Dr. Pieter Fourie vs Rapport

Bevinding deur die Persombudsman

20 Mei 2013

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van dr. Pieter Fourie, uitvoerende hoof van die NG Kerk se maatskappy Bybel-Media (BM), en Rapport.

KLAG

Dr. Pieter Fourie kla oor ‘n storie in Rapport, gepubliseer op 10 Maart 2013, getiteld Kerkman liég, sê brief.

Hy kla dat die storie:

·         ongegronde stellings gemaak het wat sy persoonlike waardigheid en professionele reputasie ernstig benadeel het; en

·         verskeie feite-foute bevat het.

Besonderhede van albei aspekte van bogenoemde word hieronder uitgespel.

ONTLEDING

Die storie, geskryf deur Pieter Malan, sê die hel was behoorlik los by die NG Kerk se uitgewers Bybel-Media (BM) nadat ‘n tweede senior werknemer sy base vir leuenaars en as ‘n verleentheid vir die kerk uitgekryt het. Die konteks hiervan word in die berig se tweede sin verwoord: “Die maatskappy is nou reeds ‘n paar weke die middelpunt van debat in kerkkringe ná sy omstrede besluit om sy borgskap van ‘n godsdiensgesprek aan die US Woordfees te onttrek.” Die storie noem twee naamlose briewe wat onderskeidelik aan Fourie en aan ds. Danie Mouton, voorsitter van BM se direksie, gestuur is. Die skrywer van dié twee briewe, so word berig, het homself later as die outeur daarvan geïdentifiseer. Hy was die hoof van die maatskappy se publikasie- en video-afdeling, mnr. Danny Fourie. Malan haal ook oor allerlei aantygings aan wat laasgenoemde teen Fourie en Mouton gemaak het.

Ongegronde stellings

Die storie haal die volgende aan uit (Danny) Fourie se brief aan (Pieter) Fourie wat moontlik as aanvegbaar beskou kan word:

·         Hy sou gelieg het oor die regte kanale nie gevolg is oor ‘n borgskap van Kerkbode van ‘n Woordfees-gesprek nie; en

·         Sy algemene bestuurstyl, onbeskofte gedrag, woede-uitbarstings, minagting van vroue en sy beterwerigheid kom onder skoot.

Malan haal ook ‘n anonieme vroue-bron aan wat sou gesê het dat dié brief se bewoording wel kras was, maar dat dit baie werknemers se gevoelens verwoord het. Volgens hierdie bron was Fourie bombasties, onbeskof en onvoorspelbaar. “Hy gee sy misnoeë gereeld te kenne deur te bulder: ‘Nee, dit sal nie so wees nie’…”

Fourie kla dat hierdie stellings nie op feite gebaseer was nie, maar dat dit ongetoeste bewerings was. Hy wys daarop dat Danny Fourie later alle beskuldigings teruggetrek het omdat hy dit in woede, met foutiewe feite en aannames, geskryf het. Laaasgenoemde sou gesê het: “My woede het veroorsaak dat ek twee mense valslik beskuldig het en disrespekvolle aantygings teenoor die…Uitvoerende Hoof gemaak het.”

Hy argumenteer ook dat in die sewe jaar wat hy uitvoerende hoof is, was daar nog nooit enige klag ingedien oor sy bestuurstyl nie en is hy ook nie bewus van enige sodanige gerug nie. Hy voeg by dat ‘n personeel-verkose verteenwoordiger op uitvoerende bestuursvlak dit bevestig het.

Daarby vra hy: “Watter ondersoek onder ‘n personeelkorps van meer as 50 mense bevestig die stellings van ‘n sg anonieme vrouewerknemer in die berig?”

Fourie wys ook daarop dat die brief nie die woorde “algemene bestuurstyl” bevat het nie.

Rapport sê dat die konteks van die openbare debat, die beskuldigings wat vooraf teen die bestuur van Kerkbode gepubliseer is, die omstandighede rondom die koerant se ontvangs van die brief, sy kennis van die identiteit van die skrywer van die eens anonieme brief, sy posisie in die organisasie, en ander omstandighede bygedra het tot sy besluit om oor die Fourie-brief te berig.

Die koerant sê dat Fourie wel eksplisiet na die tweede en derde stelling, soos hierbo aangehaal, verwys het – maar wys daarop dat hy nie oor die eerste een gekla het nie (naamlik die aantyging dat hy sou gelieg het). Die publikasie lei hieruit af dat hy homself daarom nie op hierdie punt hoef te verdedig nie.

Rapport voeg by dat:

·         Danny Fourie se verskoning nie vir die boordeling van sy berig gebruik kan word nie omdat dié verskoning eers ná die publisering van die storie geskied het;

·         hy op 6 April wel oor die verskoning berig het;

·         die storie die aantygings teen Pieter Fourie as bewerings, en nie as feite nie, gestel het;

·         die bewerings teen hom deur ‘n gesaghebende persoon gemaak is;

·         die wese van die bewerings deur ‘n ander bron bevestig is; en

·         hoewel die woorde “algemene bestuurstyl” nie in Danny Fourie se brief voorkom nie, daardie skrywe wel ‘n verwysing na sy “optrede as bestuurshoof” bevat het – wat in wese neerkom op “bestuurstyl”.

Eerstens, oor die kwessie dat Fourie nie spesifiek die aantyging teen hom van ‘n leuen in sy klag genoem het nie:

Dit blyk dat daar slegs twee aanhalings in die storie uit Danny Fourie se brief vir die klaer aanstootlik kon wees – wat die leuen-aantyging insluit. Hoewel dit waar is dat Fourie nie spesifiek hierdie saak in sy klag aanhaal nie, let ek tog op dat hy in die meervoud skryf wanneer hy verwys na bewerings van ‘n personeellid (enkelvoud). Terwyl laasgenoemde slegs na Danny Fourie se brief kon verwys het, is die gebruik van die meervoud (bewerings) ‘n aanduiding daarvan dat Fourie die aantyging dat hy aandadig sou wees aan ‘n leuen by sy klag ingesluit het.

Hoewel ek simpatie het met Rapport se interpretasie hiervan, meen ek tog dat ‘n behoorlike ontleding van sowel die storie as die klag tot net een gevolgtrekking kon lei – Fourie het wél hierdie spesifieke saak wel by sy klag ingesluit (al het hy ook nagelaat om dit spesifiek te noem).

Ek hanteer dit daarom as sodanig.

Ek dink nie dat daar enige twyfel kan bestaan oor die vraag of die storie Fourie se waardigheid en reputasie aangetas het nie (veral gegee sy posisies in die kerk). Die kern van die saak, uit ‘n media etiese oogpunt gesien, is of Rapport wel geregverdig was om dit te doen.

Hier verwys ek na die Art. 4.2 van die Perskode (wat ek in Engels aanhaal omdat daar nie ‘n Afrikaanse vertaling daarvan beskikbaar is nie). Ek laat Art. 4.2.2 en 4.3.3 uit omdat die nie relevant is tot Fourie se klag nie:

“4.2 The press shall exercise care and consideration in matters involving dignity and reputation.

“The dignity and reputation of an individual should be overridden only in the following circumstances:

4.2.1 The facts reported are true or substantially true;

4.2.4 It was reasonable for the article to be published because it was prepared in accordance with acceptable principles of journalistic conduct and in the public interest.”

Met betrekking tot Fourie se klag laat die Perskode dit dus toe dat sy waardigheid en reputasie aangetas mag word, mits die stellings:

·         waar of wesenlik waar is;

·         voldoen aan aanvaarbare joernalistieke beginsels en praktyke; en

·         in die openbare belang is.

Ek het min twyfel dat, indien die bewerings waar is, dit wel in die openbare belang sou wees om dit bekend te maak – gegee Fourie se prominente kerklike (en daarom ook openbare) amp.

Die omgekeerde geld natuurlik ook – indien die stellings onwaar was, sou dit nie in die openbare belang wees om dit te publiseer nie.

Die volgende etiese kwessies/beginsels is hier ter sprake:

·         Die vraag is nie of dit waar of wesenlik waar was dat Danny Fourie die stellings gemaak het nie – die spilpunt waarom dit draai, is die vraag of die inhoud van wat hy gesê het, waar of wesenlik waar is. Vir hierdie beginsel is daar talle presedente. Neem byvoorbeeld ‘n briewekolom – ‘n koerant kan nie enigiets plaas net omdat ‘n leser dit geskryf het nie;

·         ‘n Ander beginsel, wat bogenoemde komplementeer, is dat die herhaling van laster (lees vanuit ‘n media etiese oogpunt: die aantasting van iemand se waardigheid en reputasie) ook laster is. Wanneer ‘n koerant daarom ‘n lasterlike bewering publiseer wat vals is, moet dié publikasie daarvoor verantwoordelikheid neem;

·         Hierdie kantoor het al dikwels in ag geneem wat ná die publisering van ‘n storie gebeur het – wanneer daaropvolgende gebeure die waarheid van ‘n storie bevestig, kan die Ombudsman noodwendigerwys nie bevind dat die storie onwaar was nie; en

·         Die omgekeerde van bogenoemde is ewe geldig – wanneer gebeure ná die publisering van ‘n storie aandui dat die bewerings in daardie berig vals was, kan ek tog nie bevind dat die aanvanklike stellings waar of wesenlik waar was nie.

Ek verwys in hierdie verband na ‘n uitspraak van hierdie kantoor op 18 Junie 2012 in die saak van KZN Premier Zweli Mkhize teen die Sunday Tribune (hierdie uitspraak is met die goedkeuring van die destydse Persombudsman, Joe Tholoe, gemaak).

“…this section of the Code (met verwysing na Art. 4, soos hierbo aangehaal) is not a licence to publish allegations and rumours after you’ve put them to the accused people. The basic spirit of the code is to be truthful, accurate and fair. If newspapers and magazines were allowed to publish any allegations after they had obtained a denial from their subjects they would do huge harm in our society. Allegations are put to subjects if there is some substance to them.”

Die saak waarmee ek tans handel, is wesenlik dieselfde as bogenoemde een.

Let ook daarop dat ek nie ‘n ondersoek kan loods na die waarheid of valsheid van Danny Fourie se bewerings nie – daarvoor het die kerk sy eie kanale en het hierdie kantoor in elk geval geen mandaat nie.

So, daarom weer eens die vraag: Was Rapport geregverdig om Fourie se openbare beeld skade te berokken? Anders gestel: Was daar ‘n feitebasis waarop die koerant Danny Fourie se bewerings gepubliseer het?

Was dit nie vir Danny Fourie se bekentenis nie (dat hy vir Pieter Fourie sedertdien om verskoning gevra, en erken dat hy die brief uit woede en gebaseer op verkeerde feite en aannames geskryf het), sou ek nie teen die koerant kon bevind het nie – omdat ek gewoon nie grond sou gehad het om die valsheid van die stellings bo redelike twyfel te bewys nie.

In hierdie geval, egter, is dit redelik om te aanvaar dat Fourie se stellings oor die klaer nie waar of wesenlik waar was nie – die feit is en bly dat hy om verskoning gevra het omdat hy sy aantygings nie op feite gegrond het nie.

Soos die aantygings teen hom in die storie, is die kop daarvan daarom ook sonder die nodige grond of regverdiging.

Dit laat my met dié gevolgtrekkings:

·         Rapport het Fourie se waardigheid en reputasie sonder die nodige regverdiging geskend;

·         Die publisering van die aansprake was daarom nie in die openbare belang nie; en

·         Dit het Fourie groot en onnodige skade berokken.

 

Let asseblief op die volgende, wat kernbelangrik is:

·         Bogenoemde redenasie beteken nié dat die publisering van alle bewerings of aantygings taboe is nie – natuurlik is dit nie;

·         Die betrokke saak was van openbare belang en daar is reeds oor verwante sake gerapporteer. Die vraag was daarom nie of Rapport oor Danny Fourie se briewe kon berig het nie (natuurlik kon hy), maar eerder hoe dit gedoen moes word.

Rapport se publisering van eksplisiete, ongetoetste bewerings was egter riskant – soos die gebeure daarna bewys het.

Die koerant se verweer dat die bewerings teen hom deur ‘n gesaghebende persoon gemaak is en dat die wese daarvan deur ‘n ander bron bevestig is, is nie relevant nie – enige persoon kan ‘n ongetoetste en potensieel skadelik aantyging maak, of daardie persoon nou “gesaghebbend” is of nie. Die “bevestiging” daarvan deur ‘n anonieme bron het ook min joernalistieke waarde.

Die koerant se argument oor die gebruik van die frase “algemene bestuurstyl” is oortuigend.

Foutiewe stellings

Fourie kla dat die volgende stellings in die storie onakkuraat is, naamlik dat:

·         mnr. Jean Oosthuizen, voormalige nuusredakteur van Kerkbode, bedank het – hy sê dat Oosthuizen nie bedank het nie, maar dat hy ‘n skikking met sy werkgewer bereik het, waarna hy diens verlaat het;

·         BM Kerkbode en die tydskrif Lig uitgee – dit is eerder Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk wat dié publikasies uitgee;

·         die maatskappy afhanklik van skenkings en erflatings sou wees – slegs één van die drie maatskappye in die groep is (deels) van skenkings en erflatings afhanklik; en

·         die topbestuur grootliks uit dominees sou bestaan – Fourie sê dat die bedryfsbestuur van die BM-groep van drie maatskappye uit agt persone bestaan, van wie slegs twee predikante is (‘n derde het wel teologiese opleiding); die direksies van die drie maatskappye bestaan uit ses persone, van wie drie dominees van die NG Kerk was.

Hy kla ook oor die stelling dat twee naamlose briewe ‘n aanduiding sou gegee het van “hoe sleg dinge by die maatskappy se kantoor in Wellington gaan”; en onmiddellik voor dit: “Die maatskappy is afhanklik van skenkings en erflatings – veral van NG lidmate – om te oorleef”.

Fourie argumenteer dat dit verkeerdelik die indruk gewek het dat dit sleg gaan met BM se geldelike bestuur (terwyl ‘n geoktrooieerde rekenmeestersmaatskappy na die finansiële bestuur van die maatskappy-groep verwys het “as werklikwaar ‘n model om voor te hou aan soortgelyke ondernemings”).

Rapport sê in sy reaksie (aangebied in dieselfde volgorde as hierbo) dat:

·         daar geen wanbegrip by lesers kon wees oor wat met Oosthuizen gebeur het nie – hy is sy pos kwyt omdat hy “stilgemaak” is;

·         hy wel aanvaar dat die storie oor die uitgewer tegnies verkeerd is – BM is egter wel die bestuursmaatskappy en daarom kan daar nie veel verwarring wees oor die tegniese beskrywing nie;

·         luidens die groep se jaarverslag maak BM wel op skenkings staat; en

·         die stelling dat die topbestuur grootliks uit dominees bestaan “wesenlik waar” is.

Die koerant voeg by dat Fourie ‘n betekenis aan woorde probeer gee wat nie deur die teks uitgedra word nie – die stelling van hoe sleg dinge gaan, verwys na die bewerings in die briewe “wat niks met die finansies te doen het nie”.

Oor die eerste drie sake: Dit is jammer dat die koerant so laissez-faire met feite omgaan. ‘n Publikasie se eerste plig is om al die feite reg te kry. Dis wel waar dat sommige feite-foute ernstiger as ander is, maar ek sou verwag het dat Rapport net bloot moes erken het dat bogenaamde stellings nie akkuraat was nie – en vanself aangebied het om dit reg te stel.

Oor die “hoe sleg dinge by die maatskappy se kantoor in Wellington gaan” het Fourie nie ‘n voet om op te staan nie. Hoewel die voorafgaande sin wel na finansies verwys, is die breëre konteks tog dié van personeelprobleme. Ek is daarom geneig om eerder die “hoe sleg dinge gaan” met gewaande personeelprobleme te verbind as met finansies.

Ek dink egter die stelling in die storie dat BM afhanklik was van skenkings en erflatings enigsins onnodig was – maar op sigself kan dit nie die Perskode verbreek nie.

Wat betref die verwysing na ‘n meerderheid van predikante in topbestuur, sê die storie nie spesifiek na watter liggaam hy verwys nie – dit kon die bedryfsbestuur van BM, of die direksies van die drie maatskappye gewees het. Laasgenoemde bestaan wel uit 50% predikante, met die dominee-voorsitter wat waarskynlik ‘n beslissende stem het.

Ek gee dus die voordeel van die twyfel hier aan die koerant omdat die stelling wesenlik waar was.

BEVINDING

Ongegronde stellings

Rapport het met sy storie wat Fourie by ‘n leuen betrek (waarby die opskrif ingesluit is), asook die negatiewe stellings/aantygings oor sy bestuurstyl sy waardigheid en reputasie sonder die nodige regverdiging geskend. Die publisering daarvan was daarom nie in die openbare belang nie, en het hom groot en onnodige skade berokken. Dit verbreek Art. 4.2.1 en 4.2.4 van die Perskode (soos hierbo aangehaal).

Foutiewe stellings

Die volgende stellings was nie akkuraat nie, naamlik dat

·         Oosthuizen bedank het;

·         BM Kerkbode en die tydskrif Lig uitgee; en

·         die maatskappye afhanklik van skenkings en erflatings sou wees.

Dit verbreek Art. 2.1 van die Perskode, wat akkurate verslaggewing vereis.

Die klag oor die stelling dat die topbestuur grootliks uit dominees sou bestaan, word van die hand gewys.

OPTREDE

Rapport word gevra om Fourie om verskoning te vra vir die:

·         skending van sy waardigheid en reputasie sonder die nodige regverdiging daarvoor deur die stelling dat hy sou gelieg het in sowel die storie (en sy opskrif) as in die artikel en deur die publisering van allerlei negatiewe aantygings teen sy bestuurstyl; en

·         onnodige skade wat hy daardeur aangedoen is.

Die koerant word vermaan oor die onakkurate stellings, naamlik dat Oosthuizen sou bedank het, dat BM Kerkbode en die tydskrif Lig sou uitgee, en dat die maatskappye afhanklik van skenkings en erflatings sou wees – en word versoek om dit reg te stel.

Rapport word gevra om die volgende teks te publiseer:

Begin van teks

Rapport vra dr. Pieter Fourie, uitvoerende hoof van die NG Kerk se maatskappy Bybel-Media (BM), om verskoning vir die skending van sy waardigheid en reputasie deur ‘n ongegronde stelling te publiseer dat hy sou gelieg het oor die redes waarom dié maatskappy sou besluit het om sy borgskap van ‘n godsdiensgesprek aan die US Woordfees te onttrek.

Ons is ook jammer oor die ongetoetste stelling dat hy ‘n negatiewe bestuurstyl sou hê – en vir die onnodige skade wat ons hom daardeur aangedoen het.

Fourie het ‘n klag by die Persombudsman ingedien oor ‘n storie wat ons 10 Maart vanjaar gepubliseer het, getiteld Kerkman liég, sê brief.

Die storie, geskryf deur Pieter Malan, het gesê die hel was behoorlik los by BM nadat ‘n tweede senior werknemer sy base (onder andere vir Fourie) vir leuenaars en as ‘n verleentheid vir die kerk uitgekryt het. Die storie haal aan uit ‘n brief van mnr. Danny Fourie, voormalige hoof van die maatskappy se publikasie- en video-afdeling, wat hy aan Fourie gerig het.

Die Persombudsman, Johan Retief, het gesê dat Danny Fourie self erken het dat hy sy brief geskryf het uit woede en gebaseer het op verkeerde feite en aannames.

Hy het bevind: “Was dit…nie vir…Fourie se bekentenis nie, sou ek nie teen die koerant kon bevind het nie – omdat ek gewoon nie grond sou gehad het om die valsheid van die stellings bo redelike twyfel te bewys nie.

“In hierdie geval, egter, is dit redelik om te aanvaar dat Fourie se stellings oor die klaer nie waar of wesenlik waar was nie.” Hy het gesê dat die publisering van sulke aantygings nie die beskerming van die Perskode geniet nie.

Retief het beklemtoon dat sy bevinding nié beteken dat die publisering van alle bewerings of aantygings taboe is nie. Hy het gesê: “Die betrokke saak was van openbare belang en daar is reeds oor verwante sake gerapporteer. Die vraag was daarom nie of Rapport oor Danny Fourie se briewe kon berig het nie (natuurlik kon hy), maar eerder hoe dit gedoen moes word.

Rapport se publisering van eksplisiete, ongetoetste bewerings was riskant – soos die gebeure daarna bewys het.”

Hy het bygevoeg dat hy nie ‘n ondersoek kan loods na die waarheid of valsheid van Fourie se bewerings nie – daarvoor het die kerk sy eie kanale en het sy kantoor in elk geval geen mandaat nie.

Die Ombudsman het ons ook vermaan oor die onakkurate stelling dat Oosthuizen sou bedank het (hy het nie bedank nie, maar het wel diens verlaat ná ‘n skikkingsooreenkoms met sy werkgewer), dat BM Kerkbode en die tydskrif Lig sou uitgee, en dat die maatskappye afhanklik van skenkings en erflatings sou wees.

Hy het die klag oor die stelling dat topbestuur grootliks uit predikante sou bestaan het, van die hand gewys (dit was wesenlik waar wat betref die direksies van die drie maatskappye).

Besoek www.presscouncil.org.za (rulings, 2013) vir die volledige bevinding.
Einde van teks

APPèL

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing appèl by die Voorsitter van die SA Beoordelingspaneel, regter Bernard Ngoepe, kan aanteken. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *