Phillip Bruwer vs Sondag

Bevinding deur die Adjunk- Persombudsman

9 November 2011
Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Phillip Bruwer en die koerant Sondag.
Klag
Mnr. Phillip Bruwer kla oor ‘n storie in Sondag, gepubliseer op 9 Oktober 2011 onder die opskrif Moffies geklits – ‘F*k uit my plek uit!’ en toe waai die hare in restaurant (bladsy 2).
Hy kla die gebruik van die woorde “moffie” en “moffiemoerdery” is:
  • beledigend en verkleinerend;
  • in swak smaak; en
  • haatspraak.
Ontleding
Hoewel Bruwer nie in die storie genoem word nie, het ek besluit om sy klag te aanvaar aangesien hy genoegsame persoonlike belang by die berig het.
Die storie, geskryf deur Virginia Keppler, sê dat die eienaar van ‘n eetplek gays met geweld verjaag het. Keppler haal die eienaar aan wat na bewering sou gesê het: “Julle fok met ons. Ons soek julle moffies nie om ons nie. Julle is absoluut vuilgoed en ek soek julle nie hier nie! Fok uit my plek uit!” Die storie vertel van “ses moffies wat byna doodgeslaan is”, gebruik die woord “moffiemoerdery”, en sê dat die “moffies” volgens die eienaar eerste “skewe kommentaar” gelewer het. Na berig word, gaan die mans die voorval by ‘n polisiekantoor aanmeld.
Ek kyk nou na die meriete van die klag:
Beledigend, verkleinerend
Sowel die storie as die opskrif verwys na gay mans as “moffies”.
Bruwer kla dat hierdie woord net so beledigend en verkleinered teenoor gay mans is as wat die “k”-woord vir swart mense is. Hy sê dat die storie verdere skade berokken het en dat dit nie aan pers-etiese standaarde voldoen het nie.
Die redakteur reageer tweëerlei – hy verwys eers na die koerant en fokus daarna op die storie self.
Sondag sê dat hy oor die jare heen ‘n reputasie as ‘n gay-vriendelike koerant opgebou het.
Die redakteur verduidelik dat:
  • altesaam 11% van die lesers en 18% van sy personeel gay is, insluitende hyself en die nuusredakteur;
  • die koerant se amptelike standpunt is dat seksuele oriëntasie nie ‘n keuse is nie, maar die gevolg van ‘n komplekse interaksie tussen biologie en omgewing;
  • die koerant gay lesers met respek hanteer, maar sonder pretensie – “…die mees volwasse en gabalanseerde benadering moontlik”; en
  • meeste van die koerant se heteroseksuele redaksielede, indien nie almal nie, het verskeie gay vriende en familielede.
Uit bogenoemde kom die koerant tot die volgende gevolgtrekking: “Om Sondag van vooroordeel teenoor gay mense te beskuldig, is dus verregaande.”
Nou, die storie: Die koerant ontken dat die term “moffie” neerhalend of verkleinerend is. Die redakteur sê dat die term in die gay gemeenskap self ingeburger en in algemene gebruik is.
Hy verwys dan na voorbeelde hiervan in die gewone spreektaal:
  • “Magtig, maar is hierdie moffie darem nou vir lus vir ‘n koppie koffie”; en
  • “Jy gaan vandag darem ‘n ou moffie se hart bly maak as jy gaan vrede maak met Fanus.”
Hierop reageer Bruwer soos volg:
  • Hy waardeer die koerant se standpunt oor sy gay-vriendelikheid, maar sê dat dit nie in die berig sigbaar is nie;
  • ‘n Meningspeiling onder die 11% gay lesers sal aantoon dat baie van hulle die gebruik van die woord “moffie” beledigend vind; en
  • Die voorbeelde waarna die redakteur verwys, word in ligte luim bedoel – en vra of hy daarom die aanval op die groep mans ook as ‘n grappie beskou.
Hy haal ook aan uit ‘n vertalende woordeboek, asook uit Wikipedia, om sy standpunt te versterk dat die woord “moffie” (Engels: “faggot”) neerhalend en vernederend is.
Bruwer redeneer voorts dat hy dit sou verstaan het as die storie “moffies” in aanhalingstekens gebruik het, en voeg by dat beriggewing soos hierdie inderdaad die publiek se denkwyse beïnvloed, sodat hulle minagtend teenoor gay mense optree – wat wel tot hul vernedering bydra.
Ek neem goedkeurend kennis van die feit dat die redakteur sê dat sy koerant gay-vriendelik is. Wat is immers die alternatief?
Let egter daarop dat dit nie my taak is om na die koerant se geskiedenis of beleidstandpunte te kyk nie, maar wel na die berig in dispuut.
Eerstens dink ek nie dat die redakteur daarvan beskuldig kan word dat hy, gegee sy ligte-luim-voorbeelde, die voorval as ‘n grap beskou nie. Daar is tog ‘n verskil tussen sy voorbeelde en die voorval self.
Ek aanvaar ook dat “moffie” vir sommige gay persone nie aanstootlik is nie.
My eie ervaring is egter dat ‘n beduidende deel van die gay gemeenskap daardie woord wel as beledigend en vernederend ervaar. Dit word vererger as dit nie lighartig nie, deur nie-gays en, in hierdie geval, deur ‘n publikasie gebruik word.
Die konteks van die storie moet ook in ag geneem word: Daar is naamlik niks in die storie wat my daarvan oortuig dat die woord ironies, grappenderwys of tong-in-die-kies gebruik word nie. Die teendeel is waar – die manier waarop die eienaar die mans na berig word uit die eetplek gejaag het, getuig eerder van venynigheid en vyandigheid. Dit is binne híérdie konteks dat die koerant die mans “moffies” noem.
Daarbenewens: Die feit dat sommige gay mense soms grappies oor hul eie seksuele oriëntering maak, gee nie ander mense – of ‘n publikasie – die reg om daardie woord lukraak te gebruik nie. As ‘n swart of bruin mens byvoorbeeld grappenderwys na sy/haar ras op ‘n “vernederende” wyse verwys (ek het dit al telkemale gehoor!), gee dit nie mense van ‘n ander kleurgroep die reg om dieselfde te doen nie.
Terloops, ek verstaan nie Bruwer se opmerking dat die gebruik van die woord “moffies” in die haak sou wees as die koerant aanhalingstekens gebruik het nie. Gegee sy eie argument: Sê hy daarmee dat die gebruik van die k-woord in orde is solank dit in aanhalingstekens gebruik word?
Dis die punt:
  • Die koerant kon die impak van die woord verminder het deur binne ‘n aanhaling na “m*fies” te verwys;
  • Die gebruik van daardie woord buite ‘n aanhaling, soos die opskrif en die storie doen, is verkleinederd teenoor Bruwer en, meen ek, teenoor ‘n beduidende deel van die gay gemeenskap;
  • Die gewraakte woord kom binne ‘n negatiewe konteks voor, wat die skade vererger; en
  • Die woorde “gay” en “homoseksueel” is aanvaarbare terme wat presies dieselfde boodskap sou oorgedra het.
Bogenoemde impliseer dat die verwysing na die mans as gay inderdaad relevant tot die storie was. Dit is die manier waarop die koerant die woord “moffie” gebruik het wat die probleem skep.
Ek let ook op dat die redakteur homself “trots gay” noem – nie “trots moffie” nie. Trouens, nêrens gebruik hy daardie woord nie, behalwe wanneer hy lighartige voorbeelde noem – hy praat eerder van “gay” en “homoseksueel”. Ek meen dat dit ‘n implisiete erkenning is dat die woord “moffie” liefs vermy moet word.
In swak smaak
Die storie verwys na “moffiemoerdery”.
Bruwer kla dat dié woord in swak smaak is.
Die koerant sê dat die woord die aanstootlikheid van geweld teen gay mense reflekteer en dat dit geen regstreekse of geïmpliseerde goedkeuring van die geweld bevat nie.
Ek aanvaar bogenoemde, maar meen tog dat daardie woord in swak smaak is. Daar is egter niks in die Perskode wat “swak smaak” verbied nie.
Haatspraak
Bruwer kla dat die gewraakte woorde op haatspraak neerkom.
Hy voeg by dat die storie:
  • die indruk laat dat “gay bashing” snaaks is en lighartig geïnterpreteer kan word; en
  • tot haat-verwante misdade teenoor gays kan lei.
Bruwer verwys na twee sulke voorvalle (die verkragting van lesbiese vroue en ‘n gay selfmoord in Amerika) en konkludeer: “Met verslaggewing soos dié sal haat-misdade nooit stop nie.”
Die koerant ontken dat die gebruik van die gewraakte woorde haatspraak is. Die redakteur skryf dat die berig, in die geheel gesien, nie geweld teen gay mense ondersteun nie; inteendeel, “Sondag het die berig presies dieselfde hanteer as wat die geval sou wees as lede van enige ander groep betrokke was.”
Sondag sê die idee dat die gebruik van die woord “moffie” aanleiding kan gee tot die voorbeelde wat Bruwer noem, is “verregaande en onbewese”.
In sy reaksie op die koerant se verweer haal Bruwer die Grondwet aan, wat volgens hom onder meer die woord “hurtful” (kwetsend) by die definisie van haatspraak insluit.
Bruwer argumenteer ook dat die berig haat kan aanmoedig omdat die koerant soms die gewraakte woorde as feite stel (en nie aan ‘n bron toedig nie).
Hy sê dat die opskrif daarvan getuig, asook die inleidingsparagraaf wat die woorde “SES MOFFIES BYNA DOODGEBLIKSEM” bevat. Hy verwys ook na die woorde “MOFFIEMOERDERY” en “SKEWE KOMMENTAAR”. Hy voeg by: “…dit wil voorkom asof al die sleutelwoorde op strategiese plekke gebruik en in hoofletters gebruik word om aandag te trek om mense aan te hits om verder te lees.”
Hier is my oorwegings:
Eerstens, dit is nie korrek dat die woord “kwetsend” (“hurtful”) as deel van die definisie van haatspraak in die Grondwet voorkom nie. Daardie woord kom wel in die Gelykheidswet se definisie van haatspraak voor. Die Grondwet omskryf haatspraak (slegs) as: “Propaganda vir oorlog, die aanhitsing van dreigende geweld, of die verkondiging van haat wat gebaseer is op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens, en wat ‘n aanhitsing behels met die doel om skade te berokken.”
Die kantoor van die Persombudsman gebruik die Grondwet se definisie van haatspraak.
Dus: Die vraag of die storie haatspraak bevat, word bepaal deur die vraag of die storie geweld aanhits met die doel om skade te berokken.
Die media-sosiologiese vraag in watter mate beriggewing die gemeenskap se denke beïnvloed, is ‘n uiters moeilike een – hoe word dit immers bepaal? Selfs wanneer daar ‘n geval van “monkey-see-monkey-do” is (byvoorbeeld ‘n berig oor ‘n selfmoord wat lei tot ‘n volgende person se besluit om sy/haar lewe op dieselfde manier te beëindig), beteken dit nog nie dat ‘n storie almal of die meerderheid nadelig beïnvloed nie – en veral nie dat die storie doelbewus probeer om dit te doen nie.
Toegepas: ‘n Storie oor “gay bashing” gaan nie noodwendig mense aanmoedig om dieselfde te doen nie – al kan dit ook die onbedoelde gevolg van so ‘n berig wees.
Anders gesê: As ‘n publikasie uit vrees vir onbedoelde gevolge besluit om sekere berigte nie te plaas nie, ontstaan die vraag natuurlik waar die grense dan getrek moet word, deur wie, en waarom. Dit kan ook maklik op selfsensuur neerkom – wat die dood in die pot vir ons demokrasie kan wees.
Dit, wat betref die sub-teks van die storie.
Tweedens, en ewe belangrik: Daar is niks in die storie wat mense aanhits om gay mense aan te val nie. Die (nuuswaardige) storie vertel bloot wat gebeur het.
Dit is waar dat die storie hoofletters op strategiese plekke gebruik, maar dit is die koerant se styl. Dis ook onbillik om te sê dat die hoofletters mense wil “aanhits” om verder te lees. Dis immers die doel van ‘n koerant – om mense sover te kry om te lees.
Bevinding
Beledigend, verkleinerend
Die woord “moffie” is vir ‘n beduidende deel van die gay gemeenskap onsensitief, neerhalend en vernederend. Dit word vererger as die woord nie lighartig nie, deur nie-gays, en in hierdie geval, deur ‘n publikasie gebruik word. Dit verbreek Art. 6.1 van die (nuwe) Perskode wat lui: “Die pers behoort diskriminerende of vernederende verwysings na mense se…seksuele oriëntering of voorkeur…te vermy…tensy dit relevant is.”
Die verwysing in die storie na gays is relevant; die woordkeuse was egter nie na wens nie.
In swak smaak
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
Haatspraak
Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
Optrede
Sondag word gevra om verskoning aan te teken vir die onsensitiewe, neerhalende en verkleinerende gebruik van die woorde “moffie” en “moffiemoerdery”.
Die koerant word versoek om die volgende teks op bladsy 2, bó die vou, te publiseer:
BEGIN VAN TEKS
Sondag het onsensitief, neerhalend en verkleinerend berig deur die woord “moffies” te gebruik.
Só het Adjunk- Persombudsman Johan Retief beslis nadat mnr. Phillip Bruwer gekla het oor die storie wat ons op 9 Oktober 2011 geplaas het onder die opskrif Moffies geklits – ‘F*k uit my plek uit!’ en toe waai die hare in restaurant (bl. 2).
Bruwer het die gebruik van die woorde “moffie” en “moffiemoerdery” as beledigend en verkleinerend, in swak smaak, en as haatspraak bestempel.
Die storie, geskryf deur Virginia Keppler, sê dat die eienaar van ‘n eetplek gays verjaag het. Hy sou na bewering gesê het: “Julle fok met ons. Ons soek julle moffies nie om ons nie. Julle is absoluut vuilgoed en ek soek julle nie hier nie! Fok uit my plek uit!” Die storie vertel van “ses moffies wat byna doodgeslaan is”, gebruik die woord “moffiemoerdery”, en sê dat die “moffies” volgens die eienaar eerste “skewe kommentaar” gelewer het. Na berig word, gaan die mans die voorval by ‘n polisiekantoor aanmeld.
Retief het gesê dat die gebruik van die woord “moffie” vir ‘n beduidende deel van die gay gemeenskap vernederend is, wat vererger word as dit nie lighartig nie, deur nie-gays, en in hierdie geval, deur ‘n publikasie gebruik word.
Hy het die konteks van die storie ook in ag geneem: Die manier waarop die eienaar die mans na berig word uit die eetplek gejaag het, getuig van venynigheid en vyandigheid. Dit is binne híérdie konteks dat ons die mans “moffies” genoem het.
Retief het bevind dat ons berig daarom Art. 6.1 van die (nuwe) Perskode verbreek wat lui: “Die pers behoort diskriminerende of vernederende verwysings na mense se…seksuele oriëntering of voorkeur … te vermy … tensy dit relevant is.”
Hy het gesê dat ons wel iemand kon aanhaal wat daardie woord geuiter het, maar dat ons dan die impak daarvan moes versag het deur eerder na “m*fies” te verwys. Ons moes ook die gebruik van daardie woord buite ‘n aanhaling vermy het (in albei gevalle, soos wat ons met die k-woord maak).
Retief het die klag dat die berig in swak smaak was en dat dit op haatspraak neergekom het, van die hand gewys – die Perskode verbied nie swak smaak nie, daar was niks in die storie wat mense aangehits het om gay mense aan te val nie, en die (nuuswaardige) storie het bloot vertel wat gebeur het, het hy gesê.
Ons vra om verskoning vir die onsensitiewe, neerhalende en verkleinerende gebruik van die woorde “moffie” en “moffiemoerdery”.

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2011) vir die volle bevinding.

 

EINDE VAN TEKS
Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman