Dan Roodt vs Beeld/Die Burger

Complainant: Dan Roodt
Article: Skrywers klaar met Dan Roodt
Date: 9 March 2012
Respondent: Beeld/Die Burger
KLAG

Dr. Dan Roodt, ‘n skrywer en leier van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag), kla oor ‘n storie in Beeld wat op 6 Desember 2011 onder die opskrif Skrywers klaar met Dan Roodt gepubliseer is. Hy kla ook oor ‘n verkorte weergawe van dié storie wat in Die Burger onder die opskrif Roodt gekap oor PEN verskyn het.

Roodt kla dat die storie(s):
  • hom nêrens aanhaal nie, hoewel daar “ernstige aantygings” teen hom gemaak word;
  • se (kommentariële) verwysings na hom as “regs” en “omstrede” hom in ‘n swak lig stel; en
  • stellings aan hom toedig wat hy nooit gemaak het nie.

Ek het Roodt om meer duidelikheid gevra oor presies watter feite hy betwis en ook wat hy nooit sou gesê het nie. Sy opheldering word in die ontleding hieronder verreken.

ONTLEDING

Beeld se storie, geskryf deur Elmari Rautenbach (Media24 se boekeredaktrise), sê dat Roodt weer midde-in ‘n relletjie is – dié keer oor sy “toe-eiening” van ‘n skrywersorganisasie (die Pretoria-PEN), “wat skrywers sê hy die afgelope vyf jaar so verwaarloos het dat hy geen reg meer daartoe het nie”.

Rautenbach skryf dat dié groep skrywers hulle daarvoor beywer om ‘n “behoorlike Afrikaanse PEN-organisasie” te vestig deur Pretoria-PEN “op ‘n verantwoordelike en deursigtige manier te herkonstitueer”. Sy haal die skrywer John Miles aan wat sou gesê het dat Roodt se affiliasie met Praag, wat deesdae onomwonde verklaar dat hy hom vir on-swart Afrikaanse belange beywer, ‘n verleentheid kan veroorsaak op die internasionale verhoog.

Die storie sê dat Pretoria-PEN as sentrum vir alle Afrikaanse skrywers dien en dat dié naam deur die sekretariaat van PEN Internationaal voorgestel is.

Rautenbach voeg by dat, hoewel Pretoria-PEN in 2006 met Roodt as voorsitter internasionaal erken is, daar nog teen die vorige maand geen jaar- of bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar is nie – daarom is ‘n proses na berig word aan die gang gesit deur Miles, Fanie Olivier en Pieter Haasbroek, vorige tesourier van Pretoria-PEN, om nuwe lede te werf sowat dié organisasie herkonstitueer kan word.

Rautenbach skryf egter ook dat Roodt wel twee weke vantevore “sy eie vergadering” gehou het met vyf lede, onder wie sy vrou. Dié vergadering het na berig word ‘n grondwet aanvaar wat bepaal dat vyf lede voldoende is vir ‘n kworum vir ‘n jaarvergadering. Roodt het hom daar luidens die storie die “nuut herverkose president van Pretoria-PEN” genoem.

Die storie meld ook dat ‘n groep skrywers besig is om lede te werf vir ‘n nuwe skrywersorganisasie, die Skrywersunie. Miles word aangehaal dat die internasionale PEN in 2012 sal besluit watter een van die organisasies om te erken.

Die storie in Die Burger is ‘n verkorte weergawe van bogenoemde.

Ek kyk nou na die meriete van die klag; ek sal telkens aandui op watter een van die koerante, of albei, elke aspek van die klag betrekking het:

Nêrens aangehaal nie, ondanks ‘ernstige aantygings’

Roodt kla dat hoewel hy en Pretoria-PEN die onderwerp van die storie is en “ernstige aantygings” teen hom gemaak word, hy nêrens aangehaal word nie. Hy voeg by dat Rautenbach vyandige menings oor hom ingewin het sonder om die feite te kontroleer.

By navraag verduidelik Roodt wat hy onder bogenoemde bedoel het. Ek hanteer eers die klag dat hy nêrens aangehaal word nie, waarna ek sal kyk na elkeen van sy (verdere) opmerkings.

Nêrens aangehaal nie (Beeld)

Roodt kla dat, hoewel hy en Pretoria-PEN die onderwerp van die storie is, hy nogtans nêrens aangehaal word nie. (Die storie in Die Burger bevat wel kommentaar van Roodt – al is dit net een sin).

Rautenbach verduidelik dat Beeld ‘n heelwat vroeër spertyd as Die Burger het en dat sy Roodt se kommentaar te laat vir publikasie ontvang het. Sy voeg by dat ‘n opvolgberig waarin Roodt sy kant “onomwonde” stel, die volgende dag in Beeld, en ‘n dag later in Die Burger en in Volksblad, gepubliseer is. Sy sê: “Ek het die saak ook so aan hom gestel toe ek sy e-pos met kommentaar ontvang het.”

Roodt sê die feit dat sy kommentaar die volgende dag gepubliseer is, maak geensins die vorige dag se “uiters eensydige berig” ongedaan nie.

Ek was bekommerd daaroor dat Roodt nie genoeg tyd gegun is om die saktyd vir die artikel te haal nie. Rautenbach het by navraag verduidelik dat sy op ‘n Sondag van die storie gehoor, en hom die volgende oggend om kommentaar gevra het. Sy sê dat albei koerante die storie op die Dinsdag wou publiseer.  Haar saktyd vir Beeld was om 12:00 daardie Maandag (omdat dit op die kunsblad sou verskyn), terwyl sy Roodt se reaksie eers om 16:40 daardie dag gekry het (betyds vir Die Burger se storie).

Rautenbach se korrespondensie met Roodt, waarvan ek ‘n afskrif het, sê nie hoe laat sy haar epos aan hom gestuur het nie.

Ek verstaan die druk waaronder die joernalis was om haar storie betyds vir 12:00 gereed te hê. Die vraag is egter hoe billik dit was vir die koerant om daarop aan te dring dat die storie in die volgende dag se koerant moes wees, met kommentaar en al van Roodt.

Hier is my oorwegings:
  • Hoewel Rautenbach agterna vir Roodt gesê het dat sy sy kommentaar te laat ontvang het vir Beeld se uitgawe, let ek op dat sy hom nie vooraf oor haar saktyd ingelig het nie; en
  • Roodt het haar navraag daardie selfde dag ernstig geneem en ‘n reaksie van meer as 500 woorde aan haar gestuur (wat ‘n tydjie moes duur om te skryf).

Met al bogenoemde in ag genome, dink ek dat Roodt onbillik behandel is omdat hy nie genoeg tyd gehad het om te reageer vir die betrokke berig nie (en nie eens geweet het van die vroeë saktyd nie).

Boonop: Die Perskode bepaal dat, wanneer kommentaar nie (betyds) verkry kon word nie, dit in die storie gesê moet word – wat nie gebeur het nie. In hierdie geval kon die koerant vir Roodt onnodige skade berokken het, aangesien nie almal wat die eerste berig lees, ook die tweede onder oë sou hê nie.

Die feit dat Rautenbach ‘n opvolgberig in elke koerant gepubliseer het waarin Roodt se kommentaar verskyn het, is egter prysenswaardig.

            ‘Toe-eien’ (Beeld en Die Burger)

Die storie sê dat Roodt midde-in ‘n relletjie is oor sy “toe-eiening” van die skrywersorganisasie Pretoria-PEN. Die volledige sin lui soos volg: “Die omstrede sakeman en regse kampvegter vir Afrikaans Dan Roodt is weer midde-in ‘n relletjie – dié keer oor sy toe-eiening van ‘n skrywersorganisasie, wat skrywers sê hy die afgelope vyf jaar so verwaarloos het dat hy geen reg meer daartoe het nie.”

Roodt kla dat die gebruik van die woord “toe-eiening” dit laat klink asof hy Pretoria-PEN vir homself oorgeneem het, terwyl hy dié organisasie gestig en dit dus deur sy inisiatief tot stand gekom het.

Rutenbach sê dat die oorspronklike organisasie nie deur Roodt alleen gestig is nie – sy sê daar was ‘n bestuur wat volgens hulle nie geken was in die onlangse algemene vergadering nie en ook nie verteenwoordig was toe ‘n nuwe bestuur verkies en Roodt as president herverkies is nie.

In sy reaksie op Rautenbach sê Roodt dat:
  • hoewel Pretoria-PEN inderdaad nie alleen deur hom gestig is nie, dit wel “geheel en al” op sy inisiatief gebeur het – hy beskuldig die joernalis van kwaadwilligheid en vooroordeel in dié verband; en
  • die bestuur (met verwysing na Miles, Olivier en Haasbroek) wel oor die betrokke vergadering ingelig is en voeg by dat hulle ‘n keuse gehad het om dit by te woon of om ‘n volmag aan ‘n lid van hul keuse toe te staan.

Dit is myns insiens nie regtig relevant wie Pretoria-PEN gestig het en wie se inisiatief dit was nie – die feit bly staan dat die storie sê dat Roodt die organisasie vir hom sou toe-eien. Laat ek my oog daarom op die bal hou.

Oor die afwesigheid van sommige bestuurslede: Ek neem reeds hier in ag wat later onder die hofie “Eie vergadering” oor ‘n kworum ter sprake kom – wat die gebruik van die woord “toe-eien” nogal bedenklik maak. Hoe eien ‘n mens vir jouself iets toe wanneer daar ‘n wettige kworum van meer as die helfte van die lede van ‘n organisasie is? (Meer hieroor later.)

Ek let op dat die stelling oor die gewaande “relletjie” oor die “toe-eien” nie aan die skrywers of aan enige ander bron toegedig en ook dat die stelling nie gekwalifiseer is nie (deur byvoorbeeld na ‘n beweerde toekenning te verwys) – Rautenbach stel dit naamlik as ‘n feit dat Roodt hom die skrywersorganisasie sou toe-eien.

Dit bring my by verifikasie van “feite”. Laat ek egter eers ‘n algemene opmerking daaroor maak, aangesien hierdie saak telkens verder in dié uitspraak voorkom:

Art 1.4 van die Perskode sê naamlik dat inligting geverifieer moet word (indien moontlik) en dat, as dit nie kon gebeur nie, dit in die storie aangetoon moet word.

Nou: Hierdie artikel moet, soos elke ander een, in konteks gelees word. Wanneer ‘n joernalis byvoorbeeld vir ‘n predikant vra hoe laat sy diens op ‘n Sondagoggend begin, kan ek nie van daardie verslaggewer verwag om dié inligting te verifieer nie. Dié (een) bron is goed genoeg vir my. Hoe meer omstrede inligting egter is, en hoe meer dit mense kan benadeel, hoe groter is die noodsaak om dié inligting te bevestig. Kennelik.

Dié subtiele (en nodige) onderskeid sal meer as een keer in hierdie uitspraak relevant wees.

Die onderhawige stelling, naamlik dat Roodt Pretoria-PEN vir homself sou toe-eien, is naamlik nogal ‘n ernstige saak – een wat hom moontlik onnodige skade kan berokken. Rautenbach moes daarom die inligting geverifieer het, of bygevoeg het dat dit nie geverifieer kon word nie, soos die Perskode in albei gevalle bepaal.

Die ander moontlikheid is dat dié “feit” eerder op ‘n mening, bewering, gerug of aanname gebaseer is. In daardie geval, egter, bepaal Art. 1.3 van die Perskode dat Rautenbach dit as sodanig moes aangebied het – wat sy ook nie gedoen het nie.

Verantwoordelik, deursigtig konstitueer (Beeld en Die Burger)

Die storie sê dat ‘n groep skrywers hulle daarvoor beywer om Pretoria-PEN “op ‘n verantwoordelike en deursigtige manier te herkonstitueer”.

Roodt kla dat Pretoria-PEN reeds “verantwoordelik en deursigtig” gekonstitueer was en voeg by dat sy kommentaar nie oor dié stelling gevra is nie.

Rautenbach sê dat sy dit reeds in die eerste paragraaf van haar storie duidelik maak dat sy vir dié storie met ‘n groep skrywers gepraat het – en dat dit húlle is wat gesê het hulle wil die organisasie verantwoordelik en deursigtig herkonstitueer.

Die verslaggewer is korrek – sy het bloot gerapporteer wat haar bronne haar vertel het, en sy bied dit as sodanig aan. Ek let ook op dat die storie nie sê dat die skrywers Pretoria-PEN behoorlik wil konstitueer nie, soos Roodt kla, maar dat hulle die reeds gekonstitueerde organisasie slegs wil herkonstitueer.

Geen verifikasie (Beeld en Die Burger)

Roodt kla dat Rautenbach Miles se stelling dat die internasionale PEN nie twee Afrikaanse sentrums sal erken nie (maar tussen die twee sal moet kies), met PEN Internasionaal moes gekontroleer het.

Die joernalis sê dat sy Miles direk aangehaal het, met die implikasie dat verifikasie nie nodig was nie.

Roodt antwoord: “Miles is geen ampsdraer van PEN Internasionaal nie. Hoe op aarde kan hy namens dié organisasie praat?”

Die stelling in dispuut is ‘n direkte aanhaling wat die mening van ‘n bron verteenwoordig. Dis die punt: ‘n Joernalis is normaalweg onder geen verpligting om ‘n bron se mening te verifieer nie (hoewel dit natuurlik nie ‘n algemene reël is nie). Ek meen dat Miles se stelling in hierdie geval nie so ‘n uitsondering regverdig nie omdat dit nie so ernstig van aard is nie.

Streek-sentrum (Beeld)

Die storie sê dat Pretoria-PEN “as sentrum vir alle Afrikaanse skrywers oral” dien.

Roodt kla dat hierdie stelling uit die lug gegryp is – hy sê Pretoria-PEN is ‘n streek- en nie ‘n taalsentrum nie (hoewel Afrikaans die voertaal van dié organisasie is).

Rautenbach gee toe dat haar inligting verkeerd kon wees. Sy sê egter dat, as Pretoria-PEN as ‘n streeksentrum aanvaar is, Miles se inligting aan haar foutief was – “wat vreemd is aangesien hy toe ook lid was van PEN”.

Ek let op dat Pretoria-PEN op sy webwerf (www.pretoriapen.co.za), onder die hofie “Doelstellings”, onder meer sê dat hy “geografies gefokus” is op Pretoria en sy omliggende gebied, waaronder die provinsie Gauteng.

Ek aanvaar dus dat Pretoria-PEN redelikerwys as ‘n streek-sentrum beskryf kan word en dat die beskrywing van dié organisasie as “sentrum vir alle Afrikaanse skrywers oral” onakkuraat is.

Hoewel ek glo dat Rautenbach die stelling in dispuut op inligting van Miles gebaseer het, moes sy steeds haar bron in die storie erken en dit nie as ‘n feit aangebied het nie.

In hierdie geval, meen ek, sal hierdie verslaggewing waarskynlik nie tot Roodt se persoonlike nadeel lei nie. Dit blyk egter steeds onakkuraat te wees en moet daarom reggestel word.

 
Vergaderings, grondwet (Beeld en Die Burger)

Rautenbach skryf: “Maar hoewel Pretoria-PEN in 2006 met Roodt as voorsitter internasionaal erken is, is teen verlede maand nog geen jaar- of bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar nie.”

Roodt kla dat hierdie stellings vals is – hy sê daar was wel bestuursvergaderings en ‘n jaarvergadering, wat weens ‘n gebrek aan ‘n kworum “afgestel” moes word; daar was ook “nog altyd” ‘n grondwet, hoewel PEN Internasionaal beswaar teen sekere aspekte daarvan gehad het. Hy voeg by dat “verkeerde feite” weer eens nie met hom gekontroleer is nie.

Rautenbach sê dat sy haar inligting by Miles, “ook herhaal deur Fanie Olivier”, gekry het.

Roodt antwoord dat die joernalis sogenaamde kundiges aanhaal (wat besig is om hul eie, alternatiewe organisasie te stig) terwyl hy, “die wettige voorsitter en president van Pretoria-PEN as ‘n soort swaksinnige (en ‘rassistiese’) buitestaander behandel word”. Hy voeg by dat hy nou al jare lank met PEN Internasionaal korrespondeer en dat hy daarom volkome op hoogte van alle tersaaklike kwessies is.

Hierdie spesifieke kwessies is (weer eens) ernstiger van aard omdat dit die potensiaal het om Roodt onnodige skade te berokken (omdat dit die idee van onbevoegdheid en/of laksheid oordra).

Rautenbach bied weer eens die inligting as ‘n feit aan, sonder om dit aan ‘n bron toe te dig. Hoewel ek haar woord aanvaar dat sy hierdie inligting op twee bronne gebaseer het, moes sy steeds die publiek dienooreenkomstig ingelig het – veral omdat dit inligting is wat nie in die openbare domein is nie en wat Roodt onnodige skade kon berokken.

Oor “geen grondwet” wat nog aanvaar sou gewees het nie: Hierdie “feit” is kennelik verkeerd. In sy November-maandbrief aan lede van Pretoria-PEN (soos gepubliseer onder “Argiewe” op Pretoria-PEN se webwerf) skryf Roodt naamlik dat oor die afgelope weke hard gewerk is om die hersiene grondwet te finaliseer. Dit impliseer dat daar ‘n grondwet bestaan, aangesien ‘n mens nie iets kan hersien wat nie bestaan nie. Die storie kon daarom eerder gesê het dat nog geen “hersiene” of “nuwe” grondwet aanvaar is nie. Soos dit egter geskryf staan, klink dit asof die organisasie sonder enige grondwet opereer – wat kennelik nie waar is nie.

Ek let ook op dat Roodt, in epos-korrespondensie aan Rautenbach, na Pretoria-PEN se “grondwet” verwys (hoewel dié inligting natuurlik te laat vir die berig ontvang is).

Roodt skryf boonop in dieselfde nuusbrief dat hy en die tesourier reeds vergader het om ‘n finansiële plan te bespreek – ‘n bestuursvergadering, dus. Ek kan daarom ook nie aanvaar dat daar geen sodanige vergadering gehou is nie.

Oor die jaarvergadering: Roodt kla dat die stelling vals is dat daar nie ‘n jaarvergadering gehou is nie – maar sê dan self dat dié vergadering weens ‘n gebrek aan ‘n kworum “afgestel” moes word. Dis nie duidelik hoe ‘n afgestelde vergadering kan kwalifiseer as ‘n vergadering wat wel gehou is nie.

‘Proses’ (Beeld)

Die storie lui: “Daarom is ‘n proses aan die gang gesit deur Miles, Fanie Olivier en Pieter Haasbroek, vorige tesourier van Pretoria-PEN, om nuwe lede te werf…”

Roodt kla dat die gebruik van die woord “proses” grootliks oordrewe is. Hy sê dat Miles en andere “uit die bloute” per e-pos aangekondig het dat hulle voortaan die vereniging gaan oorneem.

Rautenbach sê dat as die drie skrywers wat lede sou werf dit ‘n “proses” wou noem, dit hulle goeie reg was.

Daarop sê Roodt dat ‘n “proses” volgens die HAT ‘n “ontwikkelingsgang of verloop” beteken en argumenteer dat dit meer as ‘n blote (epos-) aankondiging impliseer.

Dis nie duidelik uit die storie self dat die gebruik van die woord “proses” van die drie skrywers afkomstig is nie. Dis egter nie nodig nie – die aktiwiteit om nuwe lede te werf is inderdaad ‘n “proses” wat “aan die gang gesit” is. Die storie sê immers nie dat daar al ver met die “proses” gevorder is nie. Elke proses het tog ‘n begin – en al sou die betrokke epos slegs ‘n begin wees, is dit klaarblyklik die begin van ander dinge.

            Eie vergadering (Beeld)

Die storie sê dat Roodt “sy eie” vergadering gehou het met vyf lede, onder wie sy vrou.

Roodt sê dat hierdie vergadering behoorlik gekonstitueer was en dat Rautenbach die feit verswyg het dat daar 15 lede was wat benewens die vyf teenwoordiges volmagte verskaf het sodat namens hulle gestem kon word. Dié 20 verteenwoordig “meer as die helfte van die (totale) ledetal”. Hy ontken ook dat dit ‘n jaarvergadering was – hy noem dit ‘n “buitengewone algemene vergadering”.

Rautenbach argumenteer dat sy bloot die verloop van sake weergegee het. Sy sê dis ‘n feit dat ‘n vergadering gehou is sonder die destydse onder-voorsitter en tesourier.

Ek neem in ag dat Roodt in sy November-maandbrief verwys na “volmagte vir die vergadering op 18 November” sodat die (te hersiene) grondwet deur ‘n meerderheid lede aanvaar kon word. Ek aanvaar daarom sy verduideliking hierbo, en daarmee saam dat daar ‘n kworum was vir die vergadering.

Die probleem is weer eens dat Rautenbach dit as ‘n feit stel dat Roodt “sy eie” vergadering gehou het – ‘n stelling wat hom in ‘n slegte lig stel, wat hom onnodige skade berokken en wat daarom geverifieer moes gewees het.

Al is dit ook ‘n feit dat die vergadering sonder die destydse onder-voorsitter en tesourier gehou is, beteken dit nog nie dat Roodt dit op “sy eie” gedoen het nie – daarvan getuig die kworum. (Sien die hofie “Toe-eien” hierbo – hoewel hierdie twee hofies op dieselfde neerkom, het ek dit apart gehanteer omdat Roodt dit so in die verduideliking van sy klag onderskei het en omdat nie albei sake in albei berigte voorkom nie.)

Doelbewuste negatiewe mening gevra (Beeld)

Roodt kla dat Rautenbach die skrywer Breyten Breytenbach se stellings (naamlik dat sy optrede as “tragiese komedie” gesien kan word en dat ‘n mens jou skaam vir wat aan PEN Internasionaal voorgehou word as aanvaarbaar) doelbewus verkry het om ‘n negatiewe mening oor hom te stel sodat sy reputasie geskend kon word. Hy bevraagteken ook die relevansie van Breytenbach se mening aangesien hy nog nooit lid was van Pretoria-PEN nie.

Die koerant sê dat Breytenbach ‘n belangrike Afrikaanse skrywer is wat bekend in die buiteland is. “Dit kwalifiseer hom as in staat om ‘n ingeligte mening te gee oor wat goed is aldan nie vir Afrikaanse skrywers se beeld in die buitelandse skrywersoog.” Rautenbach voeg by dat Breytenbach bloot sy mening gee – soos wat Roodt self gedoen het in haar opvolg-berig.

Roodt gee toe dat Breytenbach op sy mening geregtig is, maar sê dat hulle nie oor dieselfde kam geskeer word nie aangesien laasgenoemde nie ook “gekontekstualiseer” word nie (soos hy: lees “reg” en “omstrede”). Hy sê dat Rautenbach in daardie geval moes geskryf het: “Breyten Breytenbach, die omstrede lid van Okhela wat bande met die Algerynse terroris Henri Curiel gehad het, ‘n veroordeelde onder die vorige Wet op terrorisme en anti-Semiet wat hom gereeld teen Israel en die Jode uitspreek”. Hy betwyfel dit dat Breytenbach se bekendheid alleen hom geskik sou maak om kommentaar te lewer en voeg by dat dié skrywer, sover hy weet, geen tersiêre kwalifikasie het nie en sê dat sy boeke of vertalings in die buiteland boonop meestal uit druk uit is.

Hier is my oorwegings:
  • Breytenbach se tersiêre kwalifikasies of gebrek daaraan, asook sy boeke wat uit druk sou wees, is irrelevant – hy is inderdaad ‘n wêreldbekende skrywer wie se mening wel in die openbare belang is (al was hy nog nooit lid van Pretoria-PEN nie);
  • Rautenbach kan nie verkwalik word vir wat Breytenbach sê nie;
  • Dit was nie nodig om Breytenbach te “kontekstualiseer” nie aangesien hy nie deel was van die sentrum van die storie nie; en
  • Ek het hoegenaamd geen rede om te glo dat Rautenbach, ‘n gerespekteerde joernalis, doelbewus probeer het om ‘n negatiewe mening oor Roodt te kry nie – as sy hom in ‘n slegte lig wou stel, sou sy na alle waarskynlikheid nie die volgende dag sy kant van die saak gestel het nie.

Verteenwoordigend van skrywers wat Afrikaans gebruik (Beeld)

Die storie haal Breytenbach aan wat sou verwys het na wat aan PEN Internasionaal as “verteenwoordigend” van skrywers wat Afrikaans gebruik, voorgehou sou word.

Roodt sê dat daar nêrens enige vereiste in Pretoria-PEN se grondwet is dat sy lede “verteenwoordigend van skrywers wat Afrikaans gebruik” behoort te wees nie (ook nie in die grondwet van Pen Internasionaal nie) en voeg by dat die joernalis weer eens geen verdere inligting oor dié saak probeer inwin het nie.

Rautenbach het egter hier bloot vir Breytenbach aangehaal – sy kan nie verkwalik word vir dié skrywer se mening nie.

‘n Besluit vroeg aanstaande jaar (Beeld)

Die storie haal vir Miles aan wat sou gesê het dat PEN Internasionaal vroeg aanstaande jaar (2012) van die Skrywersunie sal hoor “en sal daarna besluit wie om te erken”.

Roodt ontken dat daar enige sprake van so ‘n besluit is. Hy voer aan dat hy, as “die enigste erkende president van Pretoria-PEN”, die eerste persoon sou gewees het wat deur PEN Internasionaal daaroor ingelig sou word. Hy sê dat Rautenbach “op die minste” dié bewering met PEN Internasionaal moes gekontroleer het.

Die koerant sê dat Miles deel is van ‘n groep skrywers wat hulle beywer om ‘n nuwe Afrikaanse PEN-organisasie op die been te bring. Rautenbach skryf: “In daardie hoedanigheid skakel hulle met die internasionale PEN-organisasie. Roodt weet nie watter kommunikasie Fanie Olivier, vorige ondervoorsitter van Pretoria-PEN, met die internasionale organisasie het nie.”

Wat Roodt, en Olivier, weet en wat hulle nie weet nie is in hierdie verband nie ter sake nie. Hierdie deel van die klag het nie ‘n been om op te staan nie – dis immers Miles wat volgens die berig die woorde in dispuut geuiter het. Hy het ‘n reg op sy mening, en die koerant het ‘n reg om dit te publiseer.

‘Regs’, ‘omstrede’ (Beeld en Die Burger)

Die storie verwys na Roodt as ‘n “omstrede sakeman en regse kampvegter vir Afrikaans”.

Roodt kla dat die woorde “omstrede” en “regs” bedoel is om hom in ‘n swak lig te stel. Hy voeg by dat dit die subjektiewe mening van ‘n joernalis verteenwoordig, terwyl die artikel as ‘n nuusberig, en nie as ‘n meningsartikel nie, aangebied word.

Die koerante sê dat hierdie verwysings “noodsaaklike en billike kontekstualisering” is en voeg daaraan toe dat dit billik is om so na Roodt te verwys in die lig van ‘n bevinding van die Hooggeregshof in 2011.

Hierop reageer Roodt soos volg:
  • “Komende van ‘n koerant wat jare lank die apartheidsbeleid ondersteun het, terwyl ek van die ouderdom van sestien af ‘n opponent daarvan was, is Die Burger se veldtog om my as ‘rassis’ en ‘regse’ te brandmerk ironies, om die minste te sê”;
  • “Terwyl Die Burger se redaksielede nog op hul knieë geval het voor die Nasionale Party en apartheid soos ‘n godsdiens aangehang het, het ek vrylik met swartmense in Alexandra en elders verkeer”; en
  • “Ek het my nog nooit aan enige rassistiese of verregse uitspraak oor Jode, swartes, die Duitse konsentrasiekampe of enigiets dergeliks skuldig gemaak nie”.

Roodt voeg by dat daar slegs een entiteit in die wêreld is wat hom as ‘n rassis beskou “en daarop uit is om hom te beswadder”, naamlik Die Burger. Hy verwys na verskeie koerante binne en buite Suid-Afrika wat hom gereeld die geleentheid bied om meningsartikels te publiseer en sê dat dié koerante hom nog nooit só beswadder het nie.

Hy voer ook aan dat:
  • die joernalis van Die Burger wat in die Hooggeregshof-saak teen hom getuig het oor sy beweerde vrees vir swart vlieëniers, meineed gepleeg het; en
  • Naspers oor ‘n markaandeel van 45% beskik en dat hy as ‘n klein sakeman deur dié “monopolistiese mediareus” en spesifiek deur Die Burger geviktimiseer en van die geleentheid beroof word om binne die Afrikaanse mark aan die publikasiebedryf deel te neem.

Ek boekstaaf bogenoemde volledigheidshalwe, omdat ek nie van vooroordeel beskuldig wil word nie; ek doen dit egter ook teensinnig, omdat Naspers en Die Burger nie kans gekry het om hulle daarteen te verweer nie. Let daarop dat bogenoemde uitsprake reg teen die (normale) einde van die klag-proses gemaak is, en dat ek nie vir ewig met heen-en-weer-korrespondensie kan voortgaan nie.

Dit staan Die Burger en Naspers vry om in die openbaar op hierdie aantygings te reageer, sou hulle wou – sonder enige inspraak van hierdie kantoor. Sien in hierdie verband ook ‘n verdere opmerking van Roodt wat te make het met joernaliste van Die Burger (onder die volgende hofie).

Wat my bevinding betref, verwys ek na my uitspraak op 9 Januarie 2012 in verband met ‘n soortgelyke klag van Roodt (oor die tipering van hom as ‘n rassis) teen Die Burger.

Ek haal aan uit daardie uitspraak:

“Die Burger sê dat die gewraakte verwysings geregverdigde kommentaar en in die openbare belang is. Die koerant verwys na die uitspraak van regter James Goodey op 13 Junie 2011 in ‘n lastereis wat Roodt teen Media24, Leopold Scholtz en Christo van der Rheede ingestel het omdat hy ‘n rassis genoem is.

 

“Die Burger skryf dat bogenoemde verweerders aanvaar het dat die bewering van rassisme op die oog af lasterlik was omdat regdenkende mense minder van Roodt sou dink as gevolg daarvan. Hulle het egter hoofsaaklik aangevoer dat daardie bewering waar of wesenlik waar was, en dat dit in die openbare belang was.

 

“Die koerant sê die feit dat Goodey die saak met koste van die hand gewys het, beteken dat die hof aanvaar het dat die stelling oor rassisme waar of wesenlik waar was.

 

“Hierdie argument is logies en ek aanvaar dit as sodanig – wat beteken dat Bigalke, soos Media24, geregverdig was om die verwysings in dispuut te gebruik.

 

“Ek neem ook in ag dat hierdie verwysings in ‘n meningsartikel voorkom en dat dit duidelik nie as feite voorgehou word nie.

 

“Dit bring my by wat die Perskode oor die uitspreek van menings vereis.

 

“Art. 8, wat oor dié saak handel, vereis onder meer dat sodanige menings eerlik en sonder kwaadwilligheid uitgespreek moet word, en dat alle beskikbare en relevante feite billik in ag geneem moet word.

 

“Hierdie artikel is in lyn met ‘n uitspraak van die Grondwetlike Hof in April 2011 (in die saak Robert McBride vs. The Citizen), waarin die hof onder meer gesê het dat kritiek beskerm word, selfs al is dit ekstreem, onregverdig, ongebalanseerd, oordrewe en bevooroordeeld – solank dit ‘n eerlike mening is, sonder kwaadwilligheid uitgespreek word, in die openbare belang is, en gebaseer is op ware feite.

 

“Ek het geen rede om te glo dat Bigalke haar mening oneerlik en kwaadwilliglik uitgespreek het en daardeur die Perskode oortree het nie.”

Ek meen dat:
  • dieselfde argument soos hierbo aangevoer, wesenlik van toepassing is op hierdie deel van Roodt se klag; en
  • die feit dat die onderhawige teks as ‘n storie aangebied word, anders as bogenoemde klag wat oor ‘n meningsartikel gehandel het nie, ook nie ‘n wesenlike verskil maak nie.

Kontekstualisering soos dié is boonop algemene joernalistieke gebruik.

Ek moet egter byvoeg dat dit my ook uitermate sou geïrriteer het as ek as regs getipeer word indien ek myself nie as sodanig beskou nie.

Stelling nooit gemaak nie: ‘On-swart Afrikaanse belange’ (Beeld en Die Burger)

Rautenbach haal Miles aan wat sê dat Praag onomwonde op sy webwerf verklaar dat hy hom beywer vir “on-swart Afrikaanse belange”.

Roodt ontken dat bogenoemde frase op enige Praag-webwerf verskyn en sê dat hy daardie woorde nog nooit geuiter het nie. Hy voeg by dat sowel Miles as Rautenbach hierdie uitspraak aan hom toedig. Hy sê ook: “’n Onbekende derde party mag so iets oor my of Praag gesê het, maar dit is irrelevant, aangesien dit nie van my af kom nie.”

Die koerant sê dat die beskrywing van Praag as ‘n organisasie wat hom beywer vir “on-swart Afrikaanse belange” in elke internet “hit” voorkom. Rautenbach sê: “Miles se argument is sulke algemeen beskikbare kuberinligting kan ‘n verleentheid vir Afrikaanse skrywers veroorsaak by ‘n internasionale organisasie soos PEN wat hom vir diversiteit beywer”. Sy verwys spesifiek na die webwerf www.aboutus.org, waarin die gewraakte uitdrukking voorgekom het.

Roodt sê dat hy, nadat hy bewus geword het van wat op bogenoemde webwerf geskryf staan, hy dit verander het na: “Aktueel! Aktief! Afrikaans! Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep beywer hom vir menseregte, taalregte, en beskerming van die Afrikanerminderheid in Suid-Afrika.”

In dié verband sê Roodt dat “omstandigheidsgetuienis” tot net een gevolgtrekking kan lei, naamlik dat redaksielede van Die Burger die frase in dispuut op die webwerf geplaas het sodat hulle agterna daaroor kon berig. (Sien my opmerking onder die vorige hofie oor die koerant se reg om, sonder inspraak van hierdie kantoor, op hierdie aantyging te reageer.)

Voor ek by my beoordeling kom, net eers: Ek verstaan nie Rautenbach se gebruik van die woord “diversiteit” hier nie. As dit waar sou wees dat Praag hom beywer vir “on-swart Afrikaanse belange”, is dit mos juis ‘n manier om diversiteit te bevorder (al is die uitdrukking ook hoe politiek inkorrek)?

Ek let op dat die koerant my nie na Praag se webwerf verwys het nie.

Hoe ook al, dit is duidelik dat die gewraakte stelling:

  • deur Miles gemaak word, nie deur die koerant nie; en
  • dit (volgens Miles) as ‘n feit stel dat Praag dit op sy webwerf propageer, ‘n stelling wat ek nie met ‘n besoek aan www.praag.co.za kon verifieer nie – ek kon trouens die woorde op geen manier direk met Roodt of met Praag verbind nie.

Ek aanvaar dat Rautenbach vir Miles korrek aangehaal het, al was sy inligting ook verkeerd. Sou dit egter agterna blyk dat ‘n bron verkeerd was, is die publikasie volgens Art. 1.6 van die Perskode verplig om dit reg te stel. Dis veral nodig in hierdie geval, aangesien dié stelling onnodige skade aan Roodt se openbare beeld kan aanrig.

Algemene opmerkings
Enkele sake:
  • Ek verwys telkens na die waarskynlikheid dat sommige stellings in die stories Roodt onnodige skade kon berokken het – dié verwysings is gebaseer op ‘n stelling in die Aanhef tot die Perskode wat sê dat joernaliste onnodige skade moet vermy;
  • Ek is bekommerd oor die kumulatiewe effek van dié onnodige skade wat die berigte Roodt waarskynlik berokken het; en
  • Die pers in die breë praat soms onwaarhede klakkeloos na, al is die feite ook agterna reggestel – ek hoop van harte dat dit nie in hierdie geval gaan gebeur nie.
BEVINDING

Nêrens aangehaal nie (Beeld)

Roodt is nie genoeg tyd gegun om sinvol op die koerant se navraag te reageer nie en is ook nie ingelig oor die vroeë saktyd van 12:00 nie. Dit verbreek Art. 1.1 van die Perskode wat lui: “Die pers is verplig om nuus …billik te rapporteer.”

Die versuim om te noem dat die koerant nie betyds kommentaar van Roodt kon kry nie, is ‘n verbreking van Art. 1.5 van die Perskode wat sê: “As die publikasie nie in staat is om sodanige kommentaar (van die subjek van ernstige kritiese verslaggewing) te verkry nie, sal dit in die storie vermeld word.”

‘Toe-eien’ (Beeld en Die Burger)

Die stelling, as ‘n feit aangebied, dat Roodt hom Pretoria-PEN sou “toe-eien”, is ‘n verbreking van:

  • Art. 1.3 van die Perskode wat lui: “…Wanneer ‘n berig nie gebaseer is op feite nie of gebaseer is op menings, bewerings, gerugte of aannames, moet dit as sodanig aangedui word”; of, alternatiewelik
  • Art. 1.4 van die Perskode: “…Wanneer die akkuraatheid van ‘n berig nie geverifieer kon word nie, moet dit in daardie storie vermeld word.”

Verantwoordelik, deursigtig gekonstitueer (Beeld en Die Burger)

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.
 

Geen verifikasie (Beeld en Die Burger)

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Streek-sentrum (Beeld)

Die stelling, as ‘n feit aangebied, dat Pretoria-PEN “as sentrum vir alle Afrikaanse skrywers oral” dien, is ‘n verbreking vanArt. 1.1 van die Perskode wat lui: “Die pers is verplig om nuus…akkuraat…te rapporteer.”

Vergaderings, grondwet (Beeld en Die Burger)

Die stellings, as feite aangebied, dat Pretoria-PEN teen die vorige maand nog geen bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar het nie, verbreek Art. 1.1 van die Kode wat sê: “Die pers is verplig om nuus…akkuraat en billik aan te bied.”

Die klag oor die hou van ‘n jaarvergadering word van die hand gewys.

‘Proses’ (Beeld)

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Eie vergadering (Beeld)

Die stellings, as feite aangebied, dat Roodt “sy eie” vergadering gehou het en dat dié vergadering ‘n jaarvergadering was,  verbreek Art. 1.1 van die Perskode wat lui: “Die pers is verplig om nuus…akkuraat en billik te rapporteer.”

Doelbewuste negatiewe mening gevra (Beeld)

Hiedie deel van die klag word van die hand gewys.

Verteenwoordigend van skrywers wat Afrikaans gebruik (Beeld)

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

‘n Besluit vroeg aanstaande jaar (Beeld)

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

‘Regs’, ‘omstrede’ (Beeld en Die Burger)

Hierdie deel van die klag word van die hand gewys.

Stelling nooit gemaak nie: ‘On-swart Afrikaanse belange’ (Beeld en Die Burger)

Die koerant was binne sy reg om Miles aan te haal waar hy sou gesê het dat Praag onomwonde op sy webwerf verklaar dat hy hom vir “on-swart Afrikaanse belange” beywer. Hierdie deel van die klag word daarom van die hand gewys. Dit vra egter steeds dringend om ‘n regstelling (sien “Optrede”).

OPTREDE
Die koerant(e) word versoek om Roodt om verskoning te vra omdat:
  • hy nie ‘n billike kans gegee is om betyds te reageer nie (Beeld);
  • hulle berig het dat hy hom Pretoria-PEN sou “toe-eien” (Beeld en Die Burger);
  • hulle berig het dat Pretoria-PEN teen die vorige maand nog geen bestuursvergadering gehou en geen grondwet aanvaar het nie (Beeld en Die Burger); en
  • dit berig het dat Roodt “sy eie” (jaar-) vergadering gehou het (Beeld).

Dié verskoning moet insluit dat hierdie verslaggewing moontlik onnodige skade aan Roodt se openbare beeld berokken het – met ‘n verwysing na die betrokke sin in die Aanhef tot die Perskode.

Beeld word vermaan omdat dié publikasie versuim het om te noem dat kommentaar van Roodt nie betyds verkry kon word nie.

Die koerante word ook gevra om die volgende reg te stel, naamlik die:

  • stelling dat Praag op sy webwerf verklaar dat hy hom beywer vir “on-swart Afrikaanse belange” (Beeld en Die Burger); en
  • beskrywing van Pretoria-PEN as “sentrum vir alle Afrikaanse skrywers oral” (Beeld).

Die koerante word versoek om die teks vir publikasie voor te berei en aan hierdie kantoor voor te lê voor publikasie.

Die teks moet begin met die gevraagde verskonings, vermanings en regstellings, tesame met die konteks en ‘n kort opsomming van die bevinding. Die koerante is vry om teen die einde van die teks uit te brei op die dele van die klag wat van die hand gewys is. Die teks moet afgesluit word met: “Sien www.presscouncil.org.za (rulings 2012) vir die volle bevinding.”

Ek sal dié teks aan Roodt voorlê vir kommentaar.

Die koerante word versoek om die teks op dieselfde bladsy te publiseer as waarop die berigte verskyn het. Indien daar geen appèl is nie, moet die teks voor die einde van Januarie 2012 gepubliseer word.

ADDENDUM TOT BOGENOEMDE BEVINDING (Ná NUWE DOKUMENTASIE VOORGELê IS)

Ek neem hier in ag die nuwe dokumentasie wat die koerante aan my beskikbaar gestel het, wat insluit ‘n taamlik lywige skrywe van prof. Fanie Olivier met talle addenda (waarvoor ek hom bedank, omdat hy duidelik baie moeite gedoen het), asook Roodt se reaksie daarop.

Daar is ‘n legio argumente aan albei kante. Let egter daarop dat dit nie my taak is om te beslis wie reg en wie verkeerd is nie – my kantoor is nie ‘n hof nie. Soms is dit natuurlik wel moontlik om so ‘n beslissing te maak, maar soms is dit inderdaad nie. My beoordeling gaan primêr oor die gehalte van die joernalistiek.

Dit sal geen sin maak om die argumente wat ek in my bevinding hierbo genoem het, hier te herhaal nie – elke hofie hieronder bevat slegs die nuwe inligting/argumente. Hierdie addendum moet daarom saam met die voorafgaande ontleding gelees word.

Hoewel Olivier ‘n saak daarvoor uitmaak dat Pretoria-PEN wel as sentrum vir alle Afrikaanse skrywers dien, gaan ek dié kwessie nie hier hanteer nie omdat die koerante my bevinding in hierdie verband aanvaar het – ek fokus immers net op die elemente wat die aansoek om appèl raak.

Nêrens aangehaal nie (Beeld)

Beeld sê dat Roodt wel daaroor ingelig is dat sy kommentaar nie betyds was vir die kunsblad se saktyd (12:00) nie en voeg by dat hy geen beswaar gehad het nie. Sy kommentaar is wel die dag daarna gepubliseer – wat volgens die koerant meer blootstelling aan Roodt gegee het as wat dit die geval met die eerste berig sou gewees het. Die koerant sê dat dit daarom nie nodig is om Roodt om verskoning te vra nie, en stel dit dat die tweede berig baie meer werd was as ‘n verskoning wat maande later gepubliseer word.

Roodt ontken dat hy “toestemming” sou verleen dat die eerste berig sonder sy kommentaar geplaas mag word.

Die koerant het geen nuwe dokumentasie in hierdie verband voorgelê nie.

Ek het die die dokumentasie tot my beskikking weer bestudeer – en tot dieselfde gevolgtrekkings gekom.

‘Toe-eien’ (Beeld en Die Burger)

Die koerante verduidelik: Die oorspronklike Pretoria-PEN is in 2005 gestig, en is in 2006 deur PEN Internasionaal erken. Daarna is geen bestuurs- of jaarvergaderings gehou nie en die organisasie het vir alle praktiese doeleindes doodgeloop. Roodt het egter skielik in 2011 weer aktief in sy destydse pos van voorsitter geword, en selfs sonder die toestemming van die destydse gekose bestuur namens Pretoria-PEN na Egipte gereis en daar opgetree. Hy het ook sy vrou en andere in die bestuur gekoöpteer en beplan om ‘n bestuurs- en jaarvergadering te hou. Olivier en Miles het toe ‘n internet-verkiesing gehou, waarin 22 lede teen 10 hulle die groen lig gegee het om Pretoria-PEN te herstruktureer. Daarna het Roodt ‘n Skype-bestuursvergadering gehou, wat net deur hom en sy vrou “bygewoon” is. Hulle het besluit hulle is ‘n kworum en neem allerlei besluite, onder meer oor ‘n jaarvergadering, en stuur ‘n notule uit. Olivier maak beswaar, maar Roodt gaan voort asof die internet-verkiesing nooit gehou is nie. Roodt hou ‘n jaarvergadering met net 5 lede; hulle besluit egter hulle is ‘n kworum en gaan daarom voort met die vergadering. Toegewysde stemme word dan gebruik vir besluite.

Die koerante verwys ook na:
  • ‘n epos van Roodt (gedateer 25 Oktober 2011) waarin hy sê dat hy “verknog” is aan PEN; en
  • Roodt se teenkanting teen ‘n poging om ‘n nuwe skrywersorganisasie te stig.

Uit al bogenoemde, konkludeer die koerante, is dit duidelik dat die joernalis geregverdig was om te skryf dat Roodt die organisasie vir homself sou “toe-eien”.

Olivier sê dat Roodt nooit ná 2006 deur Pretoria-PEN verkies is nie en nogtans in 2011 opgetree het asof hy steeds die president van dié organisasie sou wees – en argumenteer dat dit strydig is met normale demokratiese beginsels en selfs met die bepalings van die organisasie se konsep-grondwet. Hy voer aan dat Roodt nooit vergaderings gehou het of finansiële verslae aan lede deurgegee nie. “Hieruit is dit duidelik dat hy Pretoria-PEN oor die jare as sy eie persoonlike organisasie beskou het.”

Hy voeg onder meer die volgende by om te bewys dat Roodt wel die organisasie vir homself sou toe-eien:

  • Hy is ongeneë om hom nie weer verkiesbaar te stel nie;
  • Hy hou nie vergaderings nie, om sodoende beheer oor Pretoria-PEN te behou;
  • Hy moedig lede aan om die internet-verkiesing te ignoreer;
  • Hy kan/wil nie die organisasie se grondwet aan lede beskikbaar stel nie; en
  • Hy gee kennis van ‘n jaarvergadering, sonder om die bestuur daarin te ken.
Roodt reageer hierop soos volg:
  • Pretoria-PEN het nooit doodgeloop nie, en hy het sedert 2006 onder meer ‘n webwerf bygehou, ledegeld ingesamel, met PEN Internasionaal gekorrespondeer en verslag aan dié organisasie gedoen, verskeie PEN-vergaderings (internasionaal) bygewoon, korrespondensie gevoer, met instansies oor samewerking onderhandel, en meegewerk aan die opstel van ‘n verslag van meer as 10 000 woorde oor die taalsituasie in Suid-Afrika;
  • Olivier se reëling dat almal wat nie teen sy voorstel (internet-verkiesing) sou stem nie as sy ondersteuners gereken sou word, was absurd;
  • Hy sê dat die internet-verkiesing ongeldig was;
  • Hy sê “verknog” beteken nie “toe-eien” nie; en
  • Sy teenkanting teen die te stigte Skrywersunie was omdat hy die onafhanklikheid van so ‘n liggaam bevraagteken het.

Sy hoof-argument teen die stelling van “toe-eien” is waarskynlik verwoord in ‘n dokument waarin hy sy teenkanting teen die internet-verkiesing motiveer. Daarin skryf hy dat hy steeds die erkende president is “wat slegs by ‘n behoorlik gekonstitueerde jaarvergadering verwyder mag word”. Hy skryf ook aan Olivier: “Die vorige jaarvergadering wat ek gereël het, is weens swak bywoning afgestel en dus het ek voortgegaan om as president of voorsitter te dien.” (eie kursivering)

Nou: Die vraag is of die joernalis die term “toe-eien” regmatiglik gebruik het. Ek let weer eens op dat die storie dit nie aan ‘n bron toedig of dit kwalifiseer nie, maar dit as ‘n feit stel.

Die een kant voer naamlik aan dat Roodt se mandaat verstryk het omdat hy nooit herverkies is nie (en dat sy optrede deels as gevolg daarvan daarom as toe-eiening beskryf kan word); Roodt argumenteer daarenteen dat hy slegs by ‘n behoorlik gekonstitueerde jaarvergadering as president verwyder mag word (wat natuurlik nie gebeur het nie) en dat sy optredes sedert 2006 daarom regmatig was (omdat hy bloot sy plig as president uitgevoer het, wat beteken dat sy aktiwiteite nie as toe-eiening bestempel kan word nie).

Watter een van dié twee standpunt is korrek? Albei het meriete, in ‘n mindere of meerdere mate.

Een ding is duidelik – die antwoord op die vraag of Roodt die organisasie vir homself sou toe-eien, is‘n kwessie van interpretasie. Dit hang af van deur watter bril jy kyk.

Ek gaan en kan nie een van daardie brille opsit nie; my taak is eerder om te beslis of die joernalis geregverdig was in haar woordkeuse of nie.

Sy was nie.

Dis die punt: Omdat dit hier gaan om interpretasie, het die koerant gefouteer deur sy mening as die waarheid aan te bied – terwyl daar ‘n ander moontlike interpretasie is. Dit sou ‘n ander saak gewees het as die storie die “toe-eien” as ‘n interpretasie, ‘n mening of ‘n bewering aangebied het.

Ek volstaan dus met my bevinding.

Egter: ek gaan my optrede “versag”, omdat die moontlikheid bestaan dat die koerant se interpretasie korrek kan wees en ek nie aan die koerant kan sê dat sy interpretasie verkeerd is nie. (In welke geval die storie nog steeds moes aangetoon het dat dit interpretasie is.)

Vergaderings, grondwet (Beeld en Die Burger)

Die koerante noem slegs hierdie kwessie in hul aansoek om appèl, maar bied geen verdere argumente aan nie.

Olivier skryf egter heel uitvoerig hieroor. Hy ontken dat daar bestuursvergaderings gehou is – hy sê nog hy (as onder-voorsitter), nog Pieter Haasbroek (as tesourier) dra enige kennis hiervan. Hy sê ook dat daar geen rekord is van ‘n jaarvergadering waar ‘n grondwet aanvaar is nie – hyself noem dit telkens ‘n “konsep-grondwet”. Hy argumenteer dat daar geen geldige grondwet bestaan het voordat daar met die “hersiening” daarvan begin is nie.

Hy noem ook dat ek ‘n verkeerde afleiding gemaak het deur Roodt en die tesourier se vergadering as ‘n “bestuursvergadering” te beskryf. As rede hiervoor voer hy aan dat die tesourier se verkiesing ultra vires was.

Hieruit lei hy af dat daar geen rede bestaan waarom die koerante Roodt in hierdie verband om verskoning hoef te vra nie.

Ek lewer puntsgewys kommentaar:
  • Ek is in geen posisie om te bepaal of die tesourier se verkiesing ultra vires was of nie, en gevolglik of die byeenkoms daarom ‘n legitieme bestuursvergadering was of nie – ek gaan daarom my vorige bevinding oor hierdie saak (lees: bestuursvergadering) herroep en dit stel dat ek in hierdie verband geen bevinding kan maak nie; en
  • Oor die grondwet: Olivier verwys telkens na ‘n “konsep-grondwet”, tog lees die opskrif van die dokument waarna hy my verwys “Grondwet”; verder verstaan ek nie hoe PEN-Internasionaal vir Pretoria-PEN kon aanvaar het sonder ‘n geldige grondwet nie. Ek meen dus dat dit redelik moontlik is dat daar wel ‘n geldige grondwet bestaan.
Eie vergadering (Beeld)

Beeld verwys ter motivering na sy en Olivier se argumente wat reeds hierbo behandel is.

Olivier voer ‘n reeks argumente aan op grond waarvan hy tot die gevolgtrekking kom dat die joernalis geregverdig was om die term “eie vergadering” te gebruik.

Dit is hier weer eens (soos onder die hofie “Toe-eien”) ‘n saak van argumente aan albei kante, wat elk hul eie meriete het. Weer gaan dit om interpretasie – wat die storie egter as ‘n feit aanbied.

Soos by “toe-eien”, handhaaf ek daarom weer my bevinding, maar gaan my optrede hier ook “versag” – om dieselfde rede as wat ek hierbo genoem het.

Stelling nooit gemaak nie: ‘On-swart Afrikaanse belange’ (Beeld en Die Burger)

Beeld en Die Burger stel dit as ‘n “feit” dat die gewraakte woorde wel op Praag se webtuiste verskyn het, en dat iemand dit later moes verwyder het (dis hoekom ek dit nie daar kon vind nie). Die publikasies sê dat die betrokke beskrywing “direk geneem (is) uit die betrokke webtuiste se metadata”.

Die koerante verduidelik dat, omdat die beskrywing steeds op Google se soekresultate te sien is, die woord “ongetwyfeld” op Praag se webwerf moes gewees het en dat daar menslik en tegnies gesproke geen moontlikheid is dat dit nie die geval was nie.

Roodt ontken dat die uitdrukking oo die webwerf se metadata verskyn. Hy beweer dat ‘n derde party, moontlik ‘n Naspers-werknemer (“want watter ander organisasie het ‘n belang daarby om my swart te smeer?”), hierdie inligting onder die afdeling “World: Afrikaans: Samelewing: Debat” aangebring het.

(Ek maak later algemene opmerkings oor hierdie saak.)

Hy sê hy het ‘n internet-argief by http://wayback.archive.org/web/*/http://praag.org geraadpleeg en konkludeer: “Ons het die voorblad sedert 19 Junie 2000 gekontroleer en telkens na die bladsybron van die voorblad gekyk waar enige metadata in die HTML sou verskyn. Nêrens op enige voorblaaie oor die afgelope twaalf jaar kon ons dit vind nie.”

Omdat ek nie ‘n internet-tegnikus of –kenner is nie, het ek kers opgesteek by die tegnikus wat by ons werksaam is. Sy stem nie saam met die koerante se argument dat die woord op Praag se webwerf móés gewees het nie; sy meen ook dat die internet-argief  waarheen Roodt my verwys het, ‘n nuttige manier is om inligting op te spoor. Ek het self daarin rondgedelf, maar – soos Roodt – geen spoor van ‘n verwysing na “on-swart Afrikaanse belange” daarin gevind nie.

Daar is wel talle webtuistes wat die woorde in dispuut bevat in hul beskrywing van Praag – maar ek kon geen bewys vind dat daardie woorde ooit deur Praag self of deur Roodt gebruik is nie.

Skade aan openbare beeld

In my Optrede het ek gevra dat die koerante moet skryf dat hul verslaggewing “moontlik onnodige skade aan Roodt se openbare beeld berokken het”.

Beeld en Die Burger voer aan dat Roodt ‘n openbare figuur is wat by Afrikaanse belange en politiek betrokke is – as sulks het hy beslis ‘n “heelwat dikker vel opgebou” as die gewone landsburger. Tog het hy al byna ‘n gewoonte-klaer geword.

Die koerante verwys ook na Roodt:
  • se lastereis van R600 000, wat die hof met koste van die hand gewys het;
  • se kritiek op die Persombudsman, wat bloot ‘n verlengstuk van groot media-groepe sou wees en dat Suid-Afrikaners kwalik enige beskerming of billike behandeling uit daardie oord kan verwag;
  • wat self nie sou huiwer om “moontlik” ander mense se openbare beeld skade te berokken nie (met verwysing na die DA-leier Helen Zille); en
  • se media-verklaring (wat hoofsaaklik opmerkings oor wit en swart mense bevat).

Die koerante konkludeer dat ‘n man wie se openbare beeld só in openbare plekke soos die hof en internet beskryf word sonder dat hy daarteen beswaar maak, kon beslis nie moontlik skade berokken word deur hul beriggewing nie.

Ek verskil hiermee, en sal bogenoemde puntsgewys hanteer:

  • Die koerante se argument dat Roodt ‘n dikker vel as gewone landsburgers het, is irrelevant – die moontlike skade (let wel, ek het gepraat van “moontlik onnodige skade”) gaan immers oor perspektiewe wat by die publiek geskep word, en nie oor die manier waarop Roodt hierdie skade en/of perspektiewe hanteer nie (ek het vrede met Roodt se gewaande dik vel);
  • Al is Roodt ook ‘n gewoonte-klaer, is dit nog steeds hierdie kantoor se primêre plig om na die gehalte van joernalistiek te kyk, en nie in die eerste plek na klaers nie;
  • Die lastereis het daaroor gegaan dat die koerante Roodt ‘n rassis genoem en met apartheid verbind het – ek het die koerante op hierdie punt reeds gelyk gegee en Roodt se klag in hierdie verband van die hand gewys (let daarop dat sy klag hier om “regs” en “omstrede” gegaan het, en nie spesifiek om “rassis” nie – tog is hierdie sake verwant aan mekaar; ook dat ek nêrens gesê of geïmpliseer het dat die skade wat Roodt moontlik aangedoen is oor rassisme, regsheid of omstredenheid handel nie);
  • Ek verwerdig my nie om op Roodt se kritiek op die Persombudsman te reageer nie, behalwe om te sê dat ek dit nie in my oorwegings in ag neem nie – en allermins dat ek op plekke in sy guns bevind net om hom verkeerd te probeer bewys;
  • Die feit dat Roodt moontlik ander mense skade sou berokken, is irrelevant – dit gee nie koerante &