Herman Bester vs Rapport

Complainant: Herman Bester

Article: Bluezone: Ondersoek gelas verskyn het.

Date: 18 August 2010

Respondent: Rapport

Klag
Mnr. Herman Bester, van die maatskappy Stonevest, kla oor ‘n berig wat in Rapport op 13 Junie 2010 onder die opskrif Bluezone: Ondersoek gelas verskyn het.
Die klag behels die volgende:
  • Die stelling dat ‘n forensiese ondersoek gelas is om Stonevest te ondersoek is foutief;
  • Die joernalis, Adri van Zyl, het nie met een van die likwidateurs gepraat nie;
  • Anders as wat die storie suggereer, is daar geen verband tussen Stonevest en Bluezone nie;
  • Die volgende sin is feitelik verkeerd: “Soos Bluezone werf Stonevest geld van die publiek vir eiendomsontwikkelings”;
  • Die “verlies van R1,08 miljoen” skep verkeerdelik die indruk dat Stonevest se uitgawes sy inkomste met daardie bedrag oorskry; en
  • Stonevest is nie ‘n billike kans gegee om kommentaar te lewer nie.
Ontleding
Die storie gaan oor ‘n forensiese ondersoek wat gelas is na ‘n eiendomsmaatskappy (Stonevest) “wat moontlik met die geld van Bluezone op die been gebring is”. Laasgenoemde was die bemarker van die gelikwideerde Spitskop-ontwikkeling by Steelpoort in Mpumalanga. Daar word onder meer berig dat Stonevest ‘n verlies van R1.08 miljoen gely het. Die storie sê ook dat Stonevest begin is deur vier voormalige werknemers van Bluezone en Spitskop toe dit duidelik geword het dat dié ondernemings gaan sink.
Ons kyk nou na die meriete van die klag:
Forensiese ondersoek na Stonevest
Bester ontken dit kategories dat daar enige ondersoek van watter aard ookal na Stonevest gelas is. Hy sê ook geen aansoek is by ‘n bevoegde hof gebring om so ‘n ondersoek te magtig nie.
Van Zyl betwis dit nie, maar voer aan dat die storie nie te kenne gee dat Stonevest self ondersoek gaan word nie – eerder dat ondersoek ingestel gaan word na die moontlike vloei van geld vanaf Bluezone na Stonevest.
Dis egter nie presies wat die storie sê nie. Die inleidingsparagraaf lui: “Die likwidateure en geregtelike bestuurders van die gelikwideerde Bluezone-eiendomsindikaat het ‘n forensiese ondersoek gelas na ‘n eiendomsmaatskappy wat moontlik met die geld van Bluezone op die been gebring is.” (eie beklemtoning)
Vier sinne later word dit duidelik wat die naam is van hierdie eiendomsmaatskappy – Stonevest. En weer word dit as ‘n feit gestel: “Die geregtelike bestuurders het nou ‘n ondersoek aangevra na Stonevest Private Property Fund omdat dié maatskappy moontlik met geld van Bluezone of Spitskop op die been gebring is.” (eie beklemtoning)
Dit gaan inderdaad telkens oor die kwessie dat Stonevest moontlik met Bluezone-geld ontstaan het (of “vloei van geld vanaf Bluezone na Stonevest”, soos Van Zyl dit stel) – maar twee keer word dit ook onomwonde gestel dat ‘n ondersoek ingestel of aangevra gaan word na ‘n eiendomsmaatskappy/Stonevest.
Uiteindelik gaan dit oor die vraag of daar ‘n geregtelike ondersoek na Stonevest sou kom of nie. Bester ontken dit kategories; in haar verweer betwis Van Zyl nie wat Bester sê nie. Sy bring ook geen getuienis wat haar storie staaf nie.
Die een groot probleem met die storie is dat daar, van die begin tot die einde, geen bron aangehaal word nie. (Die publiek word daarmee sy reg ontneem om self te besluit oor die geloofwaardigheid van die storie.) Dit geld ook die kwessie wat hier ter sprake is.
As Van Zyl geskryf het dat likwidateurs en geregtelike bestuurders gesê het dat ‘n forensiese ondersoek na Stonevest gelas is, was sy veilig. Dan het sy (indirekte) bronne aangehaal op wie se brood die stelling gesmeer kan word. Sy doen dit egter nie – sy skryf dit as ‘n feit.
As dit dan wel ‘n feit was, waarom nie ‘n gesaghebbende bron aanhaal – wat uiteraard net haar storie sou versterk het nie?
Van Zyl moet dit nie vreemd vind dat daar op hierdie manier twyfel geskep word oor die geldigheid van daardie stelling nie – en ook nie dat die voordeel van die twyfel om daardie rede aan Bester gaan nie.
Die waarskynlikheid dat Bester en Stonevest hierdeur onnodige skade berokken is, kan nie buite rekening gelaat word nie.
Die joernalis het nie met een van die likwidateurs gepraat nie
Die klag lui soos volg: “Nie een van die geregtelike bestuurders of likwidateurs het met jou (Van Zyl) gepraat nie. Kobus Schabort is nie aangestel as geregtelike bestuurder of likwidateur nie.”
Van Zyl sê sy het met mnr. Paul Kruger, “likwidateur van Spitskop en Bluezone”, gepraat.
In die berig word egter nie na een van die twee persone verwys nie. Hierdie deel van die klag is daarom irrelevant.
Geen verband tussen Stonevest en Bluezone
Bester ontken dat Stonevest met geld van Bluezone tot stand gebring is en dat Stonevest enige geld aan Bluezone verskuldig is. Hy sê hy het vroeër persoonlik aan Van Zyl verduidelik dat Stonevest ‘n onafhanklike entiteit is en nie ‘n uitvloeisel van Bluezone nie – tog bly sy die indruk tot die teendeel skep.
Van Zyl sê met die skryf van die berig het die likwidateurs reeds getuie-dagvaardings op onder meer Bester beteken (Bester was voorheen Bluezone se finansiële direkteur) om te getuig in likwidasie-ondervragings. Sy sê die likwidateurs het toe vermoed dat Stonevest gestig is met geld wat via Bluezone of ‘n Bluezone-sindikasie of Spitskop na Stonevest gevloei het.
Goed, maar weer eens: Waarom word ‘n bron nie aangehaal nie? Bronne gee immers geloofwaardigheid aan ‘n storie? Wie is hierdie likwidateurs?
Van Zyl sê verder dis nie onredelik om Bluezone met Stonevest te verbind nie – laasgenoemde is deur vier voormalige werknemers van Bluezone begin. Stonevest se nuusbriewe verwys boonop spesifiek na Bluezone.
In hierdie geval gaan die voordeel van die twyfel aan Van Zyl. Dis hoekom: Die storie stel dit nie as ‘n feit dat Stonevest met Bluezone-geld begin is nie – slegs (twee keer) dat so ‘n moontlikheid ondersoek gaan word.
‘Soos Bluezone werf Stonevest geld van die publiek vir eiendomsontwikkelings’
Bester sê bogenoemde sin is feitelik verkeerd. Stonevest, sê hy, doen nie eiendomsontwikkelings nie – sy besigheid gaan oor bestaande geboue met bestaande huurders (eiendomsbeleggings). Anders as Stonevest, was Bluezone wel by eiendomsontwikkelings betrokke.
Van Zyl ontken nie dat Stonevest ‘n eiendomsbelegging-maatskappy is nie. Sy voer egter aan dat die inleidingsparagraaf na Stonevest as ‘n “eiendomsmaatskappy” verwys. Sy voeg by dat die gebruik van die woord “eiendomsontwikkelings” in die betrokke sin algemeen aanvaar word “as verwysing na beleggings in bestaande eiendom en/of ontwikkelings, en sou as sulks deur lesers verstaan word”.
Dit kan kwalik waar wees. Woorde het immers betekenis – eiendomsontwikkeling en eiendomsbelegging is sekerlik twee verskillende dinge.
Verlies van R1,08 miljoen
Bester sê die verwysing na bogenoemde verlies skep die verkeerde indruk dat Stonevest se uitgawes sy inkomste met R1.08 oorskry het. Hy verduidelik dié verlies is bloot ‘n voorsiening van gekapitaliseerde kostes ten opsigte van die eiendom wat op jaareinde nog nie oorgedra was nie – die verlies was dus nie veroorsaak deur bedryfsuitgawes nie.
Van Zyl sê haar beriggewing is feitelik korrek – die inligting kom uit die direkteursverslag en finansiële state wat saam met die prospektus van Stonevest op ‘n webwerf gepubliseer is.
Sy is korrek – luidens die verslag het die maatskappy inderdaad ‘n verlies van R1.08 miljoen getoon. Dit is waar – maar dit is dalk nie die volle waarheid nie. Die vraag is of verantwoordelike verslaggewing daarby kan volstaan om net die verlies te publiseer en of die koerant nie verder behoort te gegaan het deur ook die redes vir daardie verlies te probeer analiseer nie.
Die volgende sin uit die verslag behoort Van Zyl te genoop het om haar woorde versigtiger te kies: “The directors are of the opinion that in terms of the above conditions the fund cannot be insolvent, because the debenture liability is limited to the net asset value of the company. The directors are also of the opinion that the impairment of the investment property provided for as a debit in the income statement will in future be reversed and be outperformed due to the longterm nature of immovable property investments.” (eie beklemtoning)
Dit beteken dat, hoewel feitelik korrek, die verwysing na die verlies van R1.08 miljoen heel moontlik die verkeerde indruk kon skep dat daar iets met die bedrywighede van die maatskappy skort.
Joernaliste moet sowel teks as konteks regkry. Dit is nie altyd genoeg om die waarheid te skryf nie – die konteks waarbinne die waarheid geskryf word maak meestal ‘n beslissende verskil.
Hier is ‘n voorbeeld: ‘n Vrou skiet haar man dood. Die koerant skryf dit. Dis feitelik korrek. Maar die koerant verswyg waarom die vrou haar man doodgeskiet het – dit was (byvoorbeeld) om haar kinders te red. Met hierdie tweede stukkie inligting word die eerste feit in ‘n totaal ander lig gestel.
Die koerant het duidelik nie so ‘n moontlikheid ondersoek nie, tot verdere moontlike nadeel van Bester en Stonevest.
Geen billike kans vir kommentaar
Bester kla dat Stonevest nie ‘n billike kans gekry het om op navrae te reageer nie. ‘n Oproep op ‘n Vrydagmiddag enkele ure voor die openingswedstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi is onbillik, voeg hy by.
Van Zyl sê sy het Bester die Vrydagmiddag voor publikase tussen 12:00 en 13:00 op sy kantoornommer genader. Haar indruk was, sê sy, dat die boodskap dieselfde dag nog aan Bester oorgedra sou gewees het.
Bester erken self (dat hy geweet het) dat Van Zyl hom ‘n paar ure voor afskoptyd gebel het. Vir ‘n publikasie wat eers twee dae later verskyn, was dit sekerlik genoeg tyd.
Naskrif
Bester het verskeie dokumente aan ons kantoor voorgelê wat almal daarop dui dat die berig inderdaad skade aan Stonevest aangerig het.
Een so ‘n brief, van me. Liesl van Wyk van Alpha Cube Capital (gedateer 21 Junie 2010 – agt dae ná publikasie), lui onder meer: “Dit gaan vir ons moeilik wees om ‘n fondsadministreerder te kry na die Rapport artikel. Ek is dus nie in staat om hierdie fonds te bestuur nie. Hoe jy dit ookal sny het die Rapport artikel skade aan Stonevest se beeld gedoen – en ons is as gevolg daarvan nie in staat om ‘n administreerder te kry nie.”
Wanneer ‘n koerant verantwoordelik verslag doen en die subjek van sy verslaggewing word nogtans daardeur skade berokken, is dit nie die koerant se skuld nie. Egter: Selfs dan is dit ‘n koerant se etiese plig om die skade te minimaliseer.
Dit het nie hier gebeur nie.
Bevinding
Forensiese ondersoek na Stonevest
Die publiek is die reg ontneem om self te besluit, gebaseer op behoorlike navorsing en gesaghebbende bronne, of daar ‘n forensiese ondersoek na Stonevest gelas is of nie. Dit laat ernstige twyfel oor die korrektheid van daardie stelling ontstaan – wat Bester en Stonevest waarskynlik onnodige skade berokken het. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.4 van die Perskode wat sê: “Wanneer daar rede is om die akkuraatheid van ‘n berig te betwyfel en dit prakties haalbaar is om die akkuraatheid daarvan te verifieer, sal dit geverifieer word. Wanneer dit nie prakties haalbaar is om die akkuraatheid van ‘n berig te verifieer nie, sal dit in so ‘n berig genoem word.”
Die joernalis het nie met een van die likwidateurs gepraat nie
Niemand se naam word in hierdie verband genoem nie. Dié deel van die klag word daarom van die hand gewys.
Geen verband tussen Stonevest en Bluezone
Al is dit ook waar dat Stonevest nie met geld van Bluezone tot stand gebring is nie en dat Stonevest geen geld aan Bluezone verskuldig is nie, stel die storie dit nie as ‘n feit dat Stonevest wel met Bluezone-geld begin is nie – slegs dat so ‘n moontlikheid ondersoek gaan word. Dié deel van die klag word daarom van die hand gewys.
‘Soos Bluezone werf Stonevest geld van die publiek vir eiendomsontwikkelings’
Die storie onderskei nie tussen eiendomsontwikkeling en eiendomsbelegging nie. Dít lei tot bogenoemde sin, wat onakkuraat is. Dit is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode: “Die pers is verplig om nuus…akkuraat…te rapporteer.”
Verlies van R1,08 miljoen
Luidens die direkteursverslag is die stelling dat Stonevest ‘n verlies van R1.08 miljoen gely het, korrek. Daar is egter genoeg inligting in dieselfde verslag wat geroep het om ‘n interpretering van daardie bedrag. Die gebrek aan sodanige interpretasie is ‘n verbreking van Art. 1.2 van die Perskode: “Nuus sal binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite hetsy deur verdraaiing, oordrywing of wanvoorstelling; wesenlike weglatings of opsomming.”
Geen billike kans vir kommentaar
Bester is genoeg tyd gegun om kommentaar te lewer. Dié deel van die klag word daarom van die hand gewys.
Optrede
Die koerant word versoek om ‘n opsomming van hierdie bevinding (nie die hele ontleding nie) te publiseer, saam met ‘n apologie vir moontlike skade aan Bester en Stonevest se beeld aangerig. Die berig moet op dieselfde bladsy en met dieselfde prominensie as die betrokke storie gepubliseer word. Die koerant word versoek om die berig voor publikasie aan die Adjunk- Persombudsman beskikbaar te stel. Die laaste sin van die berig moet lui: “Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2010) vir die volle bevinding.”
Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman