Renette du Plessis vs Beeld

Complainant: Renette du Plessis

Article: Dié Hervormers kla hul kerk aan – Vies apartheid is teologies verwerp. Dié storie is ook in Volksblad gepubliseer,                        getiteld Spanning binne kerk bereik breekpunt – Beswaardes verklaar staat van belydenis

Date: 1 Augustus 2012

Respondent: Beeld

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman

1 Augustus 2012
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van me. Renette du Plessis en Beeld, asook op ‘n vergadering wat ek gehou het op 31 Julie 2012 in Johannesburg. Dié vergadering is bygewoon deur Du Plessis, asook deur Peet Kruger, Marga Ley en Neels Jackson van Beeld.
Klag
Me. Renette du Plessis kla oor ‘n storie in Beeld op 4 Junie 2012 onder die opskrif Dié Hervormers kla hul kerk aan – Vies apartheid is teologies verwerp. Dié storie is ook in Volksblad gepubliseer, getiteld Spanning binne kerk bereik breekpunt – Beswaardes verklaar staat van belydenis.
Sy ontken dat die uitroep van ‘n staat van belydenis iets met apartheid te doen het en sê die verwysing daarna in die storie is misleidend. Sy kla ook dat die onderkop misleidend en onakkuraat is.
 
Ontleding
Die storie, geskryf deur Neels Jackson, sê dat spanning in die Hervormde Kerk breekpunt bereik het toe beswaardes (die sogenaamde steedsHervormers) ‘n staat van belydenis teen die kerk verklaar het. “Verskeie gemeentes oorweeg dit blykbaar om hul bande met die kerk te verbreek.” Daarin verklaar hulle onder meer dat ‘n besluit van die buitengewone algemene kerkvergadering (BAKV) die evangelie van Jesus Christus verloën het – en in dié besluit word die teologiese regverdiging van apartheid na berig word verwerp. Jackson skryf ook dat die steedsHervormers volhou dat hul beswaar nie ‘n politieke een is nie, “maar gemik is op die onderliggende teologie van daardie besluit wat neerkom op ‘n verloëning van Christus”.
Staat van belydenis, apartheid
Die sin in dispuut lui: “Met die besluit waarna die steedsHervormers verwys, het die BAKV gestaan by die standpunt van die vorige jaar se algemene kerkvergadering waarin die teologiese regverdiging van apartheid verwerp is.”
Die besluit waarna die berig verwys, sê dat die Hervormde Kerk “…verklaar dat die politieke beleid van apartheid…nie teologies geregverdig kan word nie, en herroep hiermee alle goedkeurings in die verlede van die beleid in uitsprake deur die Kerk en namens die Kerk. Dit was in stryd met die evangelie van Jesus Christus.”
Hoewel Du Plessis nie in die storie genoem word nie, het sy die staat van belydenis op die vergadering voorgelees en is daarom persoonlik by die berig betrokke.
Sy motiveer haar klag soos volg:
  • Die besware het nooit oor apartheid gegaan nie, maar was prosedureel en teologies van aard; en
  • Sy het self die staat van belydenis voorgelees en die motivering daarvan voorgehou – en het nooit verklaar dat dit iets te make het met ontevredenheid dat die kerk apartheid teologies verwerp het nie.
Sy voer aan dat Jackson oor bogenoemde ingelig was, en dat sy verdraaide en subjektiewe beriggewing ‘n “baie diep emosionele en heilige gebeurtenis ontheilig en verlaag (het) tot ‘n politieke debat”.
Du Plessis vra dat die koerante ‘n regstelling plaas en dit duidelik stel waaroor die staat van belydenis gaan: “Ons bely dat Jesus Christus waarlik God en mens is, uit ‘n maagd gebore, aan die kruis gesterf het, uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het.”
In haar reaksie op die koerant se verweer sê Du Plessis dat dit “…misleidend was om die aflê van die staat van belydenis te koppel aan ‘n standpunt van die beswaardes dat hulle ongelukkig is oor die Kerk apartheid verwerp (het)”.
Jackson sê dat die doel van die berig nie was om volledig verslag te doen oor die inhoud van die staat van belydenis nie – daaroor het hy wel sowat ‘n week later berig.
Hy kom tot die gevolgtrekking dat apartheid vir die steedsHervormers ‘n belangrike kwessie bly. “Hoewel hulle die besware teen die besluite oor ‘n teologiese boeg gooi, en ook ander teologiese kwessies bygesleep het, is ‘n wesenlike deel van hul besware ten minste indirek gerig teen teologie wat apartheid verwerp ten gunste van teologie wat apartheid toelaat…”
Du Plessis het kern van die saak reg opgesom (afgesien van die feit dat die geskil nie oor die verwerping van apartheid gaan nie, maar inderdaad oor die verwerping van die teologiese regverdiging van apartheid), naamlik dat dit hier gaan oor die vraag of Jackson geregverdig was om daardie koppeling te maak of nie.
Anders gestel: Ek moet nie besluit wie van die steedsHervormers of die Hervormers reg is oor allerlei sake nie – my enigste taak is om vas te stel of die joernalistiek soos deur Jackson bedryf, aan die vereistes van die Perskode voldoen.
In die verhoor het die duidelik geword dat daar twee sake ter sprake is – ‘n hofsaak wat handel oor die verkeerde prosedure wat na bewering gevolg is (wat betref die aanvaarding van die besluit dat die teologiese regverdiging van apartheid verkeerd is), en die staat van belydenis, wat handel oor verskeie teologiese kwessies.
Eerstens, oor die prosedure en die hofsaak: (Du Plessis verduidelik dat die Kerkorde vereis dat die gemeentes vooraf kennis moes gekry het en dat dit nie gebeur het nie – vandaar die hofsaak.) Dit is vir my naamlik moeilik om te glo dat mense wat met ‘n besluit saamstem, ‘n instansie hof toe sal neem oor prosedure. Dis baie meer redelik om te aanvaar dat mense wat beswaard is oor die inhoud van ‘n besluit tot so ‘n stap sal oorgaan.
My voorlopige gevolgtrekking is daarom dat dit redelik is om te aanvaar dat die beswaardes wat die staat van belydenis onderteken het, inderdaad nie saamgestem het met die kerk se verwerping van die teologiese regverdiging van apartheid nie – wat Jackson se koppeling van dié twee sake regverdig.
Tweedens, oor die staat van belydenis: Dit is waar dat hierdie dokument nie na apartheid of die teologiese verwerping/aanvaarding daarvan verwys nie.
Ek is egter nie oortuig daarvan dat die staat van belydenis van die besluit oor apartheid geïsoleer kan word nie. Trouens, in Du Plessis se latere korrespondensie (waar sy oor die kerk as volkskerk skryf) sê sy: “Jy kan nie iets as sonde verklaar as jou eie grondwet strydig is daarmee nie.”
Hierdie opmerking verdien verdere kommentaar.
Dis verwarrend dat Du Plessis in die verhoor telkens gesê het dat ‘n volkskerk nie aan apartheid gelykgestel kan word nie, en tog maak sy bogenoemde stelling terwyl sy oor ‘n volkskerk skryf. Die kerk het immers nie die idee van ‘n volkskerk tot sonde verklaar nie? Dit het tog oor die teologiese regverdiging van apartheid gegaan?
Hieruit lei ek af dat Du Plessis:
  • meen dat die kerk se gewraakte besluit strydig met die Kerkorde is (dit gaan hier om meer as prosedure) en dat sy daarom inderdaad daarteen gekant is; en
  • omgekeerd, meen dat die Kerkorde sodanige regverdiging goedkeur.
Ek gee Du Plessis volledig toe dat die staat van belydenis oor teologiese sake handel, uit bekommernis dat die gnostiek (met sy gewaande panteïstiese tendens) en die gelykskakeling van godsdienste die kerk kan binnekom. Dit gaan dus om meer as apartheid.
Ek meen egter ook dat dit redelik is om te aanvaar dat die besluit oor apartheid die teologiese verskille in die Kerk wat reeds bestaan het (soos deur Du Plessis op die verhoor telkens uitgewys) op die spits gedryf het.
In korrespondensie ná die verhoor skryf Du Plessis dat die kwessie van dwaalleer al vóór die apartheidsbesluit ter sprake gekom het. Dit bevestig eenvoudig my gevolgtrekking dat daardie besluit nie die begin van die probleme was nie, maar slegs die katalisator daarvan.
Jackson se koppeling van die twee sake was om daardie rede (weer) geregverdig.
Oor Du Plessis se argument dat die staat van belydenis nie oor apartheid gaan nie en dat daardie woord nie daarin voorkom nie: Natuurlik verskil die twee state van belydenis in terme van inhoud, agtergrond en doel, maar ek kan eenvoudig nie die ooreenkoms tussen die een van die destydse NG Sendingkerk en die Hervormde Kerk s’n nie miskyk nie. Die politieke en sosiaal-maatskaplike konteks van eersgenoemde was die donkerste jare van apartheid – die tagtigerjare. Die NGSK het pas besluit dat die teologiese regverdiging van apartheid sonde is, waarop ‘n staat van belydenis en later die Belydenis van Belhar gevolg het. In nie een van daardie twee dokumente verskyn die woord apartheid nie – hoewel almal geweet het wat die konteks was.
Ek neem ook hier in ag dat ds. Gawie Wolmarans van die steedsHervormers onlangs op die internet geskryf het: “Ek het geen twyfel daaroor dat die notulering van teenstemme oor Besluit 54 (die gewraakte besluit) gedryf is deur ‘n woede van die afgevaardigdes oor die indruk dat die eerbare politieke bedoelings en optrede van ons ouers en voorouers nou amptelik deur die Kerk tot sonde verklaar is nie.”
Hy voer wel aan dat die komitee wat daarna verkies is, hom nie deur politieke emosies laat lei het nie.
Ek aanvaar dit, soos Du Plessis ook telkemale geargumenteer het, maar dit maak nog nie die feit ongedaan nie dat dit óók redelik is om te aanvaar dat die apartheid-besluit tot die oopbars van die sweer gelei het.
Gegee al bogenoemde oorwegings, was Jackson se koppeling van die besluit oor apartheid met die staat van belydenis inderdaad geregverdig.
Gelukkig het Jackson sowat ‘n week later oor die teologiese verskille geskryf, wat in die staat van belydenis verwoord word (Stryd oor sewe punte). Dit het die nodige konteks gebring, wat nie in die beknopte ruimte van die eerste berig geakkommodeer kon word nie.
Onderkop
Die onderkop lui: “Vies apartheid is teologies verwerp”.
Gegee al bogenoemde argumente, meen ek dat bogenoemde die inhoud van die berig genoegsaam reflekteer om nie in stryd met die Perskode te wees nie.
Algemene opmerking
In haar klag skryf Du Plessis: “Ek het nie objektiewe beriggewing deur mnr. Neels Jackson verwag nie. Ek het egter nie verwag dat hy die waarheid so blatant sal verdraai nie.” Sy sê ook: “Vir sover mnr. Jackson wil voorgee dat die dag se verrigtinge en veral die uitroep van die status confessionis met apartheid te doen het, verkondig hy ‘n absolute leuen.”
Ek het bevind dat Jackson geregverdig was in sy beriggewing. Bogenoemde kwetsende opmerkings was daarom ongelukkig, ongevraag en sonder basis – en ek meen dat Du Plessis hom ‘n verskoning verskuldig is of, op die minste, dat sy haar woorde sal terugtrek.
Ek het egter geen jurisdiksie oor haar nie en kan haar daarom nie dwing om dit te doen nie.
Bevinding
Die klag word van die hand gewys.
 Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *