Francois en Christene van Wyk vs Die Burger

Complainant: Francois en Christene van Wyk
Article: DBV in Wellington word dalk gesluit
Date: 30 March 2010
Respondent: Die Burger
Klag
Mnr. Francois van Wyk en sy vrou, Christine – onderskeidelik die voormalige voorsitter en tesourier van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Wellington – kla oor berigte in Die Burger op 22 Desember 2009 (DBV in Wellington word dalk gesluit), 23 Desember (Wellington se DBV gaan nie toemaak nie) en 16 Januarie (Wellington se DBV soek nog steeds geld).
Oor die volgende word gekla:
  • Die koerant berig oor die Van Wyks, maar sonder om hulle vir kommentaar te nader;
  • Daar word geïnsinueer dat die Van Wyks geld gesteel of vir eie gewin gebruik of op eie houtjie gespandeer het;
  • Dis onbillik om te noem dat R400 000 van die DBV bestee en dat skuld van R40 000 aangegaan is, sonder om te sê waarop die geld uitgegee is en waarvoor die skuld gemaak is;
  • Die verwysing na “bankrotskap” is ‘n wanvoorstelling;
  • Dit is onmoontlik, soos berig, dat die vorige komitee nie van die krisis geweet nie; en
  • Dis onwaar dat geen geldinsamelingspogings aangewend is nie, soos in die storie beweer word.
Ontleding
Die eerste berig is hoofsaaklik geskoei op ‘n persverklaring wat die hoofbestuurder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van die Wes-Kaap, mnr. Allan Perrins, op 21 Desember 2009 na Die Burger gestuur het waarin bekend gemaak word dat die DBV se tak in Wellington geldelike probleme ondervind. Die berig sê daar moet oor die toekoms van Wellington se DBV besluit word omdat dit in ‘n geldelike verknorsing is.
In die berig word die Van Wyks se name en gewese posisies genoem (toe die berigte gepubliseer is, het hulle reeds bedank – hulle was egter betrokke toe “foute” begaan is wat tot die geldelike krisis gelei het), daar word onder meer geskryf dat geen finansiële state aan die komitee voorgelê is nie, dat geen begroting ooit opgestel is nie, dat daar na bewering in daardie tyd geen poging aangewend is om geld in te samel nie, en dat R400 000 binne 18 maande bestee is. Hierdie is duidelik van die oorsake wat vir die geldelike krisis aangevoer word – en dit het alles onder die Van Wyks se leierskap gebeur.
Die volgende dag berig Die Burger oor die gemeenskapsvergadering wat die vorige aand gehou is en waarop besluit is dat die DBV se deure vir eers oop gaan bly.
In die derde berig skryf Die Burger dat die DBV steeds in ‘n “geldelike verknorsing” is ondanks ‘n bedrag van meer as R600 000 aan Lotto-geld wat die DBV binnekort sou ontvang.
Ons kyk nou na die meriete van die klag.
Die eerste berig
Nie om kommentaar genader
Die Burger erken hy het die Van Wyks nie om kommentaar genader nie, maar meen dat dit nie nodig was nie. Die berigte het gehandel oor die toekoms van die DBV – en die Van Wyks was nie deel daarvan nie omdat hulle reeds uit die komitee bedank het, verduidelik die koerant.
Egter: Al is dit so dat die berig oor die toekoms (van die DBV op Wellington) handel, soos die koerant dit stel, kan die toekoms en die verlede nie van mekaar geskei word nie. Luidens die berig is die toekoms van die DBV duister omdat dinge in die verlede, onder die Van Wyks se leierskap, nie reg verloop het nie.
Die koerant is dus net gedeeltelik reg: Vir sover die berig oor die toekoms handel, hoef die koerant inderdaad nie die Van Wyks te  genader het nie – hulle het bedank en het niks meer met die organisasie te make gehad nie. Omdat die berig egter ook gaan oor die “foute” (terwyl die Van Wyks aan die stuur van sake was) wat tot die geldkrisis sou gelei het en hul name in dié verband genoem word, behoort die koerant hulle wel om kommentaar te gevra het. Die Van Wyks se goeie naam was immers op die spel.
Luister na die ander kant.
Die Burger het die berig gepubliseer – die onus was op Die Burger om die Van Wyks te nader. Die koerant se uitnodiging aan die Van Wyks, deur ‘n derde persoon, om inligting te verskaf is sekerlik nie genoeg nie.
Die probleme wat hierdie nalating veroorsaak het, sal stelselmatig hieronder duidelik word.
Op eie houtjie; vir eie gewin
Die koerant verwerp die aantyging dat hy sou geïnsinueer het dat die VanWyks geld gesteel of vir eie gewin gebruik het, asook dat die Van Wyks R40 000 se skuld sou gemaak en op eie houtjie R400 000 sou gespandeer het. Die berigte stel dit onomwonde dat “die DBV”, en nie die Van Wyks nie, die uitgawes aangegaan en die skuld gemaak het, sê Die Burger.
Die koerant se argument is geldig – die Van Wyks word nie vir bogenoemde verantwoordelik gehou nie.
Hier is egter wel ‘n ander probleem. Perrins se verklaring sê duidelik dat bedrog nie vermoed word nie. Die koerant rapporteer dit egter nie. Die bedrae waaroor berig word, is nogal aansienlik – die gemiddelde leser sal waarskynlik dadelik wonder waarvoor die geld aangewend is, waarvoor die skuld aangegaan is en of dit dalk in iemand (mense in gesagsposisies?) se sak beland het. Die feit dat die joernalis nagelaat het om te noem dat geen bedrog vermoed word nie, laat ‘n belangrike deel van die berig in die lug hang en skep ruimte vir onnodige spekulasie – tot die moontlike nadeel van die Van Wyks.
Die skrywer van die berigte, Malani Venter, vererger die situasie met die volgende stelling aan ons kantoor: “Ek (Venter) het (die nuwe voorsitter) gevra of enigiemand van bedrog verdink word en of ‘n saak teen enigiemand gemaak gaan word. Sy het gesê niemand word ondersoek of verdink van bedrog nie.”
Maar Venter skryf dit nie – weer eens tot die onnodige nadeel van die Van Wyks. Van die ou etiek-stelreël: “maksimum waarheid, minimum skade” het hier maar min tereg gekom.
Skuld, besteding
Die Van Wyks sê die R40 000 skuld waarna die berig verwys, is aan die Wellington Dierehospitaal verskuldig; hulle sê dat hulle reeds reëlings getref het dat dit betaal sou word uit Lotto-geld van meer as R600 000 wat aan die DBV verskuldig was. Hulle voeg by dat van elke sent van die R400 000 wat gebruik is, verslag gedoen kan word.
Bogenoemde inligting sou nodige balans aan die berig gegee het. Daarsonder word ruimte vir onnodige, negatiewe spekulasie geskep wat die Van Wyks nadelig kon raak.
Bankrotskap
Die koerant sê dat hy nêrens geskryf het dat die Wellingtonse DBV bankrot verklaar is nie. Die frases “geldelike verknorsing” en “tegnies bankrot” word gebruik om daarmee te sê dat die instelling nie sy geldelike verpligtinge kon nakom nie, verduidelik Die Burger.
(Die woord “bankrot” verskyn egter wel in ‘n onderskrif in die tweede berig. Die Burger erken dat die onderskrif ‘n bona fide fout is, maar sê ook dat dit nie in isolasie gelees moet word nie. Die koerant sê as hy te kenne wou gee dat die DBV bankrot was, sou hy dit so in die berigte gestel het.)
Die Burger se verduideliking in hierdie verband is redelik en word dus aanvaar.
Ander komiteelede
Die koerant wys daarop dat die Van Wyks nie gereageer het op die persverklaring waarin gesê is dat die bestuurskomitee nie deur die Van Wyks oor die geldelike probleme ingelig nie – daarom moet aanvaar word dat Perrins se stelling korrek is, sê die koerant.
Soos reeds voorheen aangedui, sou Die Burger na alle waarskynlikheid kommentaar van die Van Wyks oor hierdie saak gekry het as die koerant hulle daarvoor gevra het.
Dis reg dat die koerant Perrins se verklaring aanhaal waar gesê word dat die komiteelede nie deur die Van Wyks ingelig is nie. Dit was egter ook belangrik dat kritiese vrae daaroor gevra moes word – die stelling dat die krisis eers aan die lig gekom het nadat die Van Wyks bedank het, skep immers die indruk van geheimhouding.
Hier is twee moontlikhede:
  • Die Van Wyks het nie die krisis geheim gehou nie – maar dan is die gebrek aan kritiese vrae tot hul nadeel; of
  • Die Van Wyks het wel die krisis geheim gehou – maar dan was dit juis die koerant se plig om indringende vrae daaroor te vra.
As Venter wel kritiese vrae gevra het oor hoe dit moontlik is dat die ander lede van die destydse komitee van geen krisis geweet het nie, word dit nie in die berigte gereflekteer nie.
Weer eens kon die ruimte vir onnodige spekulasie tot die nadeel van die goeie naam van die Van Wyks lei.
Geldinsamelingspogings
Die Van Wyks sê hulle het wel pogings aangewend om geld in te samel. Die Lotto-geld is een van dié pogings, sê hulle.
Die koerant sê skuld vir die rapportering oor die gebrek aan geldinsamelingspogings word nie eens per implikasie op die Van Wyks gepak nie.
Die Burger mis egter hier die punt: Die klag is nie dat die koerant die skuld vir die gebrek aan insameling op die Van Wyks sou gepak het nie – die klag is dat die stelling dat daar geen sulke pogings was nie onwaar is. Die Lotto-geld wat sou inkom, wat deur geen party betwis is nie, is ‘n bewys daarvan dat die stelling inderdaad onwaar is.
Die koerant het wel die woorde “na bewering” hier gebruik. Dit versag egter nie die stelling genoegsaam nie omdat daar nie gesê word waar hierdie bewering vandaan kom nie en dit ook nie geverifieer is nie. Dit kom beslis nie in Perrins se persverklaring voor nie.
Weer eens: As die koerant die Van Wyks om kommentaar genader het, sou hy oor hierdie beweerde pogings kon berig het.
Die tweede en derde berig
Daar kan geen fout gevind word met die feit dat die Van Wyks nie vir die tweede en derde berig om kommentaar genader is nie. Die tweede berig handel oor ‘n vergadering wat nie deur die Van Wyks bygewoon is nie en hul name word boonop nie in die berig genoem nie; die derde berig doen verslag oor die destydse stand van sake en die Van Wyks se name word weer nie genoem nie. Hulle was immers nie meer by die DBV betrokke nie.
Bevinding
Die eerste berig:
Nadat die koerant die Van Wyks se name genoem het, behoort die koerant hulle om kommentaar te genader het. Hierdie nalating is ‘n verbreking van Art. 1.1 van die Perskode, wat bepaal dat die pers billik moet rapporteer.
Die klag dat die koerant sou geïnsinueer het dat die Van Wyks geld gesteel of vir eie gewin gebruik of op eie houtjie gespandeer het, word van die hand gewys.
Die feit dat die koerant nie gerapporteer het dat geen bedrog vermoed word nie, het ernstige skade aan die balans van daardie berig aangebring, tot die moontlike nadeel van die Van Wyks. Dit verbreek Art. 1.2 van die Kode, waarin onder meer gesê word dat nuus binne konteks en op ‘n gebalanseerde manier aangebied moet word en dat belangrike feite nie verswyg mag word nie.
Dit is onbillik dat nagelaat is om te noem waarop die R400 000 bestee is en waarvoor die skuld aangegaan is aangesien dit vrae in die lug laat hang wat die Van Wyks onnodig nadelig kon raak. Dit verbreek Art. 1.2 van die Kode, wat onder meer bepaal dat nuus in konteks en gebalanseerd gerapporteer moet word, sonder enige doelbewuste of agtelosige afwyking van die feite, hetsy deur wesenlike weglatings of opsomming.
Die klag oor die verwysing na “bankrotskap” word van die hand gewys.
Die feit dat geen poging in die berig aangewend word om te verduidelik waarom die ander lede van die komitee nie van die stand van sake geweet het nie, verbreek Art. 1.2 van die Kode.
Die feit dat die verwagte Lotto-geld deur die Van Wyks beding is, word nie deur die koerant betwis nie. Dit maak die stelling dat daar geen geldinsamelingspogins was gedurende hul termyn op die komitee nie onwaar, al word die “na bewering” bygevoeg. Dit verbreek Art. 1.1 van die Kode, waarin bepaal word dat die pers akkuraat moet berig.
Die tweede en derde berig:
Alle klagte in verband met die bogenoemde berigte word van die hand gewys.
Optrede
Die koerant word versoek om die volledige bevinding van die Adjunk- Persombudsman te publiseer. Die berig moet die volgende sin bevat: “Indien die Van Wyks se openbare beeld hierdeur skade berokken is, vra die koerant hulle daarvoor om verskoning.”
Die koerant word versoek om die berig voor publikasie aan die Adjunk- Persombudsman beskikbaar te stel.
Appèl
Let asseblief daarop dat ons klagte-prosedure bepaal dat enige een van die partye binne sewe dae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Appèlraad, Regter Ralph Zulman, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word.
Johan Retief
Adjunk- Persombudsman