Zyl aanvoer. So sleep Van Zyl byvoorbeeld verkeerdelik vir DW by as sy oor iemand soos Atkins skryf en skep sy die indruk dat DW steeds besluite namens SIL neem en beloftes namens SIL maak. SIL sê hy wil net hê dat Van Zyl die twee maatskappye van mekaar moes onderskei het.
Die punt is dat DW nie besluite vir SIL neem nie – SIL is ‘n maatskappy in eie reg en met sy eie direkteure wat sy eie besluite neem. SIL voeg by: “Dat Dynamic Wealth sekere funksies (bate-bestuurder, ens) vir SIL verrig beteken ook nie dat dit een en dieselfde maatskappy is nie.”
Wat die perskonferensie betref, sê SIL dat dié konferensie deur DW gereël is om die pers in kennis te stel dat die aansoek om DW onder kuratorskap te plaas misluk het. Van Zyl het egter die konferensie probeer kaap deur eerder vrae oor SIL te vra. Hoewel mnr. Cobus van Wyk, ‘n DW- en SIL-direkteur, die vrae probeer beantwoord het, is sy eerder na Crous verwys “om die werklike inligting oor SIL te bekom”.
In die verhoor is daar nie noemenswaardige nuwe argumente geopper nie.
Almal het saamgestem dat, juridies gesproke, SIL en DW inderdaad aparte entiteite is. Dit het die paneel egter opgeval dat twee van DW se direkteure ook op SIL se direksie dien. Die vraag was waarom dit die geval sou wees. Dit het geblyk dat DW se direkteure ongeneë was om op die SIL-direksie te dien, maar dat dit die beleggers se wens was.
Hoe ook al, die blote feit dat 40% van SIL se (vyf) direkteure ook op DW se direksie dien, wys op ‘n noue werksverbintenis tussen die twee maatskappye. Terwyl SIL en DW wel de jure twee entiteite is, is daar de facto ‘n besondere noue verbintenis tussen hulle.
Die paneel het saamgestem dat, gegee hierdie noue verbintenis, die koerant daarop geregtig was om te verwys na SIL as “sy” SIL.
Omdat SIL en DW egter, juridies gesproke, twee aparte entiteite is, behoort die koerant meer te gedoen het om daardie punt duidelik te maak. Die paneel het egter besluit dat hierdie weglating nie sterk genoeg was om te beslis dat die koerant daardeur die Perskode verbreek het nie. Die basis vir hierdie besluit is die de facto noue verbintenis tussen SIL en DW.
 
Lys van eiendomme; enigste bate
Die storie verwys na ‘n “lys van eiendomme waarvoor SIL oorbruggingsfinansiering verskaf het”. Dit sê ook: “Beleggers het altesame R232 miljoen in SIL belê, maar sy enigste bate is ‘n debiteureboek van R158,5 miljoen wat bestaan uit 41 eiendomme waarvan die meeste in gelikwideerde of gesekwestreerde boedels is.”
Crous sê bogenoemde (“gewraakte”) lys is uitgestuur aan mense waar die maatskappy as tussenganger tussen kopers en verkopers sou optree. Dis bloot ‘n lys van eiendomme wat gevestig is in boedels wat SIL by likwidateurs en “gewone mense” gekry het wat eiendomme wou verkoop. Die lys is volgens Crous slegs ‘n bemarkingsdokument en reflekteer geensins wat in die debiteure-boek staan nie.
Hy sê dat Van Zyl daarop aandring dat dit SIL se enigste bates en enigste debiteure is – wat nie waar is nie. “Daar is byvoorbeeld 24 eiendomme op die lys wat setel in die insolvente boedel van AJ du Plooy. Ons het nie eers ‘oorbrugging’ op die eiendomme gedoen nie. Dis net deur ons ingryping dat dit in die boedel ingetrek is en mee gehandel kon word.”
Hy voeg by dat die verwysing na “41 eiendomme” ook foutief is – daar is meer as 200 eiendomstransaksies “op die boek”. Dat alles in ‘n likwidasie “vasgevang” is, is die verslaggewer se afleiding. Hy sê daar is verskeie transaksies, soos African Spirit (R1 miljoen) en Pieterse (R2 miljoen), wat nog ingevorder moet word.
Sake 24 sê Crous maak die verkeerde afleiding dat die “gewraakte lys” gebruik is. Die lys waarna die storie verwys, sê Van Zyl, is ‘n opsomming van SIL se transaksies wat groter as R500 000 is. Die inligting oor die 41 eiendomme kom uit ‘n berig van 26 September wat “voor publikasie deur Jordaan goedgekeur is”.
Die koerant sê hy het ook reeds erken dat die stelling dat SIL se enigste bate ‘n debiteureboek van R158,5 miljoen is, foutief was (die oorspronklike berig verwys na R158,5 miljoen; die regstelling meld ‘n bedrag van R158,8 miljoen). Sake 24 het ook geskryf: “SIL se bates bestaan uit dié debiteureboek asook ‘n beleggingseiendom waarvan die waarde op R24 miljoen geraam word.”
Van Zyl wys ook daarop dat die berig nie sê dat “alle” eiendomme in ‘n likwidasie vasgevang is nie, maar wel “die meeste” daarvan.
In sy repliek hierop, sê Crous dat Van Zyl nie uit die betrokke dokument die afleiding van “transaksies groter as R500 000” kon maak nie. Haar argument, vervolg hy, om te sê sy het geskryf “die meeste” en nie “alle” eiendomme nie, is nie die punt nie – sy beweer dat SIL se enigste bate ‘n debiteureboek is wat bestaan uit 41 eiendomme. “Of dit nou deel vorm van ‘n likwidasie of nie is nie die punt nie. Die boek bestaan nie uit 41 eiendomme nie.”
Hierdie item is in die verhoor deeglik bespreek en albei partye het saamgestem dat hierdie deel van die klag as afgehandel beskou kon word.
SIL wil al die eiendomme wat in die boek is, klaar bou en verkoop
Die sin in dispuut lui: “Die direkteure van Dynamic Wealth voer aan dat hulle die eiendomme waaraan beleggers in SIL blootgestel is, sal kan voltooi en dan verkoop.”
Crous sê hierdie sin insinueer dat SIL al die eiendomme wat in die boek is, klaar wil bou en verkoop. Dít, sê hy, is nie waar nie – SIL het net ses projekte geoormerk om in te herbelê (ontwikkel en dan verkoop). Hy sê ook dat 93% van die aandeelhouers ten gunste daarvan gestem het.
Van Zyl sê twee DW-direkteure het op haar vraag geantwoord dat hulle die eiendomme waaraan SIL blootgestel is, sal kan uitbestuur (bedoelende dat hulle dit verder self sal kan ontwikkel en dan verkoop, of net verkoop).
Hierop sê Crous dat een van bogenoemde DW-direkteure (mnr. Cobus van Wyk) ook ‘n direkteur van SIL is. Hy sê dat ‘n gewone joernalis dalk hierdeur verwar kon word – Van Zyl was egter daarvan bewus, “maar sy wil eenvoudig nie aanvaar dat dit twee maatskappye is nie”. Hy voeg by dat die enigste afleiding wat uit die sin in dispuut gemaak kan word, is dat al die eiendomme waarin SIL se aandeelhouers blootstelling het voltooi en verkoop gaan word – wat nie waar is nie.
In die verhoor het die koerant toegegee dat die verwysing na “die eiendomme” as “al die eiendomme” geïnterpreteer kan word en dat dit inderdaad onakkuraat is.
‘Voorsiening’ vir ‘twyfelagtige skuld’

Die storie sê dat SIL voorsiening gemaak het vir “twyfelagtige skuld” van R104,6 miljoen.

 

Crous sê maatskappye moet voorsiening maak vir slegte skuld – dis egter nie dieselfde as om skuld af te skryf nie. Die storie, so voer hy aan, skep egter daardie indruk. Hy voeg by dat SIL steeds aktief werk aan al die sake wat met die bedrag van R104,6 miljoen te make het. Die indruk wat die storie wek dat die R104,6 miljoen afgeskryf is, is dus foutief.
Sake 24 voer aan dat die berig glad nie na “afskrywing” of “slegte skuld” verwys nie – die term “twyfelagtige skuld” word gebruik.
In die verhoor het Crous aangedui dat hierdie deel van die klag eintlik op woordspeling neerkom en het dit daarom teruggetrek.
Al SIL se geld na CMM
Die sinne in dispuut lui: “Die eiendomstransaksies waarvoor SIL oorbruggingsfinansiering toegestaan het, is ‘n vervlegte web van wanaangewende geld. Beleggers in SIL was deur die Cash Management Fund van Corporate Money Managers (CMM, onder kuratorskap) belê in oorbruggingsfinansiering en eiendomsontwikkelings pleks van ‘n geldmarktrust.”
Crous sê dit wil lyk asof die joernalis (verkeerdelik) wil sê dat al die geld wat in SIL is, na CMM gegaan het. SIL het egter niks met CMM te doen nie: “Ons het nie daar belê nie, ons het nie geld daar gaan voorskiet nie, en ons het nie die besigheid begin nie. Ons enigste konnotasie is bloot dat van SIL se aandeelhouers se ‘rente’ daar op geëindig het (tydens die omskakeling van die fonds na die maatskappy)…” Hy sê ook dat DW en CMM nie een en dieselfde “plek” is nie.
Sake 24 sê die sinne is ‘n verwysing na geld wat SIL by CMM belê het, in wat aan SIL as ‘n geldmarktrust voorgehou is en deur CMM wan-aangewend is vir oorbruggingstransaksies – daar is geen sinspeling dat SIL die geld wanaangewend het nie.
Van Zyl sê ook dat Crous homself weerspreek met die stelling dat SIL niks met CMM te doen het nie – hy skryf self dat SIL se rente daar beland het. En: “Die berig gee ook nie weer dat SIL iets te doen het met CMM nie, behalwe dat beleggers in SIL se geld deur CMM aangewend word.” Sy voeg by dat sy, ná onderhoude met Jordaan, verskeie kere geskryf het dat ‘n bedrag van R230 miljoen van DW wat by CMM belê is, deur CMM wan-aangewend is. Sy sê die inligting tot haar beskikking dui daarop dat sowat R90 miljoen van SIL by CMM belê is.
Hierop sê Crous dat:
  • SIL nooit aangevoer het dat CMM geld wan-aangewend het nie – die klag is dat sy (verkeerdelik) daarop sinspeel dat al SIL se geld in CMM opgesluit is;
  • die berig nie duidelik aantoon dat SIL nie by die dag-tot-dag-bestuur van CMM betrokke was nie – die rede waarom die berig dit nie duidelik stel dat SIL nie vir die wan-aanwending van geld verantwoordelik was nie; en
  • Van Zyl haarself weerspreek – in ‘n vroeër berig het sy geskryf dat R232 miljoen (in die storie in dispuut is hierdie bedrag R90 miljoen) van SIL se geld by CMM gevestig is.
In die verhoor het die koerant toegegee dat die sinne in dispuut as die waarheid aangebied is, terwyl hy nagelaat het om te sê dat die bron vir daardie stelling uit ‘n verslag van die Raad van Finansiële Dienste kom. Die paneel het ook in ag geneem dat Crous daardie betrokke sin in die Raad se verslag betwis.
Sake 24 het ook toegegee dat geen geld van SIL in CMM belê was nie en dat dié stelling daarom vals is.
CMM se kurators lê beslag op al die eiendomme
Die storie sê: “Die Cash Managed Fund het blootstelling aan verskeie ontwikkelings van die omstrede mnr. Donovan Atkins en die kurators van CMM het beslag gelê op al die eiendom.”
Crous sê dis nie waar nie – Atkins het bloot sy aandeelhouding in die maatskappye wat die eiendomme besit aan die kuratore oorgeteken.
Sake 24 wys daarop dat die stelling in dispuut nie haar bewering is nie, maar dat dit ‘n aanhaling is van CMM se kurator, mnr. Graham Polson (en dat sy dit reeds in vorige berigte geskryf het).
Crous sê Van Zyl moes ook vir Atkins hieroor gekontak het.
In die verhoor het die koerant, naas die erkenning dat SIL nie geld in CMM belê het nie, ook erken dat hy die sin in dispuut aan ‘n bron moes toegedig het – soos die sin (“…die kurators van CMM het beslag gelê op al die eiendom…”) daar staan, word dit as die waarheid en nie as die mening van ‘n bron aangebied.
SIL het self ook oorbruggingsfinansiering toegestaan
Volgens die storie het SIL oorbruggingsfinansiering aan twee van die Atkins-ontwikkelings (Sagewood en Heritage Manor) toegestaan.
Crous sê wat Sagewood betref, kan al die kuratore in die wêreld probeer om daarop beslag te lê – SIL is en bly die eerste verbandhouer. Sagewood is voorts ‘n maatskappy wat deur SIL gelikwideer is. “Ons is die enigste krediteur wat ‘n eis tot op datum bewys het…” Dít, voeg hy by, is aan die joernalis verduidelik – wat nagelaat het om dit te skryf.
Hy kla ook oor die woord “finansiering” – hy sê daar is geen “finansiering” gedoen nie, slegs verdiskontering en vorderingsregte.
Sake 24 sê die verdiskonterings- en faktoreringstransaksie waarna Crous verwys, staan algemeen as oorbrugging bekend. Van Zyl verwys na ‘n e-pos (gedateer 16 Augustus 2006) van mnr. Cobus van Wyk, hoof- uitvoerende beampte van DW aan haar gerig, waarin hy die bedrywighede van SIP verduidelik as ‘n portefeulje wat ontwerp is om beleggers toegang tot ‘n beleggingsportefeulje te bied wat in oorbruggingsdienste spesialiseer – deur bank- en korporatiewe waarborge teen ‘n diskonto te verkoop. Dít beteken dat Crous wel oorbruggingsfinansiering doen, sê Van Zyl.
Die koerant het in die verhoor toegegee dat die sin in dispuut feitelik nie korrek is nie – SIL het nie oorbruggingsfinansiering aan die Sagewood- en Heritage Manor-ontwikkelings toegestaan nie.
SIL se blootstelling is R25 miljoen, verwag R24 miljoen
Die sin in dispuut lui: “SIL het blootstelling van R25 miljoen aan Sagewood en die direkteure van Dynamic Health is vol vertroue dat hy ‘n aanbod van R24 miljoen daarvoor sal kry.”
Crous sê dat niemand in SIL ooit so ‘n stelling gemaak het nie. Hy voeg by dat Van Zyl verswyg dat SIL ‘n eis-bewys van R24 miljoen het, asook dat, sou die maatskappy ontwikkel, SIL dalk meer as R30 miljoen op die eiendom kan realiseer (dit, sê hy, noem sy ook nie in die storie nie).
Sake 24 sê op die perskonferensie van 22 September het Van Wyk gesê dat SIL blootstelling van R24 miljoen aan Sagewood het en dat Crous agterna in ‘n onderhoud aan haar gesê het: “Ons kan dit verkoop vir R25 miljoen.”
In die verhoor het die koerant toegegee dat die bedrae in die sin wat betwis word inderdaad nie korrek is nie. Die sin moes gelui het: “SIL het blootstelling van ongeveer R22.14 miljoen (en nie R25 miljoen nie) aan Sagewood en die direkteure van Dynamic Health is vol vertroue dat hy ‘n aanbod van R25 miljoen (nie R24 miljoen nie) daarvoor sal kry.”
Hierdie is egter meer as net feite-foute. Die oorspronklike sin suggereer dat ‘n verlies van R1 miljoen op die transaksie (of ‘n moontlike transaksie) gely sou word; die korrekte sin toon inderwaarheid ‘n “wins” van bykans R3 miljoen.
Die sin skep daarom ‘n verkeerde indruk. Wanneer dit saam met die res van die storie gelees word, dra dit verkeerdelik by tot die oorwegend negatiewe storie (gesien vanuit SIL se hoek).
Die verwysing na ‘ontwikkelaar’
Die storie verwys telkens na die ontwikkelaar (van Sagewood en Heritage Manor) wat retensieregte het. Sy naam word egter nooit genoem nie.
Crous sê die ontwikkelaar na wie die joernalis verwys, is mnr. Frikkie Mallet, ‘n verteenwoordiger van Proud Afrique (PA). Hy sê dat PA nie die ontwikkelaar is nie, maar die bouer.
Sake 24 wys daarop hy reeds ‘n regstelling in hierdie verband gepubliseer het – dis die bouer, en nie die ontwikkelaar nie, wat die retensiereg uitoefen.
Al die partye in die verhoor het saamgestem dat die koerant reeds hierdie deel van die klag reggestel het.
SIL benodig nog sowat R19 miljoen
Die sin in dispuut lui: “SIL…sal nog sowat R19 miljoen nodig hê om die huise te kan voltooi en te verkoop.” Die volgende sin sê dis onwaarskynlik dat SIL R24 miljoen vir die grond sal kry.
Dié stellings, sê Crous, is foutief en buite konteks.
Hy sê eerstens dat daar 288 verkoopbare erwe in Sagewood was – altesame 151 daarvan is verkoop en SIL is daarvoor betaal. Die 137 erwe wat oorbly, kan individueel verkoop word en sal ‘n minimum van R28 miljoen oplewer. SIL word boonop meer as R24 miljoen geskuld in terme van sy eis.
Tweedens voer Crous aan dat die eiendomme op ‘n plot-en-plan-basis verkoop word. Die R19 miljoen wat nodig is om mee te bou, gaan SIL dus niks kos nie.
In Sake 24 se regstelling (op 28 November) sê die koerant dat hy verkeerdelik berig het dat SIL R19 miljoen benodig om die ontwikkeling te voltooi: “Finansiering van R19 miljoen is nodig om die ontwikkeling te voltooi.”
Van Zyl sê dat Crous se inligting oor die erwe vir haar nuut is – die gepubliseerde inligting is dit wat in daardie stadium aan haar bekend was “en kan nie afgelei word uit die dokumente wat tot my beskikking was nie”.
Al die partye in die verhoor het saamgestem dat die koerant reeds hierdie deel van die klag reggestel het.
Ontwikkelaar het retensiereg op Heritage Manor
Die sin waaroor Crous kla, lui: “Dieselfde ontwikkelaar het ook die retensiereg op Heritage Manor, aan wie SIL oorbruggingsfinansiering van R509 016 toegestaan het.”
Crous sê SIL het aanvanklik R4 miljoen uitbetaal in twee verdiskonteringstransaksies waarvan die maatskappy R5,7 miljoen teruggekry het. Hierdie feit, sê Crous, is nie deur die verskaggewer geverifieer nie. Hy voeg by dat die joernalis sommer aangeneem het dat SIL in Heritage Manor belangstel. Dit, sê hy, is nie waar nie – die risiko is nie die moeite werd vir R500 000 nie.
Oor die sin wat lui dat die kurators van CMM sê dat die geld vir Sagewood en Heritage Manor deur CMM aan Atkins betaal is maar dat dit nooit aan die kontrakteurs oorbetaal is nie, sê Crous dat dit nie SIL se probleem is nie. “Ons het niks daarmee te doen nie.”
Van Zyl stem saam dat dit nie SIL se probleem is nie, maar voeg by dat dit ook nie so geskryf is nie. “Dit is bloot genoem om aan te dui hoe verwikkeld en vervleg die wanaanwending van geld is, van SIL na CMM en Atkins en nou vermoedelik wanbestee.”
Die koerant het in die verhoor toegegee dat die:
  • woord “ontwikkelaar” verkeerd was en dat dit “bouer” moes gewees het. (Dis ‘n belangrike onderskeid, want die ontwikkelaar het – in ‘n stadium – retensiereg op die hele ontwikkeling, terwyl ‘n bouer retensiereg op individuele eiendomme kan hê.);
  • dat die verwysing na SIL eintlik “SIP” moes gelees het; en
  • die verwysing na R509 016 se “oorbruggingsfinansiering” eerder “boete-rente” moes gelui het.
Terwyl daar geen verskoning was vir eersgenoemde twee foute nie, het die paneel homself die vraag afgevra hoe redelik dit vir die verslaggewer was om die woord “oorbruggingsfinansiering” in plaas van “boete-rente” te gebruik. Die paneel het bevind dat Van Zyl nie verkwalik kon word dat sy nie van “boete-rente” geweet het nie, asook dat dit redelik vir haar was om te glo dat dit “oorbruggingsfinansiering” was – sy het ‘n amptelike dokument in die hande gekry wat straks so vertolk kon word en daarbenewens sê sy dat ‘n betroubare bron vir haar gesê het die R509 016 is oorbruggingsfinansiering.
Terwyl die paneel haar dit toegegee het, is egter ook bevind dat sy die sin as die waarheid aanbied sonder om na ‘n bron (‘n dokument of ‘n persoon) te verwys. Die koerant het toegegee dat sy gefouteer het om nie na ‘n bron te verwys nie.
SIL het R74,9 miljoen as oorbruggingsfinansiering verskaf
Die storie verwys na SIL wat “oorbruggingsfinansiering van R74,9 miljoen verskaf aan maatskappye van mnr. Attie du Plooy, ‘n voormalige direkteur van The Bridging Factory wat ‘oorbruggingsgeleenthede’ vir SIL geïdentifiseer het.”
Dié stelling, sê Crous, is verkeerd – die bedrag is eerder R36,1 miljoen. Hy voeg by dat SIL skikkingsooreenkomste met Du Plooy aangegaan het ten bedrae van R55 miljoen.
Sake 24 erken dat die bedrae verkeerd is en sê dat hy dié foute op 28 November reggestel het – die totale bedrag (kapitaal en fooie) wat van Du Plooy teruggevorder moet word, is R74,9 miljoen en oorbrugging van R36,1 miljoen is aan hom toegestaan.
Die regstelling lui: “Dié bedrae (R74,9 miljoen en R2,1 miljoen) is egter die kapitaal plus fooie wat terugvorderbaar is van Du Plooy en Nortjé. Die bedrae wat vir oorbrugging toegestaan is, is onderskeidelik R36,1 miljoen en R1,9 miljoen.”
Al die partye in die verhoor het saamgestem dat die koerant reeds hierdie deel van die klag reggestel het.
Eise van Ovation en Republic National Securities
Die berig lui: “Ander konkurrente eisers van R1 miljoen of meer is Ovation (onder kuratorskap) en Republic National Securities (gesekwestreerde boedel van wyle mnr. Angus Cruickshank, wat volgens kuratorsverslae via Ovation geld van Fidentia gekry nie).”
Crous voer aan dat Ovation en Republic National Securities se eise nie bewys is nie – dis ingedien, maar van die hand gewys.
Sake 24 sê sy inligting oor die “beweerde eise” kom van die webwerf van die trustees van Du Plooy se boedel, Sechaba, betreffende ‘n dokument getiteld Schedule of Proven Claims.
Crous het in die verhoor gesê dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
SIL ‘n konkurrente eiser
Volgens die storie is SIL ‘n konkurrente eiser in Du Plooy se boedel. Dit verwys ook na Nedbank, Absa en ENB wat “gesekureerde eise” van onderskeidelik meer as R10 miljoen, R21 miljoen en R1,7 miljoen teen Cruickshank se boedel het.
Crous sê dat hierdie stelling ‘n halwe waarheid is. Die banke het wel preferente eise, maar “daar is op die weergawe van die likwidateur ‘n oorwaarde van so R15 miljoen in die boedel”. SIL, sê Crous, is tans op 85% daarvan geregtig as sy eis as konkurent slaag. Crous voeg by dat SIL se mening oor hierdie saak nie gerapporteer is nie.
Sake 24 sê dat die berig feitelik korrek is ten opsigte van SIL se status as konkurrente eiser. Die koerant voeg by: “Die feit dat SIL in ‘n regsgeding betrokke is om as preferente eiser behandel te word, is nuwe inligting en maak nie die stelling in die berig verkeerd nie.”
Van Zyl sê ook dat, as daar ‘n likwidateur is wat bewus was van die “oorwaarde” is dit nie die persoon met wie sy gepraat het nie. Sy het mnr. Cloete Murray, mede-trustee van Du Plooy se boedel, aangehaal en nie ‘n likwidateur nie – “en hy het nie die inligting gegee nie”.
Crous het in die verhoor gesê dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
SAID se eis van R22 miljoen teen boedel
Die storie haal Murray aan wat sê dat die SA Inkomstediens (SAID) reeds kennis gegee het “dat hy ‘n eis van R22 miljoen teen Du Plooy se boedel het”.
Dít, sê Crous, is nie waar nie – die likwidateur het aan SIL gesê dat die SAID nooit so ‘n eis ingedien het nie.
Sake 24 sê hy het Murray aangehaal wat gesê het dat die SAID reeds kennis gegee het dat hy ‘n eis van R22 miljoen teen Du Plooy se boedel het. Van Zyl voer ook aan dat die berig melding maak van die SAID wat “kennis gegee” het van sy eis en argumenteer dat daar ‘n verskil is tussen “kennis gee” en “indien”.
Crous het in die verhoor gesê dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
Vertroulike inligting
Crous verwys verskeie kere in sy klag na inligting in die storie wat “vertroulik” sou wees. Hy sê dat SIL graag wil weet waar sy daaraan gekom het.
Sake 24 antwoord dat geen journalis of publikasie verplig is om sy bronne bekend te maak nie.
Crous het in die verhoor gesê dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
‘Verskeie oorbruggingstransaksies’; R3.1 miljoen toegestaan
Die sinne in dispuut lui:
  • “Beleggersgeld van altesame R232 miljoen in SIL is gebruik vir verskeie oorbruggingstransaksies”; en
  • “SIL het ook oorbruggingsfinansiering van R3.1 miljoen toegestaan aan die ewe omstrede eiendomsontwikkelaar mnr. Renaldo Nortjé…”
Crous voer aan dat die verwysing na “verskeie” oorbruggingstransaksies misleidend is – vroeër het die storie na “41 transaksies” verwys. Hy ontken ook dat R3,1 miljoen se “finansiering” aan Nortjé toegestaan is – daar is slegs R1,9 miljoen “verdiskonteer”.
Sake 24 sê dat die berig nêrens na 41 “transaksies” verwys nie – daar staan 41 “eiendomme”. Die koerant sê dat dit ook so in die berig van 26 September staan (wat deur ‘n direkteur goedgekeur is). Op hierdie 41 eiendomme, argumenteer die koerant, is verskillende oorbruggingstransaksies gedoen.
Van Zyl voeg by dat sy verkeerdelik berig het oor die bedrag wat aan Nortjé toegestaan is en dat dit reeds in die berig van 28 November reggestel is.
Die partye in die verhoor het saamgestem dat die koerant hierdie deel van die klag reeds reggestel het.
SIL se “ingryping” wat 24 eiendomme in iemand se boedel ingetrek het
Die sin in dispuut lui: “Die direkteure van Dynamic Wealth meen hulle sal R179,5 miljoen van die oorspronklike R232 miljoen wat in SIL belê is, kan terugkry.”
Crous kla dat die storie weer eens vir DW bysleep. Hy sê ook die kapitaal ter sprake in die voorkeuraandele is R180 miljoen en dat SIL in hierdie stadium R179,5 miljoen daarvan kan terugkry.
Sake 24 sê dat hy reeds genoegsaam op hierdie saak gereageer het. Die koerant voeg egter by dat dit beter sou gewees het om te sê “SIL verwag” (om ‘n sekere bedrag te kan terugkry).
Die koerant voer aan dat die bedrae waarna verwys word, van die dokument kom wat SIL se transaksies bevat. Van Zyl voeg by dat dit uit verskeie bronne duidelik is dat R232 miljoen oorspronlik in SIL belê is en dat kapitaal van R171,4 miljoen aangewend is – wat 71% van die oorspronklike beleggingsbedrag is. Die terugvordering hiervan, sê Van Zyl, is egter onderhewig aan baie voorwaardes (soos aangedui op bogenoemde dokument). Sy skryf: “SIL sal moet slaag met eise teen gelikwideerde en gesekwestreerde boedels (wat reeds in die geval van Du Plooy, Sagewood en Heritage Manor onwaarskynlik lyk), en met die inneem en herverkoop van eiendom (soos in die geval van Nortjé). As dit nie gaan gebeur nie, gaan die terugvorderbare bedrag baie minder wees.”
In die verhoor het al die partye, die paneel inkluis, saamgestem dat hierdie deel van die klag reeds by die eerste deel van die klag geïnkorporeer is.
Die opskrif
 
Die opskrif lui: Min kan kom van Dynamic-belofte.
Crous kla (weer eens) dat Dynamic Wealth niks met SIL te make het nie.
Sake 24 volstaan by sy vorige argument oor die verband tussen bogenoemde twee maatskappye. Die koerant sê egter dat die aanhaling (Die maatskappy se eniste bate is ‘n debiteureboek van R158,5 miljoen) ‘n fout was en dat dit reeds (op 28 November verlede jaar) reggestel is.
In die verhoor het al die partye saamgestem dat die koerant reeds hierdie deel van die klag reggestel het.
BEVINDING
SIL met DW verwar
Hoewel juridies gesproke, SIL en DW inderdaad aparte entiteite is, dien 40% van SIL se direkteure ook op DW. Dit wys op ‘n noue werksverbintenis tussen die twee maatskappye en regverdig die manier waarop die storie oor dié saak berig. Hoewel die koerant meer behoort te gedoen het om te verduidelik dat SIL en DW twee aparte maatskappye is, kom dit nie op ‘n verbreking van die Perskode neer nie. Die basis vir hierdie besluit is die de facto noue verbintenis tussen SIL en DW. Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
 
Lys van eiendomme; enigste bate
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat albei partye dit eens was dat dit as afgehandel beskou kon word.
SIL wil al die eiendomme wat in die boek is, klaar bou en verkoop
In die verhoor het die koerant toegegee dat die verwysing na “die eiendomme” as “al die eiendomme” geïnterpreteer kan word en dat dit inderdaad onakkuraat is. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode, wat lui: “Die pers is verplig om nuus waarheidsgetrou (en) akkuraat…te rapporteer.
‘Voorsiening’ vir ‘twyfelagtige skuld’
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat Crous in die verhoor aangedui het dat hierdie deel van die klag eintlik op woordspeling neerkom en dit daarom teruggetrek het.
Al SIL se geld na CMM
Die storie bied die sinne in dispuut as die waarheid aan, maar laat na om te sê dat die bron vir daardie stelling uit ‘n verslag van die Raad van Finansiële Dienste kom. (Die paneel het ook in ag geneem dat Crous daardie betrokke sin in die Raad se verslag betwis.) Dit is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode wat lui: “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite hetsy deur…wesenlike weglatings…”
Die stelling dat geld van SIL in CMM belê was, is vals. Dit verbreek Art. 1.1 van die Perskode.
CMM se kurators lê beslag op al die eiendomme
Naas die koerant se erkenning dat SIL nie geld in CMM belê het nie, het hy ook erken dat hy die sin in dispuut aan ‘n bron moes toegedig het – soos die sin (“…die kurators van CMM het beslag gelê oop al die eiendom…”) daar staan, word dit as die waarheid en nie as die mening van ‘n bron nie aangebied. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode.
SIL het self ook oorbruggingsfinansiering toegestaan
Die koerant het in die verhoor toegegee dat die sin in dispuut feitelik nie korrek is nie – SIL het nie oorbruggingsfinansiering aan die Sagewood- en Heritage Manor-ontwikkelings toegestaan nie. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode.
SIL se blootstelling is R25 miljoen, verwag R24 miljoen
Die bedrae in die sin wat betwis word, is inderdaad nie korrek is nie. Die sin moes gelui het: “SIL het blootstelling van ongeveer R22.14 miljoen (en nie R25 miljoen nie) aan Sagewood en die direkteure van Dynamic Health is vol vertroue dat hy ‘n aanbod van R25 miljoen (nie R24 miljoen nie) daarvoor sal kry.” Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode.
Omdat die verkeerde sin op ‘n verlies dui, terwyl dit eintlik wins moes gewees het, skep die sin boonop ‘n verkeerde indruk. Wanneer dit saam met die res van die storie gelees word, dra dit verkeerdelik by tot die oorwegend negatiewe storie (gesien vanuit SIL se hoek). Dié verkeerde indruk is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode.
Die verwysing na ‘ontwikkelaar’
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat albei partye dit eens was dat die koerant dit reeds reggestel het.
SIL benodig nog sowat R19 miljoen
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat albei partye dit eens was dat die koerant dit reeds reggestel het.
Ontwikkelaar het retensiereg op Heritage Manor
Die koerant het verkeerdelik die woord “ontwikkelaar” gebruik, terwyl dit “bouer” moes gewees het. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode.
Die koerant het verkeerdelik die akroniem “SIL” gebruik het, terwyl dit “SIP” moes gewees het. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode.
Die storie het verkeerdelik na R509 016 se “oorbruggingsfinansiering” eerder as na “boete-rente” verwys. Die paneel het egter bevind dat Van Zyl, met die inligting tot haar beskikking, redelik gerapporteer het – sy het ‘n amptelike dokument in die hande gekry wat straks so vertolk kon word en daarbenewens sê sy dat ‘n betroubare bron vir haar gesê het die R509 016 is oorbruggingsfinansiering. Van Zyl het egter die sin as die waarheid aanbied sonder om na ‘n bron (‘n dokument of ‘n persoon) te verwys. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode.
SIL het R74,9 miljoen as oorbruggingsfinansiering verskaf
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat albei partye dit eens was dat die koerant dit reeds reggestel het.
Eise van Ovation en Republic National Securities
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat Crous in die verhoor gesê het dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
SIL ‘n konkurrente eiser
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat Crous in die verhoor gesê het dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
SAID se eis van R22 miljoen teen boedel
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat Crous in die verhoor gesê het dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
Vertroulike inligting
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat Crous in die verhoor gesê het dat hy hierdie deel van die klag laat vaar.
‘Verskeie oorbruggingstransaksies’; R3.1 miljoen toegestaan
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat die koerant reeds hierdie deel van die klag reggestel het.
SIL se “ingryping” wat 24 eiendomme in iemand se boedel ingetrek het
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat dit reeds by die eerste deel van die klag geïnkorporeer is.
Die opskrif
 
Die paneel maak geen bevinding oor hierdie deel van die klag nie omdat die koerant reeds hierdie deel van die klag reggestel het.
OPTREDE
Sake 24 word tereggewys omdat hy Art. 1.1 van die Perskode verbreek het met sy verwysing na:
  • “die eiendomme”;
  • die stelling dat geld van SIL in CMM belê was;
  • SIL wat oorbruggingsfinansiering aan die Sagewood- en Heritage Manor-ontwikkelings sou toegestaan het;
  • SIL se blootstelling van R25 miljoen en ‘n aanbod van R24 miljoen;
  • die verkeerde indruk (verlies, eerder as wins) wat bogenoemde geskep het;
  • die verkeerde gebruik van die woord “ontwikkelaar” in plaas van “bouer”; en
  • die verkeerde gebruik van die die akroniem “SIL” in plaas van “SIP”.
Die koerant word ook tereggewys omdat hy Art. 1.2 van die Perskode verbreek het met sy nalating om na ‘n bron of bronne te verwys (en intussen die stelling as die waarheid aanbied) wat betref die stelling dat:
  • beleggers in SIL deur CMM in oorbruggingsfinansiering belê is;
  • die kurators van CMM beslag gelê het op al die eiendom; en
  • ‘n bedrag van R509 016 oorbruggingsfinansiering was.
Sake 24 word versoek om al bogenoemde reg te stel.
Die koerant word gevra om ‘n teks voor te berei waarin die klaer, die datum van publikasie en die storie se opskrif genoem word. Daarna volg ‘n opsomming van die vernaamste klagte.
Die koerant word versoek om daarna die “optrede” soos hierbo uiteengesit, punt vir punt te noem en in konteks te stel en om ook te noem dat die paneel die koerant oor hierdie sake tereggewys het en gevra het dat dit reggestel moet word.
Daarna kan die koerant, as hy so wil, ruimte gee aan waar die klagte, om watter rede ookal, of van die hand gewys is of nie gehanteer is nie.
Die teks moet asseblief, as die laaste sin, die volgende woorde bevat: Besoek www.presscouncil.org.za (findings, 2011) vir die volledige bevinding.
Die koerant moet ook asseblief hierdie teks aan die paneel vir goedkeuring voor publikasie voorlê.
APPèL
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word.
Johan Retief (Adjunk- Persombudsman)
Franz Krüger (pers-verteenwoordiger)
Peter Coetzee (openbare verteenwoordiger)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *