Magna FS vs Beeld

Complainant: Magna FS

Article: Rede vir matriek-fiasko – Nuwe firma se rekenaarstelsel lei tot chaos

Date: 05 November 2010

Respondent: Beeld

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. Louw Erasmus, Magna FS (MFS) se regsverteenwoordiger, en die Beeld koerant.
‘n Informele gesprek tussen MFS en Erasmus aan die een kant, en Beeld en sy regsverteenwoordiger, mnr. Pieter Conradie, aan die ander kant, het gevolg. Hierdie gesprek is deur myself, asook deur twee verteenwoordigers van die Pers Appélpaneel bygewoon – prof. Franz Krüger namens die pers en dr. Peter Coetzee (publieke verteenwoordiger). Pogings om konsensus oor die bewoording van ‘n regstelling te kry het egter herhaaldelik misluk.
Hoewel hierdie gesprek nie ‘n amptelike verhoor was nie, kon dit tog as basis vir hierdie bevinding dien.
Die oorspronklike klag is in sowel Engels as Afrikaans ingedien. Die res van die dokumentasie was egter in Afrikaans – ook die taal van ‘n informele “verhoor” tussen ons kantoor en die twee partye.  Die bevinding word daarom in Afrikaans gedoen.
Klag
MFS, ‘n maatskappy wat onder meer fokus op rekenaarstelsel-ontwikkeling, maak kapsie teen ‘n voorbladberig in Beeld, onder die opskrif ONTHUL. Rede vir matriek-fiasko – Nuwe firma se rekenaarstelsel lei tot chaos (11 Maart 2009). MFS kla ook oor opvolg-berigte, getiteld Matrieks: Stelsel nie getoets – departement gee toe dis nie behoorlik gedoen voor uitslae uitgereik is (12 Maart); ‘Openbaar verslag oor gr. 12-chaos’ (12 Maart); en ‘Matriekstelsel herinner sterk aan eNaTIS se chaos’ (14 Maart 2009).
Die berigte is almal deur Alet Rademeyer geskryf.
MFS kla dat, anders as wat die stories sê of suggereer:
  • is die nuwe rekenaarstelsel nie MFS se ontwerp nie;
  • beskik die nuwe stelsel wel oor die nodige kapasiteit vir die doeltreffende hantering van die matriek-uitslae;
  • kan die probleme met die bekendmaking van matriek-uitslae nie aan MFS gewyt word nie; en
  • is MFS nie ‘n onervare maatskappy nie.
MFS kla ook dat hy nie voldoende om kommentaar genader is nie.
Ontleding
Die eerste berig handel oor chaos wat ontstaan het met die uitreiking van die 2008-matriekuitslae toe ongeveer 50 000 matrieks nie hul uitslae betyds gekry het nie. Dié chaos word gewyt aan die tender wat die Nasionale Departement van Onderwys (NDO) aan ‘n nuwe maatskappy, MFS, toegestaan het. Die berig stel dit só: “’n Tender wat aan ‘n nuwe maatskappy toegestaan is, was verantwoordelik vir die fiasko van verlede jaar se matriekuitslae…”
Die berig sê ook dat ‘n taakspan van die NDO bevind het dat ‘n verskeidenheid faktore tot die vertragings gelei het – onbevoegdheid en nalatigheid (daar word nie gesê deur wie en in watter verband nie) word onder meer as redes aangegee.
Die berig meld voorts dat die NDO hierdie keer nie die tender aan die staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) toegeken het nie. Sita, so word berig, het die uitslae sedert 2002 suksesvol uitgereik.
Die tweede berig handel daaroor dat die NDO toegegee het dat die stelsel nie behoorlik vooraf getoets is nie; in die derde storie word berig oor mense wat vra dat die verslag oor die vertragings bekendgemaak moet word; en die vierde berig trek ‘n vergelyking tussen die fiasko met die vertragings en die chaos wat met ‘n ander, soortgelyke stelsel (eNaTIS) ondervind is.
Ter agtergrond: Luidens ‘n Sita-dokument, gedateer 10 Augustus 2006, is daar is van die suksesvolle tenderaar verwag om sagteware te ontwerp binne die reeds bestaande hardeware-komponente en sisteem, asook binne ander bestaande sagteware en network-komponente. Die nuwe stelsel word die bedienerstelsel genoem, wat die vorige hoofraamstelsel vervang het. Die dokument sê die nuwe stelsel is deur die NDO op aanbeveling van Sita aanvaar. Hierdie besluit is onder meer gegrond op die oorweging dat die destydse stelsel weens ontwerpfoute en ouderdom moeilik was om te onderhou. Die besluit om ‘n nuwe stelsel in werking te stel is ook ingesluit as ‘n vereiste in die spesifikasies waaraan MFS moes voldoen.
Ons kyk nou na die meriete van die klag:
Nuwe bedienierstelsel nie MFS se ontwerp
Die eerste berig:
Die klag is dat die storie valslik sê of suggereer dat die nuwe rekenaarstelsel MFS se ontwerp is.
Die storie sê dat Beeld “betroubare inligting” bekom het wat daarop dui dat MFS ‘n (nuwe) bedienerstelsel gebruik het, in teenstelling met die vorige (betroubare) hoofraamstelsel. ‘n Kundige “wat nou betrokke is by die proses en anoniem wil bly” beweer volgens die storie dat die bedienerstelsel gebreke het (soos dat baie bandwydte benodig word en dat vertragings algemeen voorkom). Die hoofraamstelsel was daarenteen (so word verder berig) vinnig, doeltreffend en het minimale hulpbronne vir versending benodig.
MFS sê die indruk word hierdeur geskep dat die bedienerstelsel ‘n ontwerp van MFS is wat teen die aanbevelings of raad van Sita daargestel is. Die waarheid, so gaan MFS voort, is egter dat die nuwe bedienerstelsel deur Sita aanbeveel en deur die NDO ondersteun is – dit is ook ingesluit as ‘n vereiste in die spesifikasies waaraan MFS moes voldoen. MFS konkludeer: “Dit was dus geensins ‘n ontwerp wat deur Magna FS teen die aanbevelings of advies van Sita en sy kontrakteurs daargestel is soos in die berigte gesinspeel word nie.”
Die koerant sê egter die rol wat Sita as tegniese adviseur gespeel het, is wel toegelig. Beeld gaan voort: “Daar is ook verwysings na die onderwysdepartement wat in groot besonderhede uiteengesit het hoe Sita vroeg sedert 2006 by die opstel van die tenderspesifikasies en die res van die tenderproses betrokke was.”
Uit die konteks van die storie kan MFS nie gelyk gegee word dat die storie die indruk skep dat die nuwe rekenaarstelsel sy ontwerp is nie. Die storie gaan oor ‘n tender wat toegeken is en oor die rekenaarstelsel wat (deel van) die probleem was – MFS kon tog sekerlik nie die tender aan homself toegeken het nie.
Dis egter nie soseer wat gepubliseer is wat ‘n probleem skep nie, maar eerder dit wat nie geskryf word nie. Die sentrale vraag na Sita se rol in die toeken van die tender, met die gepaardgaande tender-spesifikasies, word naamlik nie genoegsaam in die storie duidelik gemaak nie. Daar is geen verwysing na die feit dat Sita verantwoordelik was vir die opstel van tenderspesifikasies nie. Die feit dat die besluit dié van die NDO was, op aanbeveling van Sita, word ook verswyg.
Hierdie weglating skep ‘n leemte van waaruit lesers inderdaad verkeerdelik tot die gevolgtrekking kon kom dat MFS verantwoordelik was vir die besluit om die nuwe stelsel in werking te stel.
Oor die “betroubare inligting”: MFS se afleiding dat hierdie frase die indruk skep dat die inligting (voortspruitend uit die tenderspesifikasies) nie algemeen bekend is nie, is bes moontlik korrek. Sy verdere afleiding – naamlik dat dit daarom die verdere indruk kon skep dat dit oorgelaat is aan MFS wat self sou besluit het om die nuwe stelsel te gebruik – is egter ‘n denksprong wat nie noodwendig logies is nie.
Die tweede berig bevat hierdie vreemde stelling: “Sita het nie aan die tenderproses deelgeneem nie…”
Sita was verantwoordelik vir die opstel van tenderspesifikasies en vir die toekenning van die tender. Dit sou hoogs onreëlmatig gewees het van Sita om aan ‘n tenderproses deel te neem waarvan hy die kontrak self moes toeken.
Nogtans word in dieselfde sin genoem dat Sita sedert vroeg in 2006 by die opstel van die tenderspesifikasies en die res van die tenderproses betrokke was.
Nieteenstaande bogenoemde “vreemde” stelling, berig Beeld dus wel oor Sita se rol.
Die derde berig:
Anders as met die eerste berig wat sê dat MFS ‘n bedienerstelsel gebruik het “in teenstelling met Sita se hoofraamstelsel” (wat tegnies korrek is), stel hierdie berig dit so: “Beeld het berig Magna FS het ‘n bedienerstelsel met verskeie gebreke gebruik teenoor Sita se hoofraamstelsel.” (eie beklemtoning)
Daar is ‘n verskil tussen “in teenstelling met” en “teenoor”. Laasgenoemde kan inderdaad die indruk wek dat die nuwe stelsel dié van MFS is en nie Sita s’n nie en dat, soos die klag aandui, MFS téén Sita se aanbevelings en advies opgetree het.
Die vierde berig bevat niks wat verband hou met hierdie deel van die klag nie.
Die nodige kapasiteit
Die klag is dat die eerste storie verkeerdelik suggereer dat die nuwe bedienerstelsel nie die nodige kapasiteit gehad het om die taak te verrig nie.
Die storie haal onder meer ‘n “deskundige” aan wat die voordele van die ou stelsel besing en die nadele van die nuwe stelsel verdoem.
MFS sê toetse is in verskeie provinsies gedoen en die resultate het getoon dat die stelsel wel die nodige kapasiteit gehad het. MFS voeg by dat die resultate in Mpumalanga en Limpopo “baie goed” was, maar dat dit laer by die kantore van die Provinsiale Onderwys-departement as by die Sita-kantore was. MFS sê hierdie resultate is betyds beskikbaar gestel sodat die onderskeie Provinsiale Onderwys-departemente daaraan aandag kon gee.
Beeld reageer nie op hierdie deel van die klag nie.
Ons kantoor beskik nie oor die tegniese kundigheid om te kan besluit of die nuwe stelsel die nodige kapasiteit gehad het of nie – ons vraag is slegs of die koerant redelik en verantwoordelik berig het.
Dis duidelik dat Beeld ekonomies met die feite omgegaan het. Die Sita-dokument stel dit duidelik dat die ou stelsel kapasiteitsprobleme ondervind het en daarom met ‘n nuwe stelsel vervang moes word. Dit word egter nie gerapporteer nie. Beeld verkies inteendeel om eerder die deugde van die ou stelsel te laat besing.
Dis allermins gebalanseerde beriggewing.
Wat meer is, hierdie saak word nie in een van die volgende drie berigte reggestel nie.
Probleme met die bekendmaking van matriekresultate nie aan MFS te wyte
MFS ontken dat hy hoegenaamd deel van die skuld vir die probleme dra; Beeld beweer dat MFS minstens gedeeltelik vir die krisis verantwoordelik was.
Hierdie deel van die klag, wat in ‘n sekere sin as die hoofklag beskou kan word, hou verband met matriek-kandidate wat:
  • op 30 Desember nog nie hul uitslae ontvang het nie; en
  • probleme ondervind het met hul eksamennommers.
Ons hanteer eers die vertragings van die matrieks se uitslae.
Die intro van die eerste berig lui soos volg: “’n Tender wat aan ‘n nuwe maatskappy toegeken is, was verantwoordelik vir die fiasko van verlede jaar se matriekuitslae toe 50 000 matrieks nie hul uitslae betyds gekry het nie.” Die opskrif en onder-kop lui: Rede vir matriek-fiasko – Nuwe firma se rekenaarstelsel lei tot chaos.
Twee hoof-aspekte is hier ter sprake – punte wat nie bereken kan word nie, en die NDO se media-verklaring.
Eerstens, MFS sê hy kan nie vir dié probleem verantwoordelik gehou word nie – as ‘n kandidaat as afwesig op die stelsel ingevoer is of sy/haar punt nog nie deur die Provinsiale Onderwys-departement ingevoer is nie, kan die kandidaat se resultaat nie bereken word nie. MFS sê 55,502 kandidate het nie hul uitslae ontvang nie. Hiervan is 33 193 as afwesig aangemerk en die res (22 309) se punt was nog uitstaande – daar is dus geen kandidaat wie se uitstaande uitslae voor MFS se deur gelê kan word nie. Dít, sê MFS, word deur die koerant verswyg.
Hierteenoor sê Beeld bloot dat die NDO “wel gemeen het dat stelselprobleme onder meer vir die probleme verantwoordelik was”.
Dis opvallend dat die koerant nie MFS se argument betwis nie. MFS se inligting kan daarom as redelik moontlik waar aanvaar word.
Weer eens is die vraag hoe verantwoordelik die koerant berig het as hy nie bogenoemde inligting in die berig verreken het nie. MFS is deur hierdie weglating waarskynlik onnodige skade berokken.
Tweedens, ‘n gesonde uitgangspunt wat sal help met die beoordeling van die rapportering oor die vertragings, is die NDO se mediaverklaring – Beeld het hierdie verklaring in die berig gebruik.
Die NDO sê in die verklaring dat ‘n verskeidenheid van faktore tot die vertragings aanleiding gegee het. Dit sluit in tekortkominge in die geïntegreerde rekenaarstelsel, probleme met bandwydte, laat-registrasies, ‘n laat begin om data vas te lê, die afwesigheid van gestandaardiseerde protokolle om uitslae vas te lê en ‘n onvermoë om voldoende monitering voor die eerste nasionale eksamen in werking te stel.
Die volgende opmerkings is van belang:
  • Met die uitsondering van die eerste rede (tekortkominge in die rekenaarstelsel), het die res van die redes niks met MFS te doen nie;
  • Wat betref die eerste rede, word MFS se naam nie genoem nie; en
  • Die rekenaarstelsel is breër as MFS se aandeel daarin.
Gevolgtrekkings wat hieruit gemaak kan word, is onder meer:
  • MFS kan nie alleen of hoofsaaklik of vir die probleme verantwoordelik gehou word nie; en
  • Dit is moontlik, maar nie noodwendig nie, dat MFS gedeeltelik die skuld vir een van die redes vir die fiasko moet dra.
Ons kantoor het egter nie die kundigheid om te bepaal of MFS wel deel van die skuld gedra het of nie. Ons hoef dit ook nie te doen nie, want ons vraag is slegs of die koerant in hierdie opsig verantwoordelik, billik en redelik berig het – afgesien van die vraag hoe waar dit is dat MFS minstens deel van die skuld moes dra. Die welbekende Bogoshi-hofuitspraak, wat dieselfde punt maak, is hier van toepassing. (Volgens hierdie uitspraak hoef ‘n koerant nie te bewys dat dit wat gepubliseer is, waar is nie – hy hoef slegs aan te toon dat hy onder omstandighede redelik, billik en verantwoordelik opgetree het met die feite tot sy beskikking.)
Terug, dus, na die NDO se media-verklaring. Niemand betwis die feit dat MFS vir ‘n deel van die rekenaarstelsel verantwoordelik was nie. Die tender is immers aan hom toegeken. Dit is dus redelik om te aanvaar dat die probleme met die “geïntegreerde rekenaarstelsel” minstens gedeeltelik na MFS se aandeel daarin kon verwys het.
Dit verskoon egter nie die opskrif, die onder-kop en die intro nie, wat MFS volledig vir die fiasko verantwoordelik hou. Dit is duidelik onakkuraat en onbillik teenoor MFS.
Die verwysing later in die storie dat ‘n taakspan bevind het dat ‘n “verskeidenheid faktore” tot die vertragings gelei het en dat een hiervan “’n nuwe rekenaarstelsel” is, bring effe balans in die storie, maar dit vergoed nie vir die kategoriese uitsprake in die kop, die onderkop en die intro nie.
Die tweede berig is ook nie skaam om MFS hoofsaaklik vir die probleme verantwoordelik te hou nie. Een sin lui: “Bronne na aan die proses het bevestig dit (MFS) was ‘n groot vlieg in die salf met die 2008-matriekuitslae.” (eie beklemtoning) Dit is nie wat die taakspan bevind het wat hierdie saak ondersoek het nie.
Die “bronne” is ook gerieflik anoniem, soos wat dit ook die geval was met die “deskundige” (in die eerste storie) wat die ou stelsel bo die nuwe verhef het ondanks probleme met die ou stelsel. Beeld moes ten minste die groot-vlieg-in-die-salf-stelling met die taakspan se verklaring (wat nie met die bronne saamstem nie omdat verskeie redes vir die probleme aangestip word wat niks met MFS te doen het nie) uitgebalanseer het.
Ons kyk nou na die probleme met eksamennommers.
Die tweede berig sê: “Beeld het vantevore berig verskeie kandidate, veral in Mpumalanga het probleme met hul eksamennommers ondervind.”
Hierdie sin verbind wel nie die spesifieke probleem met MFS nie, maar uit die konteks is dit duidelik dat dit die geval is – die storie gaan immers oor die tender wat aan MFS toegeken is.
MFS ontken dat hierdie probleem sy skuld is en sê dat ook hierdie aspek uit administratiewe prosesse van die betrokke provinsiale onderwys-departemente voortspruit. MFS sê volgens sy ondersoek is daardie kandidate nie korrek deur die Mpumalanga-onderwysdepartement geregistreer nie en kandidate se eksamennommers kon gevolglik nie op die amptelike merkstate ingesluit word nie.
Beeld reageer nie op op hierdie deel van die klag nie en betwis dus nie MFS se weergawe nie.
MFS nie ‘n onervare maatskappy
Hierdie deel van die klag verwys na die onder-kop sowel as na die intro van die eerste storie, wat MFS as ‘n “nuwe” firma tipeer. Die onder-kop lui: Nuwe firma se rekenaarstelsel lei tot chaos. Die intro sê: “’n Tender wat aan ‘n nuwe maatskappy toegeken is…”
MFS sê die indruk word hierdeur verkeerdelik geskep dat hy ‘n onervare maatskappy was. MFS sê verskeie internet-bronne meld dit duidelik dat die voorgangers van MFS al sedert 1989 in bedryf is – en MFS het die kapasiteit van sy voorgangers behou.
Die koerant sê die woord “nuwe” dui nie op MFS se verlede nie, maar bloot op die feit dat die firma “nuut” deur die NDO aangewys is.
Tegnies gesproke is sowel MFS as die koerant korrek – “nuwe” kan sowel “onervare” as “nuut aangewys” beteken. Uit die konteks wat al vier stories betref, is dit egter redelik om te aanvaar dat die koerant nie vir MFS as onervare tipeer nie en dat lesers dit ook nie noodwendig so sou verstaan nie.
Nie voldoende om kommentaar genader
MFS kla dat Beeld hom nie voldoende om kommentaar genader het nie (wat betref die eerste storie).
Beeld sê hy het probeer om ‘n skakelpersoon of kommunkasiehoof van MFS in die hande te kry. Die koerant sê dit het egter geblyk dat daar nie so ‘n persoon is nie. Beeld verduidelik dat hy uiteindelik by me Mariana Harley: Menslike Hulpbronne-bestuurder van MFS uitgekom het. Die joernalis het skriftelike vrae aan haar gestel waarop die maatskappy gereageer het. “Beeld is van mening dat hy Magna FS voldoende om kommentaar genader het.”
Beeld het ons kantoor van ‘n afskrif van die korrespondensie met Harley voorsien. Die dokument sluit vrae en antwoorde in.
Dit is egter nie die punt nie. Beeld het naamlik nooit die kernvraag aan MFS gestel nie, naamlik of sy stelsel die oorsaak van die probleme was. As dit nie was vir die opskrifte en die intro nie, kon ‘n mens nog hierdie oorsig bloot as swak joernalistiek afgemaak het. Omdat die opskrifte en die intro egter – verkeerdelik – die indruk skep dat MFS alleen vir die debakel verantwoordelik was, moes die koerant hierdie vraag aan die maatskappy gestel het.
Met beter vrae sou Beeld ook MFS se verduideliking vir die vertragings (afwesigheid en uitstaande punte), asook vir die Mpumalanga-situasie kon verdiskonteer – wat duidelik ‘n verskil in die storie teweeg kon bring.
Anders gestel: Al het die koerant ook vir MFS vir kommentaar genader, was dit kwalitatief gesproke nie voldoende nie.
Bevinding
Bedienerstelsel nie MFS se ontwerp
Die eerste berig:
Beeld verswyg die feit dat Sita verantwoordelik was vir die opstel van tenderspesifikasies, asook die feit dat die besluit om ‘n nuwe rekenaarstelsel in werking te stel dié van die NDO was, op aanbeveling van Sita. Hierdie weglating skep ‘n leemte van waaruit lesers verkeerdelik tot die gevolgtrekking kon kom dat MFS verantwoordelik was vir die besluit om ‘n nuwe stelsel in te stel. Hierdie weglating is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode wat sê: “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite hetsy deur verdraaiing, oordrywing of wanvoorstelling; wesenlike weglatings; of opsomming.”
Die tweede berig:
Hierdie berig bevat niks wat as ‘n verbreking van die Perskode gesien kan word wat hierdie deel van die klag betref nie.
Die derde berig:
Die sin wat dit stel dat MFS ‘n bedienerstelsel (met verskeie gebreke) “teenoor” Sita se hoofraamstelsel gebruik, kan die indruk wek dat die nuwe stelsel dié van MFS is en nie dié van Sita nie en dat MFS téén Sita se aanbevelings en advies opgetree het. Dis daarom misleidend en ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode.
Die vierde berig bevat niks wat as ‘n verbreking van die Perskode gesien kan word wat hierdie deel van die klag betref nie.
Die nodige kapasiteit
Beeld verswyg die feit dat die NDO op ‘n nuwe stelsel besluit het omdat die oue kapasiteitsprobleme ondervind het en verkies om eerder die deugde van die ou stelsel te laat besing. Dit is ongebalanseerde beriggewing en is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode.
Die feit dat Beeld bogenoemde nie in een van die volgende drie berigte reggestel nie, verbreek Art. 1.6 van die Perskode wat lui: “ ‘n Publikasie moet inligting of mening waarvan dit bevind is dat dit onakkuraat is, regstel deur onmiddellik en met toepaslike prominensie ‘n terugtrekking, korreksie of verduideliking te publiseer.”
Probleme met die bekendmaking van matriekresultate nie aan MFS te wyte
Die koerant het die redes wat aangevoer is waarom bykans 50 000 matrieks wat nie hul uitslae betyds gekry het nie (naamlik afwesigheid en punte wat uitstaande is), nie in die eerste berig verreken nie. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode.
Beeld het gee MFS verkeerdelik al die skuld vir die fiasko in intro van die eerste storie. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode, wat sê: “Die pers is verplig om nuus waarheidsgetrou, akkuraat en billik te rapporteer.”
Die res van die storie kan egter nie as ‘n bevestiging van bogenoemde gesien word nie, omdat dit effe balans inbring. Dit was redelik om te aanvaar dat MFS ten minste gedeeltelik vir die probleme met die rekenaarstelsel verantwoordelik kon wees. Hierdie deel van die klag word daarom van die hand gewys.
Omdat dit van die hand gewys word, moet egter verder bevind word dat die opskrif nie die inhoud van die storie korrek weerspieël nie. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.5 van die Perskode wat lui: “Opskrifte…moet ‘n redelike weerspieëling van die inhoud van die betrokke storie…wees.”
Die stelling in die tweede storie dat MFS ‘n “groot vlieg in die salf” was, word nie deur die NDO se amptelike verklaring ondersteun nie. Nog minder balanseer die berig daardie stelling met beriggewing oor die NDO se verklaring uit. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode.
Die koerant het MFS se redes vir die probleme in Mpumalanga nie verreken nie. Dit verbreek Art. 1.2 van die Perskode.
 
 
MFS nie ‘n onervare maatskappy
Uit die konteks wat al vier stories betref, is dit duidelik dat die koerant nie vir MFS as onervare tipeer nie. Hierdie deel van die klag word daarom van die hand gewys.
Nie voldoende om kommentaar genader
Hoewel Beeld wel vir MFS om kommentaar genader het, was die koerant se optrede – kwalitatief gesproke – nie voldoende nie. Die koerant berig oor belangrike sake waarby MFS betrokke is sonder om die maatskappy daaroor te vra. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.5 van die Perskode wat lui: “ ‘n Publikasie behoort gewoonlik die sienings van die onderwerp van ernstig kritiese verslaggewing voor publisering te verkry…”
Laastens
Wanneer al bogenoemde oortredings in ag geneem word, is ‘n redelike gevolgtrekking om te maak dat die beriggewing onbillik teenoor MFS was en dat dit die maatskappy bes moontlik onnodige skade berokken het. Die waarheid is boonop nie altyd gemaksimaliseer nie.
Sanksie
Beeld word versoek om die volgende teks op sy voorblad te plaas:
Beeld het op Woensday 11 Maart 2009 ‘n onthulling op sy voorblad gepubliseer dat ‘n tender wat aan ‘n nuwe maatskappy (Magna FS) toegeken is, verantwoordelik was vir die fiasko van 2008 se matriekuitslae toe ongeveer 50 000 matrieks nie hul uitslae betyds gekry het nie.
Die Adjunk- Persombudsman, Johan Retief, het onder meer bevind dat die opskrif en die eerste paragraaf verkeerdelik die indruk geskep het dat Magna FS alleen vir die probleme verantwoordelik was en dat die maatskappy nie voldoende om kommentaar genader is nie. Hy het ook ‘n stelling in ‘n opvolg-berig, wat die skuld hoofsaaklik voor Magna FS se deur lê, as ‘n verbreking van die Perskode bestempel.
Beeld korrigeer graag die misleidende aanbieding van feite en betreur die negatiewe lig waarin dit Magna FS verkeerdelik geplaas het, asook die skade wat dit die maatskappy onnodig kon berokken het.
Besoek www.presscouncil.org.za (findings, 2010) vir die volledige bevinding.
Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman