Ds. Danie Mouton vs Rapport

Bevinding deur die Persombudsman

20 Mei 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van die NG Kerk se maatskappy Bybel-Media, en Rapport.

KLAG

Ds. Danie Mouton kla oor ‘n storie en ‘n artikel in Rapport, gepubliseer op 10 Maart 2013. Die storie het verskyn onder die opskrif Kerkman liég, sê brief. Die artikel was Hanlie Retief se rubriek waarin sy met mnr. Jean Oosthuizen, gewese nuusredakteur van Kerkbode, ‘n onderhoud gevoer het. Die opskrif hiervan was Hanlie Retief gesels met Jean Oosthuizen – God is hier by ons, hoe dan anders?

Die storie

Mouton kla dat die:

·         stelling dat hy sou gelieg het, sy waardigheid en reputasie as predikant in die NG Kerk aangetas het;

·         storie selektief uit ‘n ope brief aan hom aangehaal het, wat tot laster aanleiding gegee het;

·         koerant hom nie voldoende geleentheid gegeee het om kommentaar op die bewerings van leuens te lewer nie; en

·         storie verkeerdelik gesê het dat Oosthuizen bedank het en dat die topbestuur “grootliks uit dominees” sou bestaan.

Die artikel

Hy kla ook dat Hanlie Retief:

·         dit as ‘n feit gestel het dat die NG Kerk se Tydskriftemaatskappy (TM) die waarheid “effens aangepas” het;

·         hom nooit daaroor om kommentaar genader het nie; en

·         selektief uit ‘n ope brief aan hom aangehaal het, wat tot laster gelei het.

ONTLEDING

Die storie, geskryf deur Pieter Malan, sê die hel was behoorlik los by die NG Kerk se uitgewers Bybel-Media (BM) nadat ‘n tweede senior werknemer sy base vir leuenaars en as ‘n verleentheid vir die kerk uitgekryt het. Die konteks hiervan word in die berig se tweede sin verwoord: “Die maatskappy is nou reeds ‘n paar weke die middelpunt van debat in kerkkringe ná sy omstrede besluit om sy borgskap van ‘n godsdiensgesprek aan die US Woordfees te onttrek.” Die storie noem twee naamlose briewe wat onderskeidelik aan Mouton en aan dr. Pieter Fourie, BM se uitvoerende hoof, gestuur is. Die skrywer van dié twee briewe, so word berig, het homself later as die outeur daarvan geïdentifiseer. Hy was die hoof van die maatskappy se publikasie- en video-afdeling, mnr. Danny Fourie. Malan haal ook allerlei aantygings aan wat laasgenoemde teen Mouton en Fourie in sy briewe gemaak het.

Die artikel handel oor ‘n onderhoud wat Hanlie Retief met Oosthuizen gevoer het en waarin sy onder meer beweer het dat daar aanduidinge was dat TM “die waarheid effens aanpas”.

Algemene opmerking

‘n Deel van Rapport se reaksie op Mouton se klag is enigsins irrelevant.

Byvoorbeeld, die koerant sê dat:

·         hy vóór publikasie geweet het wie die outeur van die briewe was;

·         hy onder geen omstandighede saamgesweer het met Danny Fourie om die briewe in ontvangs te neem en te publiseer nie;

·         terwyl Mouton kla oor die beskuldigings teen hom, huiwer hy nie om self in die openbaar sodanige beskuldigings te maak nie; en

·         selfs ‘n spotprent van Die Burger sinspeel op die “effens aangepas” (van die waarheid).

Ek ignoreer daarom bogenoemde, asook Mouton se reaksie daarop.

Die storie

‘Gelieg’ tas waardigheid, reputasie aan

Die storie sê dat die skrywer van die brief aan Mouton beweer het dat laasgenoemde “blatant gelieg het toe hy op RSG se nuusprogram Monitor oor die borgskap van die Woordfees-program uitgevra is”. Malan herhaal die aantyging van leuens etlike kere (aangehaal uit die anonieme brief).

Mouton kla dat hierdie aantygings teen hom sy waardigheid en reputasie as predikant van die NG Kerk aangetas het, sonder om enige objektiewe basis vir die beskuldigings te verskaf. Hy verduidelik dat hy die uitvoerende direkteur van die Sinode van die NG Kerk in Oos-Kaapland is, wat met 104 gemeentes werk. Hy is kantoorhoof van die sinodale kantoor, werk met die sinode en gemeentes se finansies, en verteenwoordig die sinode op verskeie vlakke by die Algemene Sinode.

Hy sê: “Ek was nog nooit van leuenagtigheid beskuldig nie, het geen kriminele oortredings begaan nie, was not nooit in siviele gedinge betrokke nie, en is afhanklik van ‘n goeie naam en reputasie om my werk te doen.” Hy vra ook: “Wat is die feitebasis waarop Rapport hierdie beweringe klakkeloos herhaal?”

Mouton voeg by dat Danny Fourie hom sedertdien om verskoning gevra het, en erken het dat hy die brief uit woede en gebaseer op verkeerde feite en aannames geskryf het.

Hy kla ook oor die “dramatiese kop van die berig”, asook oor plakkate wat op lamppale verskyn het. “My waardigheid en reputasie word die slagoffer van Rapport se soeke na sensasie.”

Rapport sê dat:

·         Danny Fourie (59) ‘n senior amptenaar was en een van die voorste redakteurs van Christelike boeke in die land. “Die feit dat Fourie outeurskap van die briewe erken het, was ‘n groot faktor wat bygedra het tot die besluit om die inhoud van die briewe te publiseer” – die brief was nuuswaardig “aangesien dit ‘n verdere, gesaghebbende stem was wat hom in die openbaar met Oosthuizen se beskuldiging vereenselwig het”;

·         Dit het ook die “woedende toon” van die brief gereflekteer, wat insig gegee het in die vlak van frustrasie wat ervaar is;

·         dit ‘n debat was wat in die openbaar afgespeel het en waaroor die koerant berig het”; en

·         Fourie se beweerde verskoning eers ná publikasie gebeur het, en dat hierdie kantoor dit daarom nie in ag behoort te neem by die beoordeling van die saak nie.

In sy reaksie hierop, bevraagteken Mouton Danny Fourie se motiewe op verskeie maniere.

Ek gaan hieraan verby, omdat dit nie my taak is om Fourie se “motiewe” te beoordeel nie; ek is slegs gemoeid met Rapport se joernalistieke etiek.

Mouton voer ook die volgende aan: “Wanneer iemand se naam geskend word, soos die dreigbrief kennelik doen, moet die herhaling daarvan in die publieke domein deur Rapport, getoets word aan die belang van die publiek om daaroor ingelig te word.”

Eerstens, ek dink nie dat daar enige twyfel kan bestaan oor die vraag of die storie Mouton se waardigheid en reputasie aangetas het nie (veral gegee sy posisies in die kerk). Die kern van die saak, uit ‘n media etiese oogpunt gesien, is wel of Rapport geregverdig was om dit te doen.

Hier verwys ek na die Art. 4.2 van die Perskode (wat ek in Engels aanhaal omdat daar nie ‘n Afrikaanse vertaling daarvan beskikbaar is nie). Ek laat Art. 4.2.2 en 4.2.3 uit omdat dit nie relevant is tot Mouton se klag nie:

“4.2 The press shall exercise care and consideration in matters involving dignity and reputation.

“The dignity and reputation of an individual should be overridden only in the following circumstances:

4.2.1 The facts reported are true or substantially true;

4.2.4 It was reasonable for the article to be published because it was prepared in accordance with acceptable principles of journalistic conduct and in the public interest.”

Met betrekking tot Mouton se klag laat die Perskode dit dus toe dat sy waardigheid en reputasie aangetas mag word, mits die stellings:

·         waar of wesenlik waar is;

·         voldoen aan aanvaarbare joernalistieke beginsels en praktyke; en

·         in die openbare belang is.

Ek het min twyfel dat, indien die bewerings waar is, dit wel in die openbare belang sou wees om dit bekend te maak, gegee Mouton se verskeie kerklike (en daarom ook openbare) ampte. Die omgekeerde geld natuurlik ook – indien die stellings onwaar was, sou dit nie in die openbare belang wees om dit te publiseer nie.

Tweedens, die verwysing na “aanvaarbare joernalistieke praktyke” kom veral ter sprake onder die volgende sub-hofie, wat beteken dat ek vir eers ‘n bespreking daarvan terughou.

Dit laat my met die vraag of die stellings “waar of wesenlik waar” was.

Die volgende etiese kwessies/beginsels is hier ter sprake:

·         Die vraag is nie of dit waar of wesenlik waar was dat Danny Fourie die stellings gemaak het nie – die spilpunt waarom dit draai, is die vraag of die inhoud van wat hy gesê het, waar of wesenlik waar is. Vir hierdie beginsel is daar talle presedente. Neem byvoorbeeld ‘n briewekolom – ‘n koerant kan nie enigiets plaas net omdat ‘n leser dit geskryf het nie;

·         ‘n Ander beginsel, wat bogenoemde komplementeer, is dat die herhaling van laster (lees vanuit ‘n media etiese oogpunt: die aantasting van iemand se waardigheid en reputasie) ook laster is. Wanneer ‘n koerant daarom ‘n lasterlike bewering publiseer wat vals is, moet dié publikasie daarvoor verantwoordelikheid neem;

·         Hierdie kantoor het al dikwels in ag geneem wat ná die publisering van ‘n storie gebeur het – wanneer daaropvolgende gebeure die waarheid van ‘n storie bevestig, kan die Ombudsman noodwendigerwys tog nie bevind dat die storie onwaar was nie; en

·         Die omgekeerde van bogenoemde is ewe geldig – wanneer gebeure ná die publisering van ‘n storie aandui dat die bewerings in daardie berig vals was, kan ek nié bevind dat die aanvanklike stellings waar of wesenlik waar was nie.

Ek verwys in hierdie verband na ‘n uitspraak van hierdie kantoor op 18 Junie 2012 in die saak van KZN Premier Zweli Mkhize teen die Sunday Tribune (hierdie uitspraak is met die goedkeuring van die destydse Persombudsman, Joe Tholoe, gemaak).

“…this section of the Code (met verwysing na Art. 4, soos hierbo aangehaal) is not a licence to publish allegations and rumours after you’ve put them to the accused people. The basic spirit of the code is to be truthful, accurate and fair. If newspapers and magazines were allowed to publish any allegations after they had obtained a denial from their subjects they would do huge harm in our society. Allegations are put to subjects if there is some substance to them.”

Die saak waarmee ek tans handel, is wesenlik dieselfde as bogenoemde een.

Let ook daarop dat ek nie ‘n ondersoek kan loods na die waarheid of valsheid van Danny Fourie se bewerings nie – daarvoor het die kerk sy eie kanale en het hierdie kantoor in elk geval geen mandaat nie.

So, daarom weer eens die vraag: Was Rapport geregverdig om Mouton se openbare beeld skade te berokken? Anders gestel (om ‘n vraag van Mouton hier te herhaal): Was daar ‘n feitebasis waarop die koerant Danny Fourie se bewerings gepubliseer het?

Was dit nie vir Fourie se bekentenis nie (dat hy vir Mouton sedertdien om verskoning gevra het, en erken het dat hy die brief uit woede en gebaseer op verkeerde feite en aannames geskryf het), sou ek nie teen die koerant kon bevind het nie – omdat ek gewoon nie grond sou gehad het om die valsheid van die stellings bo redelike twyfel te bewys nie.

In hierdie geval, egter, is dit redelik om te aanvaar dat Fourie se stellings oor Mouton nie waar of wesenlik waar was nie. Rapport se redenasie dat Fourie se bekentenis deel was van ‘n skikkingsooreenkoms is nie hier relevant nie – die feit is en bly dat hy om verskoning gevra het omdat hy sy aantygings nie op feite gegrond het nie.

Soos die aantygings teen hom in die storie, is die kop daarvan daarom ook sonder die nodige grond of regverdiging.

Dit laat my met dié gevolgtrekkings:

·         Rapport het Mouton se waardigheid en reputasie sonder die nodige regverdiging geskend;

·         Die publisering van die aansprake was daarom nie in die openbare belang nie; en

·         Dit het Mouton groot en onnodige skade berokken.

Let asseblief op die volgende, wat kernbelangrik is:

·         Bogenoemde redenasie beteken nié dat die publisering van alle bewerings of aantygings taboe is nie – natuurlik is dit nie;

·         Die betrokke saak was van openbare belang en daar is reeds oor verwante sake gerapporteer. Die vraag was daarom nie of Rapport oor Danny Fourie se briewe kon berig het nie (natuurlik kon hy), maar eerder hoe dit gedoen moes word.

Rapport se publisering van eksplisiete, ongetoetste bewerings was riskant – soos die gebeure daarna bewys het.

Selektief aangehaal, lasterlik

Mouton kla dat Malan selektief uit die anonieme brief aangehaal en daarmee die koerant se werklike doel van die brief verdoesel het (naamlik die dreigement om die uitkoms van Oosthuizen se tugverhoor te beïnvloed).

Hy verwys na die laaste deel van die brief (waaroor Malan nie berig het nie) wat sê: “Ons sal u dophou wat u op Maandag 4 Februarie doen. As u voortgaan met hierdie onbillike verhoor en beoogde afdanking van Jean Oosthuizen, SAL ons die storie, die hele storie, aan die pers oorgee. Met ‘n sappige storie daaragter. Ons het niks om te verloor nie – Die Uile, Ons sien in die donker.”

Mouton argumenteer: “Rapport vermeld nie die dreigement nie, en laat lesers sodoende in die duister oor die dreigkarakter van die brief, wat totaal ander lig werp op die bewerings daarin vervat, naamlik: tensy die dissipline gestaak word, sal smeerstories versprei word. Die redelike leser sal die smeer- en dreigkarakter van die brief herken en beoordeel in die lig van die motief daaragter.” Hy sê ook dat om slegs oor ‘n gedeelte van die brief te berig, die koerant sy goeie naam belaster en ‘n valse voorstelling aan die publiek voorgehou het.

Hy voer later aan dat dit in Rapport se belang was om die motief agter die brief te verswyg. “Indien Rapport die motief openbaar, sal die gemiddelde leser weet dat Rapport aan die uitgesproke doel van die skrywer voldoen, naamlik om my naam in die openbaar te beswadder omdat ek inderdaad onverskrokke en onverstoord voortgegaan het met die dissiplinêre proses teen mnr. Oosthuizen (wat op 4 Maart 2013 plaasgevind het).”

Rapport sê dat die inhoud van die briewe gepubliseer is nadat Oosthuizen en Kerkbode se arbeidsdispuut geskik is. “Rapport se berig het nie oor daardie proses gegaan nie en dit kon geen impak op die dissiplinêre proses gehad het nie.”

Die koerant argumenteer ook dat die relevansie van die brief vir doeleindes van die berig te doen gehad het met Mouton se karakter, “wat op daardie stadium reeds vir weke in die media onder skoot was”. Die publikasie sê dat dít die rede was waarom hy slegs uittreksels gepubliseer het wat verband gehou het met Mouton se karakter. “Daar was geen verdraaiing in die proses nie.”

Die publikasie voeg by dat hy nie die stelling gepubliseer het dat Mouton vrouens marginaliseer en ontmagtig het nie. “Dit sal egter wel gepubliseer word indien Rapport verplig word om die hele brief te publiseer, soos Mouton eis.”

Uit Rapport se “erkenning” dat hy slegs gedeeltes uit die brief aan Mouton gepubliseer het, lei laasgenoemde af dat Rapport duidelik erken het dat die koerant “wel my karakter wou bykom” (hy praat later van “lasterlike bewerings” teen hom).

Hy voeg by dat:

·         Rapport moet verduidelik waarom die motief agter die brief, naamlik die beïnvloeding van die dissiplinêre proses teen Oosthuizen, “doelbewus verswyg word”. Hy voer aan: “Die feit dat die dissiplinêre proses reeds afgehandel was op 10 Maart, is nie ter sake nie. Wat ter sake is, is dat Fourie sy brief aan my stuur voor die dissiplinêre proses afgehandel is”;

·         sy karakter nie onder skoot was nie – wat wel bevraagteken was, was die redes wat die direksie vir die onttrekking aan die Woordfees aangevoer het; en

·         hy nie die publisering van die hele brief eis nie, maar slegs dat die lesers ingelig word oor die dreigkarakter daarvan.

Uiteindelik kom hy tot die gevolgtrekking dat Rapport onberekenbare skade aan BM se openbare beeld, asook sy eie, berokken het. “Lesers en ondersteuners sal anders oordeel oor die bewerings teen my as hulle weet dit is deel van ‘n dreigement.”

Eerstens: Mouton se aanvanklik klag in hierdie verband het moontlikhede vir interpretasie geopen. Hy skryf naamlik dat Rapport nie oor die “volle inhoud” van die brief berig het nie. Dit kon beteken, soos die koerant dit dan ook vertolk, dat Mouton wou gehad het dat die berig oor alles in die brief moes gerapporteer het.

Wanneer sy klag egter in konteks gelees word, word dit duidelik dat hy bedoel het om spesifiek te kla oor die weglating van wat hy ‘n dreigement noem. Hierdie interpretasie word bevestig in Mouton se reaksie op Rapport se verweer teen sy klag.

Wanneer ek al bogenoemde in ag neem, meen ek dat dit redelik is om my te beperk tot die weglating van die “dreigement” (soos hierbo aangehaal). My vraag is dus of hierdie weglating die inhoud van die brief wesenlik verander het.

Dit bring my terselfdertyd by die kwessie van “aanvaarbare joernalistieke praktyke”.

Die sentrale vraag is hier: Sou die gewone, redelike leser die aantygings teen Mouton anders beoordeel het as hulle geweet het van hierdie “dreigement”?

Ek dink nie so nie, want die “dreigement” (a) neem niks weg van die inhoud van die (voorafgaande) aantygings teen Mouton nie, en (b) daar is niks in die dreigement self wat iets inhoudeliks tot die gewraakte stellings byvoeg of wegneem nie.

Geen voldoende kans op kommentaar

Die storie sê: “Hy (Mouton) wou nie kommentaar lewer oor die bewerings dat hy ‘soos ‘n tandetrekker’ gelieg het nie.”

Mouton kla dat Malan hom nie oor hierdie spesifieke bewering uitgevra het nie. Hy voeg by: “Niks wat ek [aan die verslaggewer]gesê het, kon die joernalis laat aflei dat bewerings oor my sogenaamde leuens deel is van [‘n] ondersoek nie.”

Rapport ontken “ten sterkste” dat Malan nie vir Mouton voldoende geleentheid gegee het om kommentaar te lewer nie. Die koerant voer aan dat Malan se notas wat hy gemaak het gedurende dié gesprek, dit bevestig.

Die koerant argumenteer ook dat, hoewel Mouton die kans gegun is om in sy repliek van 730+ woorde (op 17 Maart) enige moontlike verdraaiing in die beriggewing reg te stel, hy nogtans volstaan het met sy vorige kommentaar aan Malan.

Hierop reageer Mouton deur te bevestig dat Malan hom nie om kommentaar gevra het oor die stelling dat hy soos ‘n tandetrekker sou lieg nie – die verslaggewer het hom eerder verwys na ‘n ondersoek oor personeelverhoudings.

Hy verduidelik ook dat die Moderamen van die Algemene Sinode reeds op 12 Maart bevind het dat die verklaring van die direksie op die waarheid gegrond was. ‘n Verklaring hieroor is op 13 Maart uitgereik – maar Rapport het nie daaroor berig nie. Die koerant bevraagteken egter in ‘n hoofartikel op 17 Maart die optrede van die Moderamen omdat ‘n “ondersoek nog nie afgehandel is nie”.

Mouton voer verder aan: “Hierdie ‘ondersoek wat nog nie afgehandel is nie’ is dieselfde fiktiewe ondersoek waarna in die berig van 10 Maart verwys word… Die enigste ondersoek wat nie afgehandel was nie, is ‘n ondersoek na verhoudings binne die maatskappy. Rapport het sy feite verkeerd.”

Gebaseer op Malan se notas is ek geneë om te aanvaar dat Mouton reg is dat hy nie aanvanklik genader is oor die lieg-aantygings nie. Boonop: Waarom sou iemand soos hy nie wou reageer op so ‘n vernietigende aantyging nie?

Hy is egter verkeerd wanneer hy sê dat Rapport nie berig het oor ‘n verklaring van die Moderamen in hierdie verband nie. Al het die koerant nie direk daaroor geskryf nie, het Mouton se repliek wel gerapporteer dat die Moderamen sy volle vertroue in die direksie en die uitvoerende bestuur uitgespreek het.

Dit het geïmpliseer dat die kerk self nie aanvaar het dat Mouton ‘n leuen vertel het nie.

Die onvoldoende kans op kommentaar op ‘n “leuen” is dus reeds reggestel.

Tog is dit nie die einde van die saak nie. Die stelling in dispuut lui soos volg: “Hy (Mouton) wou nie kommentaar lewer oor die bewerings dat hy ‘soos ‘n tandetrekker’ gelieg het nie” (eie beklemtoning). Hoewel ek dit waardeer dat die koerant op ‘n volgende geleentheid die saak reggestel het (omdat dit implisiet sy ontkenning gepubliseer het), is en bly die stelling dat Mouton nie kommentaar “wou” lewer nie, nie aanvaarbaar nie. Dit het die indruk gewek dat hy iets gehad het om weg te steek, wat ek onbillik en skadelik vind.

Twee foutiewe stellings

Mouton kla dat die storie verkeerdelik gesê het dat Oosthuizen bedank het en dat die topbestuur “grootliks uit dominees” bestaan.

Hy sê dat:

·         Oosthuizen nie bedank het nie, maar dat hy ‘n skikkingsooreenkoms met sy werkgewer aangegaan het; en

·         die meerderheid van die “topbestuur” (of dit nou verwys na die direkteure of na die uitvoerende komitee) nie predikante was nie.

Rapport argumenteer dat daar geen wanbegrip by lesers kon wees oor wat met Oosthuizen gebeur het nie – hy is sy pos kwyt omdat hy “stilgemaak” is. Die koerant sê ook dat die stelling dat die topbestuur grootliks uit dominees bestaan, “wesenlik waar” is. “Selfs op Mouton se weergawe dat 50% van die direksie uit dominees bestaan is die stelling billik aangesien daardie 50% die voorsitter van die direksie insluit.”

Uit ander korrespondensie het ek agtergekom dat die storie na twee liggame kon verwys het – die bedryfsbestuur van BM, of die direksies van die drie maatskappye. Laasgenoemde bestaan wel uit 50% predikante, met die dominee-voorsitter wat waarskynlik ‘n beslissende stem het.

Ek gee dus die voordeel van die twyfel hier aan die koerant omdat die stelling wesenlik waar was.

Dit is egter jammer dat die koerant so laissez-faire met ‘n feite kan omgaan. ‘n Publikasie se eerste plig is om al die feite reg te kry. Dit is wel waar dat sommige feite-foute ernstiger as ander is, maar ek sou verwag dat Rapport bloot net moes erken het dat sy stelling oor Oosthuizen nie akkuraat was nie – en vanself sou aangebied het om dit reg te stel.

Die artikel

Waarheid ‘effens aangepas’

Hanlie Retief skryf: “Daar is aanduidings dat TM die waarheid effens aanpas.”

Mouton kla dat hierdie sin as ‘n stelling aangebied word, en nie as die mening van ‘n bron nie. “Dit is ‘n eufemisme vir lieg.” Hy sê dat hy as voorsitter van die direksie direk by dié aantyging betrek word.

Rapport sê dat dié stelling inderdaad billike kommentaar was in die konteks van die openbare debat. Die koerant beklemtoon dat die artikel die woorde “aanduidings” en “effens aangepas” gebruik het.

Nadat ek al die argumente oorweeg en uiteindelik besluit het dat die publisering van die bewering van ‘n leuen teen Mouton ongeregverdig was (in die storie), kan ek nie Hanlie Retief se bogenoemde stelling goedkeur nie (ek het geen grond om dit te doen nie; die teendeel geld eerder).

Hierdie stelling het Mouton verdere onnodige skade berokken. Ek vind dit jammer dat hierdie een sin die res van ‘n andersins uitstekende artikel enigsins bederf het.

Nie om kommentaar gevra

Mouton kla dat Retief hom nooit om kommentaar genader het vir haar stelling dat TM die waarheid “effens aangepas” het nie.

Hierdie deel van die klag het geen meriete nie – rubriekskrywers is onder geen verpligting om mense om kommentaar te nader nie. Boonop het 99% van haar artikel nie oor Mouton gegaan nie, maar oor Oosthuizen. Die inhoud van haar (enigste) verwysing na Mouton (sy naam word nie genoem nie, maar hy word wel geïmpliseer in die verwysing na die NG Kerk se Tydskriftemaatskappy) het ek reeds verreken.

Selektief aangehaal, lasterlik

Mouton kla dat Hanlie Retief die anonieme bron selektief aangehaal het en dat dit tot laster gelei het.

Hy spesifiseer nie presies wat weggelaat is nie, maar ek lei af dat dit ook oor die “dreigement” gehandel het.

My argument hier is presies soos hierbo.

BEVINDING

Die storie

‘Gelieg’ tas waardigheid, reputasie aan

Rapport het met sy storie wat hom by ‘n leuen betrek (waarby die opskrif ingesluit is) Mouton se waardigheid en reputasie sonder die nodige regverdiging daarvoor geskend; en die publisering daarvan was daarom nie in die openbare belang nie en het hom groot en onnodige skade berokken. Dit verbreek Art. 4.2.1 en 4.2.4 van die Perskode (soos hierbo aangehaal).

Selektief aangehaal, lasterlik

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Geen voldoende kans op kommentaar

Mouton het aanvanklik nie voldoende kans gekry om kommentaar te lewer op sy gewaande jokkery nie. Tog het die koerant dit reeds reggestel by wyse van sy repliek in die daaropvolgende uitgawe.

Nogtans was die stelling dat Mouton nie kommentaar “wou” lewer op die aantyging dat hy gejok het nie, nie aanvaarbaar nie. Dit het die indruk gewek dat hy iets gehad het om weg te steek, wat ek onbillik vind.

Dit is ‘n verbreking van Art. 2.1 van die Kode wat bepaal dat die pers nuus billik moet aanbied.

Twee foutiewe stellings

Die stelling dat Oosthuizen bedank het, was onakkuraat. Dit verbreek Art. 2.1 van die Perskode, wat akkurate verslaggewing vereis.

Die klag oor die stelling dat die topbestur grootliks uit dominees bestaan, word van die hand gewys.

Die artikel

Waarheid ‘effens aangepas’

Die stelling dat daar aanduidings was dat TM die waarheid “effens aangepas” het, was sonder genoegsame grond. Dit verbreek Art. 4.2 van die Kode.

Nie om kommentaar gevra

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Selektief aangehaal, lasterlik

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

OPTREDE

Rapport word gevra om Mouton om verskoning te vra vir die:

·         skending van sy waardigheid en reputasie sonder die nodige regverdiging daarvoor deur die stelling dat hy sou gelieg het (gereflekteer in sowel die storie, in die opskrif as in die artikel);

·         stelling dat hy nie kommentaar “wou” lewer op die aantyging dat hy sou gelieg het nie; en

·         onnodige skade wat hy daardeur aangedoen is.

Die koerant word vermaan oor die onakkurate stelling dat Oosthuizen sou bedank het en word versoek om dit reg te stel.

Rapport word versoek om die volgende teks te publiseer:

Begin van teks

Rapport vra ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van die NG Kerk se Bybel-Media (BM), om verskoning vir die skending van sy waardigheid en reputasie deur ‘n ongegronde stelling te publiseer dat hy sou gelieg het oor die redes waarom dié maatskappy sou besluit het om sy borgskap van ‘n godsdiensgesprek aan die US Woordfees te onttrek.

Ons is ook jammer oor die stelling dat hy nie “wou” kommentaar lewer op daardie aantyging nie – en vir die onnodige skade wat ons hom met bogenoemde aangedoen het.

Mouton het ‘n klag by die Persombudsman ingedien oor ‘n storie en ‘n artikel wat ons 10 Maart vanjaar gepubliseer het (Kerkman liég, sê brief; en Hanlie Retief gesels met Jean Oosthuizen – God is hier by ons, hoe dan anders?)

Die storie, geskryf deur Pieter Malan, het gesê die hel was behoorlik los by BM nadat ‘n tweede senior werknemer sy base (onder andere vir Mouton) vir leuenaars en as ‘n verleentheid vir die kerk uitgekryt het. Die storie haal aan uit ‘n brief van mnr. Danny Fourie, voormalige hoof van die maatskappy se publikasie- en video-afdeling, wat hy aan Mouton gerig het.

Die artikel het gehandel oor ‘n onderhoud wat Retief met Oosthuizen gevoer het en waarin sy onder meer skryf dat daar aanduidinge was dat die kerk se Tydskriftemaatskappy (TM) “die waarheid effens aanpas”.

Die Persombudsman, Johan Retief, het gesê dat Fourie self erken het dat hy sy brief geskryf het uit woede en gebaseer het op verkeerde feite en aannames.

Hy het bevind: “Was dit…nie vir…Fourie se bekentenis nie, sou ek nie teen die koerant kon bevind het nie – omdat ek gewoon nie grond sou gehad het om die valsheid van die stellings bo redelike twyfel te bewys nie.

“In hierdie geval, egter, is dit redelik om te aanvaar dat Fourie se stellings oor Mouton nie waar of wesenlik waar was nie.” Hy het beklemtoon dat die publisering van sulke aantygings nie die beskerming van die Perskode geniet nie.

Retief het beklemtoon dat sy bevinding nié beteken dat die publisering van alle bewerings of aantygings taboe is nie. Hy het gesê: “Die betrokke saak was van openbare belang en daar is reeds oor verwante sake gerapporteer. Die vraag was daarom nie of Rapport oor Danny Fourie se briewe kon berig het nie (natuurlik kon hy), maar eerder hoe dit gedoen moes word.

Rapport se publisering van eksplisiete, ongetoetste bewerings was riskant – soos die gebeure daarna bewys het.”

Hy het bygevoeg dat hy nie ‘n ondersoek kan loods na die waarheid of valsheid van Fourie se bewerings nie – daarvoor het die kerk sy eie kanale en het sy kantoor in elk geval geen mandaat nie.

Hy het ook Hanlie Retief se stelling veroordeel dat die TM die waarheid “effens aangepas” het. “Ek vind dit jammer dat hierdie een sin die res van ‘n andersins uitstekende artikel enigsins bederf het,” het die Ombudsman gesê.

Retief het ons ook vermaan oor die onakkurate stelling dat Oosthuizen sou bedank het – hy het nie bedank nie, maar het diens verlaat ná ‘n skikkingsooreenkoms met sy werkgewer.

Die Ombudsman het die res van Mouton se klag van die hand gewys. Dit het ingesluit dat die:

·         storie en die artikel selektief uit Fourie se brief aangehaal het, wat tot laster aanleiding sou gegee het;

·         koerant hom nie voldoende geleentheid gegeee het om kommentaar op die bewerings van leuens te lewer nie (sowel die storie as die artikel) – hoewel dit waar was, het Rapport wel Mouton se menings agterna uitvoerig gepubliseer; en

·         topbestuur grootliks uit predikante sou bestaan het (dit was wesenlik waar wat betref die direksies van die drie maatskappye).

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2013) vir die volledige bevinding.

Einde van teks

APPèL

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Beoordelingspaneel, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *