Andre Bekker vz. Huisgenoot

Bevinding deur die Persombudsman

15 Februarie 2015

Hierdie bevinding is gebaseer op die skriftelike voorleggings van mnr. André Bekker en dié van die betrokke joernalis, Jana van der Merwe, en Huisgenoot se interne ombudsman, Johannes de Villiers.

Klag

Bekker kla oor ? artikel in Huisgenoot op 27 November 2015 onder die opskrif Herrie oor ‘geneesde gay’ – André beweer terapie het hom heteroseksueel gemaak, maar ander vertel van die skade van sulke behandeling.

Hy kla dat die teks nie dieselfde was as die een wat aan hom gestuur is vir goedkeuring nie; inteendeel, “[d]it is duidelik dat die artikel wat verskyn het niks anders is as gay propaganda om die gays se saak te bevorder nie”.

Hy sê Huisgenoot het hom mislei en onder valse voorwendsels met hom ? onderhoud gevoer. Hy noem dit onetiese gedrag en voer aan dat die tydskrif nie sy toestemming gehad het om die artikel te publiseer soos dit verskyn het nie.

Die teks

Die artikel, geskryf deur Jana van der Merwe, vertel die verhaal van Bekker wat ná vier jaar van sielkundige behandeling “in ? heteroseksuele man verander [het]wat glad nie meer soos destyds na ander mans kyk nie”.

Bekker het na berig word twee kerklike meningsvormers, dr. André Bartlett en die kerksake-joernalis Jean Oosthuizen, by die Menseregtekommissie aangekla omdat hulle sou gesê het dis onmoontlik vir gay mense om heteroseksueel te word. Hy voer aan dat hulle hom op Facebook belaster het.

Die argumente

Van der Merwe sê sy het wel sommige van Bekker se voorgestelde veranderings aangebring “om die feite meer akkuraat te maak” – uitgesonderd die veranderinge wat hy aan direkte aanhalings wou maak.

Sy sê sy het ook vir Bekker ingelig dat sy kommentaar moes insluit van die mense wat oor dieselfde saak in Beeld aangehaal is.

Sy het daarna die artikel vir haar nuusredakteur aangebied. 

Van der Merwe sê toe Huisgenoot se herskrywer in Kaapstad, Johannes de Villiers, haar eerste teks ontvang het, het hy besluit dit was nie gebalanseerd of in die openbare belang om Bekker se storie as alleenstaande teks aan te bied nie – dit kon naamlik families benadeel het omdat dit die indruk kon wek dat die tydskrif Bekker se storie onderskryf (mense kon glo dat ouers hul gay kinders vir terapie kon neem en dat hulle ook kon “verander”, of voel dat gay-wees abnormaal is en iets wat reggestel moet word).

Daar is toe besluit dat die artikel wel geplaas moet word, maar dat dit verkort en meer gebalanseerd gemaak moes word deur met mense te praat wat, anders as Bekker, teen terapie gekant was.

“Ná al hierdie strukturele veranderings in die artikel het ek gevoel dit was nie nodig om mnr. Bekker daaroor in te lig nie omdat ek gemeen het die kern van hoe hy na bewering ‘verander’ het van gay na straight en gelukkig getroud steeds gereflekteer was. Die feitelike veranderings wat ek en mnr. Bekker bespreek het, is ook behou,” voeg sy by.

Bekker reageer soos volg op hierdie verweer, met Van der Merwe se reaksie daarby:

Bekker

Van der Merwe

Hy was nie ingelig dat kommentaar van ander mense in die artikel ingesluit sou word nie; hy is onder die indruk gebring dat die storie eksklusief oor hom sou handel.

Die beginsel van audi alteram partem bepaal dat kommentaar van alle betrokke partye ingesluit moet word. Sy hoef nie Bekker se verlof daarvoor te gevra het nie.

Die joernalis het nooit aan hom genoem dat die artikel “gebalanseerd” moes wees of “in die openbare belang” nie.

Dit was vanselfsprekend dat die artikel gebalanseerd en in die openbare belang moes wees, sodat mense ingeligte besluite kon neem.

De Villiers het die artikel verander om by sy gay agenda te pas, omdat hy blykbaar glo dat gay mense nie kan verander nie.

Dit is onduidelik waarop Bekker sy aanname baseer dat Huisgenoot ? “agenda” het. Die tydskrif bied gebalanseerde verslaggewing, terwyl alle bronne billik en met respek behandel word – soos wat in hierdie geval gebeur het.

Sy storie is geminimaliseer en die invoeging van woorde soos “beweer” of “na bewering” het vraagtekens agter sy ervaring geplaas.

Huisgenoot kan nie toets of Bekker se seksualiteit regtig verander het nie – vandaar die gebruik van die woorde “beweer” en “na bewering”.

Hy is vir die doeleinde van pro-gay

propaganda “gebruik”.

Bekker is nie “gebruik” nie. Deur homself in die openbaar as ? “ex-gay” aan te bied en deur aan openbare besprekings in die kerk deel te neem, het hy gekies om deel van die debat te wees. Hy het sy toestemming gegee vir die onderhoud en het selfs die geleentheid gehad om seker te maak dat hy korrek aangehaal word.

Die artikel maak geen melding van sy bediening (hulp aan mense met ongewenste selfde-seks oriënterings) of dat sy verhouding met God ? groot rol in sy verandering gespeel het nie. Sy storie het nou ? negatiewe prentjie geword. Dit is gedoen om politiek korrek te wees en om sy siening as téén die openbare belang aan te bied. 

Bekker is nie in ? negatiewe lig gestel nie – die artikel het sy kant van die saak gestel sonder enige vooroordeel; dit het ook die mening van kenners aangebied wat met hom verskil het.

Hy het nooit gesê dat hy heteroseksueel is of geword het nie – het het homself as ? voormalige gay persoon geïdentifiseer. Dit is ? ander oriëntasie as heteroseksualiteit. Huisgenoot het nie sy oriëntasie gerespekteer nie.

Bekker is nou in ? heteroseksuele verhouding met sy vrou. Die storie het dit duidelik gemaak dat hy voorheen homoseksueel was.

Die artikel het ? instrument geword waardeur Bartlett en Oosthuizen nog ? kans gekry het om hom oor sy seksuele oriëntasie te belaster.

Bekker het Bartlett en Oosthuizen by die Menseregtekommissie verkla – dit was dus noodsaaklik om hulle die kans te bied om hul kant van die saak te stel.

Huisgenoot het skade aan sy openbare beeld gedoen. Dit was nie in die openbare belang nie, omdat daar baie voormalige gay mense is wat kan getuig hoe hulle verander het.

Dit was nie Huisgenoot se bedoeling nie. Bekker interpreteer die artikel as ? aanval op hom, bloot omdat albei kante van die saak gestel is.

De Villiers reageer ook op Bekker se klag. Hy argumenteer dat die artikel nuuswaardig was – Bekker het homself in die kollig geplaas en sy seksuele identiteit aangebied as ? faktor wat in berekening gebring moet word wanneer die kerk oor gay mense besin.

Terselfdertyd is die storie verantwoordelik aangebied, sonder dat dit mense onnodig kon benadeel. Hy sê: “There is an overwhelming opinion in mainstream psychiatry that ‘gay conversion’ therapy mostly does not work and can even be harmful. If we had told Mr Bekker’s story without including comments by psychologists to this effect, we would in fact have been very irresponsible and which could have led to some readers pursuing a therapy that does not work and which can harm them. So in the interest of portraying both sides, we balanced Mr Bekker’s story with the mainstream scientific psychiatric view.”

De Villiers voeg by dat die tydskrif nie sy reg opgehef het om later veranderinge aan te bring net omdat Van der Merwe voor publikasie haar artikel vir Bekker aangebied het nie – solank die teks nie sy aanhalings of hoe hy uitgebeeld is verander het nie.  

Die interne ombudsman ontken dat die tydskrif vir Bekker mislei of misbruik het.

Hy sê: “At Huisgenoot we are upfront about our values and we have no hidden agendas. In our comments and reporting we do subscribe to the values of the South African Constitution and Press Code, which includes not engaging in reporting that can harm vulnerable groups or sexual minorities. Creating the impression that ‘gay conversion therapy’ is a feasible form of treatment, would have been at odds with these values.”

Bekker sê dit is verbasend dat Huisgenoot hom besig hou met die beoordeling van wetenskap – dit is nie vir ? joernalis om dit te doen nie. Hy sê hy is besig met daardie taak, en is gevolglik ingelig oor ? mening wat van dié van De Villiers verskil.

Die artikel het boonop nooit kenners wat die “ander standpunt” huldig om kommentaar genader nie – wat juis in die openbare belang sou wees.

Met verwysing na die artikel in die Perskode wat oor kwesbare groepe en minderhede handel, voeg Bekker by dat Huisgenoot in ag moes geneem het dat voormalige gay mense ook so ? kwesbare groep is.

Hy wil ook weet waarom die indruk gewek word dat “gay-bekering-terapie” as ? uitvoerbare terapie teen die waardes van die Grondwet en die Perskode sou wees (soos De Villiers aanvoer). “Daar is genoeg wetenskaplike getuienis dat mense kan verander. Dit verskil van mnr. De Villiers se mening, maar dit neem nie die geldigheid daarvan weg nie.”

Ontleding

Die vraag of die betrokke artikel verander/aangepas is nadat dit aan Bekker voorgelê is, is nie in dispuut nie.

Die volgende kwessies is wel:

·         Was dit oneties van die tydskrif om die artikel, ná dit aan Bekker voorgelê is vir “goedkeuring”, sonder sy medewete te verander? en

·         Het die artikel wat uiteindelik geplaas is, wesenlik aan Bekker se storie verander?

Die eerste vraag is meer ingewikkeld as wat dit op die oog af kan lyk.

Eerstens, dit is ? vraag hoe wenslik dit vir ? joernalis is om teks vóór publikasie aan ? betrokkene voor te lê. Die probleem is dat die dokument in daardie stadium selde die eindproduk verteenwoordig omdat dit nog aan verandering onderworpe is – dit kan daarom verkeerde verwagtings by die betrokkene skep.  

Daar is egter niks mee verkeerd nie om by die inligtingsbron seker te maak dat feite, inligting of aanhalings korrek is.

Ek let in hierdie verband op dat Van der Merwe nie vir Bekker gevra het of hy tevrede is met die artikel nie – haar woorde was: “Kyk asb vir my of al die feite reg is.”

Oor die algemeen kan gesê word dat die pers die reg het om teks te verander nadat dit vir goedkeuring aangebied is. Veranderings, as sodanig, is nie oneties nie – dit hang af van wat verander word en hoekom dit gedoen is.

By die lees van al die betrokke dokumente is ek tevrede dat die teks nié Bekker se storie wesenlik verander het nie. Sy kant van die saak is gestel, sonder dat die artikel die kern daarvan verander of bevraagteken het.

Ek is veral tevrede dat Van der Merwe voldoen het aan Bekker se versoek, naamlik dat sy nie die woord “genees” moet gebruik nie, maar eerder die woord “verander”. Daar is ? verskil tussen die twee begrippe, en ek verstaan dat dit vir Bekker belangrik was om die eerste term te vermy.

Wat die byvoegings betref waarvan Bekker nie bewus was nie, meen ek dat Huisgenoot goed gedoen het deur die ander kant van die saak te stel. De Villiers moet inderwaarheid geluk gewens word met sy redenasie en besluit in hierdie verband.

Daarom het ek ook geen probleem met die “hoekom” van die byvoegings nie – ook nie met die feit dat dit sonder Bekker se medewete gedoen is nie – en glo allermins dat die eindproduk op gay propaganda neerkom. Dit beteken dat ek ook aanvaar dat Huisgenoot nie onder valse voorwendsels ? onderhoud met Bekker gevoer en hom in dié proses mislei het nie.

Huisgenoot se redenasie dat Bekker gekies het om deel te wees van die openbare debat, en dat hy nie kan verwag dat net sy kant daarvan blootstelling moet geniet nie, is ook geldig.

Ek aanvaar daarom dat die tydskrif:

·         nie vir Bekker mislei het nie;

·         die openbare belang gedien het; en

·         die artikel gebalanseerd aangebied het en dat dit nie op gay propaganda neergekom het nie.

Die enigste kritiek is teen die opskrif (Herrie oor ‘geneesde gay’), wat die woord “genees” gebruik het en, anders as deur die Perskode voorgeskryf, nie die inhoud van die teks behoorlik weerspieël het nie.

Bevinding

Die klag word van die hand gewys, met die uitsondering van die opskrif, wat Art. 10.1 van die Perskode verbreek het. Dit lui: “Headlines … shall give a reasonable reflection of the contents of the report … in question.”

Erns van oortreding(s)

Onder die opskrif Hierarchy of sanctions onderskei Artikel 8 van ons Klagteprosedure tussen minder ernstige oortredings (Vlak 1), ernstige oortredings (Vlak 2) en ernstige wangedrag (Vlak 3).

Die verbreking van Artikel 10.1, soos hierbo aangedui, is ? Vlak 2-oortreding.

Sanksie

Huisgenoot word berispe omdat die woord “geneesde” in die opskrif verskyn het, terwyl dié woord doelbewus – en met rede – uit die teks gelaat is.

Die tydskrif word versoek om hierdie sanksie te publiseer, en die berig voor publikasie aan my beskikbaar te stel vir goedkeuring. Dit staan die publikasie vry om ook te berig oor die res van die bevinding, wat in Huisgenoot se guns is.

Gebruik asseblief die volgende sin aan die einde van die teks: “Besoek www.presscouncil.org.za vir die volledige bevinding.”

Aansoek om verlof tot appèl

Ons klagte-prosedure bepaal dat enige party binne sewe werksdae ná die ontvangs van hierdie beslissing aansoek om appèl kan aanteken by die Voorsitter van die Appèlkomitee, regter Bernard Ngoepe. Gronde vir die appèl moet duidelik uiteengesit word. Hy kan by khanyim@ombudsman.org.za bereik word.

Johan Retief

Persombudsman