Johan Janse van Rensburg vs. Kerkbode

Complainant: Johan Janse van Rensburg

Article: eensydigheid

Date: 14 May 2012

Respondent: Kerbode

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van prof. J. Janse van Rensburg en die Kerkbode (die amptelike tydskrif van die NG Kerk).

KLAG

‘n NG Kerk teoloog, prof. Johan Janse van Rensburg, kla oor ‘n storie in die Kerkbode, gepubliseer op 20 April 2012 (bladsy 3) onder die opskrif Ontluikende kerke: klagtes oor RSG se “eensydigheid”.

Hy kla dat:
• hy valslik van leuens beskuldig word; en
• die tydskrif hom nie om kommentaar genader het nie.

ONTLEDING

Die storie, geskryf deur Jean Oosthuizen, gaan oor die sogenaamde ontluikende kerke wat nou ook in Suid-Afrika al groter nuus in kerkkringe word. Hy skryf dat groot meningsverskil onder gereformeerde teoloë heers oor dié kerke se teologie “en beswaar is pas aangeteken teen ‘n reeks wat deur RSG oor dié kerke uitgesaai is” (waaraan Janse van Rensburg deelgeneem het).

Oosthuizen haal dr. Christo de Klerk aan, wat meen dat Janse van Rensburg ‘n eensydige en oorvereenvoudigde beeld van daardie teologie voorgehou het, en dat hy “onware” stellings daaroor sou gemaak het. Die voorsitter van die vorige sitting van die NG Kerk se Algemene Sinode, prof. Nelus Niemandt, sê na berig word dat daar kans moet wees om die “eensydige” beeld wat Janse van Rensburg geskets het reg te stel.

Valslik van leuens beskuldig

Oosthuizen skryf: “Volgens dr De Klerk is van die stellings wat prof Janse van Rensburg oor die ontluikende kerke kwytgeraak het onwaar, oorvereenvoudig en eensydig.” (Hierdie stelling word in ‘n kassie op dieselfde bladsy herhaal.) Niemandt word ook aangehaal dat daar kans moet wees om die “eensydige” beeld wat Janse van Rensburg geskets het reg te stel.

Janse van Rensburg kla dat bogenoemde beriggewing sy integriteit as professor in die teologie aantas “aangesien onakkurate of onbetroubare navorsing (wat deur die bewering gesuggereer word) verwerplik is”. Hy sê ook dat hy verkeerdelik van leuens beskuldig word.

Kerkbode se redaktrise, Adri-Louise van Renen, verduidelik die agtergrond van die berig. Sy sê dit handel oor beskuldigings deur De Klerk oor die program “Sondag Aktueel” wat Sondag-oggende deur RSG uitgesaai word. In die program het die aanbieder, dr. Flip Loots, vier agtereenvolgende Sondae gesprek gevoer met Janse van Rensburg oor die ontluikende kerke. Sy sê slegs laasgenoemde se standpunt is tydens dié reeks praatjies gestel.

Sy verduidelik verder dat drie teoloë toe skriftelik beswaar by Loots aangeteken het oor die “eensydigheid” van die program. Loots wou glo nie instem om ook tyd in sy program af te staan waarin die ander partye se saak gestel word nie, waarop De Klerk gevoel het dis in stryd met die SABC se gedragskode en ‘n bewering van eensydigheid op Facebook gemaak het.

Die Kerkbode het dié bewering opgevolg en het in die berig twee van die beswaarmakers sowel as die “respondent” (Loots) se reaksie geplaas.

Van Renen kom tot die volgende gevolgtrekking: “Kerkbode se berig handel nie oor die reg of verkeerd van die onderskeie standpunte ten opsigte van die ontluikende kerke nie, maar wel oor ongelukkigheid omdat daar slegs een standpunt oor ‘n hoogs debatteerbare onderwerp in ‘n reeks radioprogramme gestel is. Kerkbode het albei partye se standpunte ten opsigte van hierdie onpartydigheid gestel.”

Die redaktrise is korrek – die storie wou duidelik mense wat met Janse van Rensburg verskil, ‘n kans gee om die ander kant van die storie te stel; die ongelukkigheid met RSG se “eensydigheid” is ook in die berig se visier.

In dié proses is Janse van Rensburg egter van onware, oorvereenvoudigde en eensydige stellings beskuldig. Die vraag is nou of die Kerkbode met die publisering van daardie beskuldiging die Perskode oortree het.

Eerstens: Die Grondwet waarborg vryheid van spraak (Art. 16) en sonder slegs oorlogspropaganda, die aanhitsing van dreigende geweld en haatspraak uit.

Daardie artikel lui onder meer soos volg:

“Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is:
• die vryheid van die pers en ander media;
• die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;
• die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en
• akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.”

Daarbenewens het die Grondwetlike Hof in April 2011 (Robert McBride vs. The Citizen) die volgende gesê: “Kritiek is beskerm, selfs al is dit ekstreem, onregverdig, ongebalanseerd, oordrewe en bevooroordeeld, so lank as wat dit ‘n eerlike mening, sonder kwaadwilligheid, in die openbare belang en op ware feite gegrond is.”

Die voorwoord van die Perskode haal Art. 16 van die Grondwet aan. Die Kode moet daarom in die lig van hierdie waarborg van vryheid van spraak geïnterpreteer word en my bevinding sal daarom binne die raamwerk van bogenoemde geskied.

Ek sal ook laster in ag neem, wat nie in die Perskode genoem word nie omdat dit in elk geval onwettig is.

Die beoordeling van die teologie van die ontluikende kerke is ‘n kwessie van interpretasie, omdat mense uit verskillende hoeke en met verskillende oortuigings en agtergronde na die saak sal kyk – en noodwendigerwys met mekaar sal verskil. Wat vir die een na waarheid lyk, kan deur die ander se bril ‘n ander kleur hê.

Ek neem ook in ag dat teologie ‘n wetenskap is, waarbinne kritiese denke – en spraak – onmisbaar is. Wanneer wetenskaplikes van mekaar verskil, moet hulle die reg hê om hul menings uit te spreek. Dit sal ‘n kwade dag wees as wetenskaplikes mekaar nie meer van eensydigheid en oorvereenvoudiging kan beskuldig nie – al is dit ook hoe kwetsend en maak dit ook hoe seer. Wetenskaplikes moet nie huiwer om krities te wees nie, en hulle moet ook bereid wees om kritiek te hanteer.

Om ‘n mede-wetenskaplike van “eensydigheid” en “oorvereenvoudiging” te beskuldig is daarom aanvaarbaar (lees: vryheid van spraak en kritiese denke) – en, belangrik ten opsigte van Janse van Rensburg se klag, vir ‘n publikasie om daardie beskuldiging te publiseer.

Die woord “onwaar” lê egter op ‘n ander vlak as “oorvereenvoudiging” en “eensydigheid”. As die gebruik van die woord “onware” gelyk is aan “leuens”, kan laster hier ter sprake kom. In daardie geval sal ek moet bepaal of Janse van Rensburg se goeie naam genoegsaam geskend is om vir laster te “kwalifiseer”. Ek neem hier in ag dat hy ‘n predikant en teoloog is, en dat sy integriteit vir hom van buitengewone belang is.

Terloops, die feit dat die Kerkbode dit nie as ‘n feit stel dat Janse van Rensburg onwaarhede verkoop het nie, maar dit aangebied het as De Klerk se mening, beteken nie dat die tydskrif om daardie rede nie aan laster skuldig kan wees nie – die herhaling van laster is steeds laster.

Dit is insiggewend dat De Klerk vir Janse van Rensburg “nederig” om verskoning gevra het dat hy hom aanstoot gegee het met sy opmerking oor “leuens” (en nie oor eensydigheid of oorvereenvoudiging nie).

Ek let ook op dat die woord “leuen” nie in die storie voorkom nie.

My vraag word daarom of daar ‘n verskil tussen ‘n “onware stelling” en ‘n “leuen” is.

Die twee lê inderdaad naby aan mekaar; daar is egter wel ‘n verskil.

Elke definisie wat ek oor ‘n “leuen” nagegaan het, bevat naamlik die element van doelbewuste misleiding – ‘n leuen is ‘n valse stelling wat doelbewus gemaak word om mense te mislei. Dieselfde is nie noodwendig waar van ‘n onwaar stelling nie.

Ek noem ‘n praktiese voorbeeld: Iemand is verkeerdelik daarvan oortuig dat pres. Jacob Zuma (‘n Zoeloe) ‘n Xhosa is. Wanneer daardie persoon dit aan iemand vertel, maak hy ‘n onwaar stelling – maar hy doen dit omdat hy dit om die een of ander rede glo. Dan is dit nie ‘n leuen nie, omdat hy nie doelbewustelik probeer om iemand te mislei nie. As dieselfde persoon egter weet dat Zuma ‘n Zoeloe is en hy sê steeds dat hy ‘n Xhosa is, is dit doelbewuste misleiding. Dan word die onware stelling ‘n leuen.

En: Toe ek ‘n kind was, het ek gedink dat Sydney die hoofstad van Australië is en het dit so aan ander oorgedra. Ek het later eers uitgevind dat ek verkeerd was. My “onware” stelling van destyds was egter nie ‘n “leuen” nie, omdat ek nie doelbewus probeer het om mense te mislei nie.

Die volgende vraag word dus nou of De Klerk bedoel het dat Janse van Rensburg die publiek doelbewus mislei het – en of die Kerkbode doelbewus aan hierdie misleiding deelgeneem het.

In De Klerk se latere korrespondensie merk hy op dat Janse van Rensburg se stellings “sy waarheid” is, en nie “die waarheid” nie.

Dié stelling is natuurlik problematies, omdat niemand op “die” waarheid aanspraak kan maak nie. Anders as “werklikheid”, is “waarheid” immers ‘n subjektiewe (lees: interpretasie) saak, en daarom het niemand het “die” waarheid in pag nie.

Hoe ook al, ek aanvaar dat De Klerk daarmee bedoel het dat Janse van Rensburg eerlik was met sy stellings (“sy waarheid” kan nie op iets anders dui nie), hoewel hy wat De Klerk is daarmee verskil – wat beteken dat “sy waarheid” nie aan “doelbewuste misleiding”(leuens) gelyk gestel kan word nie.

Wat die Kerkbode betref: Die woorde “onwaar” en “leuen” is so naby aan mekaar dat ‘n mens kwalik van alle lesers kan verwag om die twee van mekaar te onderskei. Die tydskrif was hier op dun ys. As die blad die woord “leuen” gebruik het, sou ek dit as lasterlik beskou het.

Nie om kommentaar genader

Janse van Rensburg kla dat Kerkbode hom nie kans gegee het om op die beskuldiging van “leuens” te reageer nie, soos die Perskode dit vereis.

Van Renen sê dat sy in die volgende uitgawe, op 4 Mei, ‘n berig geplaas het met Janse van Rensburg se reaksie op die beweerde leuens. Sy volle reaksie (Wat is leuens?) is ook op www.kerkbode.co.za geplaas en dit is onderaan die berig gesê dat dit daar verskyn.

Janse van Rensburg sê dat die plasing van dié berig (4 Mei) nie die feit ongedaan maak dat hy nie om kommentaar genader is vir die eerste berig nie.

Hy voeg by dat:
• talle van sy lidmate wat die eerste berig gelees het, nie toegang tot die internet het nie;
• die tweede berig nie die beskuldiging van leuens regstel en so sy naam skoonmaak nie, maar dat slegs sy ontkenning van leuens gepubliseer is;
• Niemandt se aanhaling aan die einde van die berig, wat veronderstel was om sy naam skoon te maak, weer impliseer dat hy nie die waarheid gepraat het nie – en weer eens is hy nie daaroor om kommentaar genader nie; en
• De Klerk se verskoning op die internet dat hy hom van leuens beskuldig het, word afgesluit deur te sê dat dit “sy” (Janse van Rensburg se) waarheid is en nie “dié” waarheid nie – “Hy herhaal dus weer sy klag van leuens en Kerkbode laat dit so deurgaan!” (soos reeds hierbo genoem).

Die vraag is nou of die Kerkbode die Perskode verbreek het deur nie vir Janse van Rensburg om kommentaar te genader het nie.

Art. 1.5 van die Perskode sê: “‘n Publikasie behoort gewoonlik die sienings van die onderwerp van ernstig kritiese verslaggewing voor publisering te verkry…”

Dit is so dat die storie die “ander kant” wou stel en die ongelukkigheid met RSG se “eensydigheid” wou uitbeeld. In daardie sin was Janse van Rensburg nie die direkte subjek van die storie nie.

Hy word egter noodwendigerwys by die storie betrek. In dié proses word hy inderdaad in ‘n slegte lig gestel (lees: “onwaar, oorvereenvoudig, eensydig”) en word hy ook ‘n subjek van die storie.

Ek neem ook in ag dat De Klerk se stelling inderdaad kwetsend was.

Die Kerkbode moes Janse van Rensburg daarom om bogenoemde redes om kommentaar gevra het, soos deur die Perskode vereis.

Enkele gedagtes oor sy opmerkings hierbo:

• Dit is inderdaad so dat baie mense nie toegang tot die internet het nie. Ek neem egter in ag dat die Kerkbode ‘n tweede berig met Janse van Rensburg se kommentaar in die tydskrif self geplaas het – waarmee die blad geluk gewens moet word;
• Dis ook waar dat die tweede berig nie die beskuldiging van leuens “regstel” nie, en dat slegs Janse van Rensburg se ontkenning dat hy leuens verkondig het, gepubliseer is. Ek het egter reeds besluit dat De Klerk bes moontlik nie vir Janse van Rensburg van doelbewuste misleiding beskuldig het nie – en ‘n mens kan nie iets regstel wat nie gebeur het nie. Hoe stel ‘n mens, of ‘n tydskrif, in elk geval iemand anders se interpretasie “reg”?;
• Niemandt impliseer nie in die tweede berig dat Janse van Rensburg nie in die eerste plek leuens verkondig het nie; en
• Ek het reeds ‘n opmerking oor “sy waarheid” en “dié waarheid”gemaak.

BEVINDING

Valslik van leuens beskuldig

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys, hoewel Kerkbode op dun ys was met die gebruik van die woord “onware” stellings.

Nie om kommentaar genader

Janse van Rensburg was genoegsaam deel van die storie, en die stellings oor hom was kwetsend genoeg, dat die Kerkbode hom om kommentaar moes gevra het. Die versuim om dit te doen is ‘n verbreking van Art. 1.5 van die Perskode wat sê: “‘n Publikasie behoort die sienings van die subjek van ernstig kritiese verslaggewing voor publisering te verkry…”

(Hoewel die Kerkbode goed gedoen het deur ‘n opvolgberig te plaas waarin Janse van Rensburg kans gegee is om kommentaar te lewer, bly die oorspronklike versuim om dit doen steeds ‘n verbreking van die Perskode.)

OPTREDE

Die Kerkbode word versoek om Janse van Rensburg om verskoning te vra omdat die tydskrif hom nie vir kommentaar genader het vir die eerste berig nie.

Die tydskrif word gevra om die volgende teks op bladsy 3 te publiseer:

Kerkbode vra prof Johan Janse van Rensburg om verskoning omdat ons nie sy kommentaar gevra het vir die storie wat op 20 April onder die opskrif Ontluikende kerke: klagtes oor RSG se “eensydigheid” gepubliseer is nie.

Dit kom nadat hy ‘n klag by die Persombudsman oor bogenoemde berig gelê het.

Die storie, geskryf deur Jean Oosthuizen, het oor die sogenaamde ontluikende kerke gegaan wat nou ook in Suid-Afrika al groter nuus in kerkkringe word. Luidens die berig heers daar groot meningsverskil onder gereformeerde teoloë oor dié kerke se teologie “en beswaar is pas aangeteken teen ‘n reeks wat deur RSG oor dié kerke uitgesaai is”.

Slegs prof Janse van Rensburg se kant is glo in die program Sondag Aktueel gestel.

Oosthuizen het dr Christo de Klerk aangehaal wat prof Janse van Rensburg se stellings as “onwaar, oorvereenvoudig en eensydig” bestempel het.

Die Adjunk- Persombudsman, Johan Retief, het bevind dat prof Janse van Rensburg genoegsaam deel van die storie was, en die stellings oor hom kwetsend genoeg, dat Kerkbode hom om kommentaar moes gevra het. Ons versuim om dit te doen was ‘n verbreking van die Perskode, en hy het ons daarom versoek om dié verskoning aan te bied.

Retief het die tweede deel van die klag, naamlik dat Janse van Rensburg valslik in die berig van leuens beskuldig sou word (wat op laster sou neerkom), van die hand gewys. Hy het daarop gewys dat die berig nie die woord “leuen” gebruik het nie en dat wetenskaplikes krities moet wees en kritiek moet kan hanteer.

Hy het ook klem gelê op die onderskeid tussen “onware” stellings en “leuens” – anders as eersgenoemde, propageer leuens doelbewus ‘n valsheid om mense te mislei. Hy het gesê dat dr De Klerk na alle waarskynlikheid nie bedoel het dat prof Janse van Rensburg die publiek doelbewus probeer mislei het nie, maar slegs dat sy sienings op ‘n ander interpretasie as De Klerk s’n gedui het.

Retief het bevind dat die woorde “eensydig” en “oorvereenvoudig” aanvaarbaar is, gegee die (akademiese) vryheid van spraak wat in Art. 16 van die Grondwet gewaarborg word.

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2012) vir die volledige bevinding.

Einde van teks

APPèL

Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief
Adjunk- Persombudsman